Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Over There’ is hoogs bevredigende ervaring

Over There

Alexander Upstairs-teater

****

Vandeesweek is dit 27 jaar sedert die val van die Berlynse Muur, so lank soos oud-pres. Nelson Mandela ’n gevangene was voordat hy met sy mense verenig is. Nou dreig nog ’n muur ná die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing.

Is dit dan bloot toeval dat daar tans twee toneelproduksies in die Moederstad is met die val van daardie veragtelike simbool van verdeling as vertrekpunt en die hereniging van twee helftes as doelwit, naamlik die musiekbly­spel ­Hedwig and the Angry Inch in Gate69 en Over There van die uitgesproke Britse dramaturg Mark Ravenhill by Alexander Upstairs? In die huidige politieke klimaat word dit noodsaaklike kykstof, hoewel nie een van die twee produksies maklike oplossings bied nie.

Die regisseur Fred Abrahamse het al vroeg in sy loopbaan ’n Ravenhill-drama aangepak met ’n uithaler-rolverdeling toe hy in 1999 die Gauloises Warehouse in Groenpunt met die omstrede Shopping and Fucking geopen het. Hy is daardie jaar as beste regisseur bekroon en die toneelstuk is as die beste produksie aangewys.

Nou bring hy Ravenhill se Over There, waarin die verhouding van identiese tweelingbroers, Franz (Francis Chouler) en Karl (Marcel Meyer), dien as metafoor vir die verskynsels en gebeure om die ontstaan en hereniging van Oos- en Wes-Duitsland en die onafwendbare gevolg waar een kultuur die ander oorheers en uiteindelik insluk.

In die onlangse Londense produksie het die regisseur die luukse gehad om met ’n regte identiese tweeling te werk, Luke en Harry Treadaway, maar Abrahamse weet die suggestie van soortgelykheid is genoeg.

Meyer blink uit as die meer robuuste, aanvanklik optimistiese broer van die sogenaamde verkeerde kant van die Ystergordyn.

Chouler se vertolking as deurgaans effe smalend en sinies sorg vir goeie kontras en later konteks vir Karl se hunkering na sy Oos-Duitse wortels hoe meer ontuis hy in die Weste voel.

Abrahamse se stel- en beligtingsontwerp is oorrompelend eenvoudig en tog uiters slim en innoverend, veral sy gebruik van die kleur teen ’n neutrale agtergrond. Sy ontwerp word puik aangevul deur meesleurende musiek wat die geheuebank tap en konteks verskaf sonder om die aandag van die gebeure af te trek, saamgestel deur die meesterlike Charl-Johan Lingenfelder.

Over There sorg vir ’n hoogs bevredigende teater­ervaring waar ’n sterteks en die uitvoering daarvan mekaar perfek vind danksy die sekure hand van ’n knap regisseur.

Weer van 14 tot 19 November. Bespreek by alexanderbar.co.za/show/overthere

Meer oor:  Verhoogstuk  |  Teater  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.