Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Onstuitbare Basson bring ‘Die gangsters’ na Suidoosterfees
Marthinus Basson

Marthinus Basson is ’n tipiese ram. Dié sterreteken se mense is mos nie onder te kry nie. Waar hulle nie kan loop nie, daar kruip hulle.

Basson het pas weer bewys dat hy hom nie laat afskrik deur enige uitdaging in die teater nie. Dan doen hy dit boonop op só ’n manier dat sy werk pryse inryg en die akteurs wat onder sy hande deurloop eweneens presteer.

Dis seker nie altyd maklik nie, soos Antoinette Kellermann op die pas afgelope Kanna-prysuitdeling gesê het terwyl sy aan haar lang, grys hare trek: “Sien, so lyk ek van al die jare saam met Marthinus werk.”

Die drama Koningin Lear is met agt Kanna-pryse bekroon waarvan een vir Basson vir beste regisseur was. Dit was ook die beste teateraanbieding op die KKNK.

Slegs tien dae voor die Kannas is hy ook as beste regisseur aangewys van Die gangsters. Die stuk is ook bekroon as beste produksie op die US Woordfees.

Goeie nuus is dat albei produksies ook in Kaapstad te sien sal wees. Koningin Lear sal later vanjaar in die Baxter-teater opgevoer word en Die gangsters op die Suidoosterfees wat van 25 April tot 1 Mei in die Kunstekaap gehou word.

Groot rolverdelings bly ’n probleem, sê Basson. Die gangsters het ’n nog groter rolverdeling as Koningin Lear, maar ook ’n besonderse een. Basson het dit in die 1990’s opgevoer met ’n groep studente. Met die uitsondering van twee, is dieselfde mense weer in die stuk.

Toe Die gangsters die eerste keer in Stellenbosch opgevoer is, was dit midde-in ’n oorlog tussen twee groepe bendes. Een aand het een van die akteurs nie opgedaag nie en Basson het later eers uitgevind dat die akteur onder ’n bed moes wegkruip uit vrees vir sy lewe. Tydens die speelvak is iemand reg voor die teater doodgeskiet. Drie van die akteurs was ook lede van bendes.

Bende-oorloë is steeds nie iets van die verlede nie en die stuk is daarom steeds relevant.

Basson beskou Die gangsters as ’n huldeblyk aan die dramaturg van die stuk, Benoni Dehaeck, vir wie hy ’n groot bewondering het. Dit was ook deur Dehaeck se toedoen dat die hele groep destyds België toe kon gaan om dit daar op te voer.

Dis Basson se eerste keer op die Suidoosterfees.

“Ek is so dankbaar dat Nati dit vir ons moontlik gemaak het. Dis ’n baie waardige stuk en ek sien ontsettend uit na die fees.”

Aangesien dit ’n paar jaar is sedert die groep dit laas opgevoer het, gaan daar nou ’n ouer en sterk groep gesien word.

“Dit het beslis gegroei en dit is wonderlik dat die gehore op die Woordfees daarby aanklank gevind het.

Die stuk gaan oor ’n samelewing wat ly onder magstrukture en mense wat deur die krake val, sê Basson. Daar word gekyk na die gevolge vir mense wat maar net probeer om ’n gewone lewe te leef. Kwessies soos demokrasie, persoonlike vryheid en die verhouding tussen goed en kwaad word ondersoek.

Van die bekendste akteurs in die stuk is June van Merch, Stian Bam en Basil Appollis.

Basson is ook die regisseur van MI(SA) wat ook op die Suidoosterfees opgevoer word. Dis ’n drieledige uitvoering bestaande uit Missa Luba, Misa Criolla en ’n nuwe Suid-Afrikaanse mis deur Antjie Krog en musiek deur Antoni Schonken.

* Die gangsters word op Donderdag 25 en Saterdag 27 April om 20:15 opgevoer. Daar is ook ’n voorskou op Woensdag 24 April om 20:00.

Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Koningin Lear  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.