Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Party teaters lig die gordyn versigtig, ander bly donker

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa Woensdag aangekondig het dat vlak 1 van die staat van inperking Sondag om middernag in werking tree, bly die meeste teaters in Gauteng steeds vir die res van die jaar gesluit. Sommige klein teaters het wel stadig maar seker weer hul gordyne begin lig, berig AJ Opperman.

“Ek raak sommer hartseer as ek kyk hoe besig ons was en nou is dit amper ’n spookdorp.”

So sê Marlene Schmidt, bestuurder van die Centurion-teater in Pretoria, waar sake onlangs hervat is.

Die Centurion-teater in Pretoria. Foto: Marlene Schmidt

“Ons kry daagliks navrae oor skooloptredes en bestuurders van kunstenaars, maar almal wil bloed uit ’n klip tap. Maar met geloof sal alles weer regkom.”

Ingevolge die jongste regulasies kan teaters op vlak 1 hul gehore tot 50% van die kapasiteit opskuif, maar steeds onderhewig aan streng gesondheid- en veiligheidsmaatreëls.

Tans word net 50 gehoorlede per vertoning toegelaat, maar die kaartjieverkope sukkel.

Steve Hofmeyr het onlangs in die Centurion-teater opgetree, maar die konsert het nie “uitverkoop” nie.

“Ek skryf dit toe aan die kaartjieprys (R500); dit was ’n bietjie duur,” sê Schmidt.

Rocco de Villiers en Elvis Blue tree onderskeidelik op 4 en 8 Oktober hier op en dié besprekings vaar beter.

Rocco de Villiers

Die teater gaan 110 mense – die helfte van die teater se kapasiteit – op vlak 1 toelaat.

Die Centurion-teater het nog nie planne vir volgende jaar nie.

“Ek vat elke dag op sy eie. Die aanlyn vertonings gaan beslis voort, maar dit is darem nie dieselfde as ’n lewende vertoning nie en ons teatertjie is lekker intiem.”

Elvis Blue

Die Pierneefteater in Pretoria heropen die naweek met Lente – Uiteindelik, ’n konsert met Jannie du Toit, Susan Mouton (tjello) en Chanie Jonker (klavier en trekklavier).

“Al drie kunstenaars het besluit om voort te gaan, ongeag hoeveel mense bespreek,” sê Jopie Koen, eienaar en bestuurder.

“Dit is in vele opsigte ’n simboliese opening – kuns is groter as ’n virus. Ons het goeie hoop dat al 50 kaartjies sal verkoop.”

Die Pierneefteater in Pretoria. Foto: Jopie Koen

Met vlak 1 wat eers Sondagnag in werking tree, word steeds net 50 gehoorlede vir dié konsert toegelaat.

Die Pierneefteater beplan nie sy program baie lank vooruit nie, maar daar is reeds produksies vir Oktober en November bevestig.

“Die teater het toestemming van die departement van sport, kuns en kultuur gekry om oop te maak.”

’n Gesonde afstand word gehandhaaf.

“Daar is handreiniger by die ingange, alle konsertgangers se koors word gemeet en aangeteken en ’n volledige naamlys met selnommers en e-posadresse word gehou van almal wat kom. Daar is nie ’n pouse waarin mense dalk te naby aan mekaar kan staan en kuier nie en konsertgangers wat ná die tyd vir Jannie en sy begeleiers wil groet, sal dit buite die teater op ’n gesonde afstand doen.”

Almal moet ook maskers dra.

Koen sê al die reinigingsprotokolle skuif die bedryfskoste wel op, maar omdat die teater nie kos verkoop nie is dit nie so omvangryk en so ’n groot uitgawe nie.

Die Pierneefteater se aanlyn platform gaan voort.

Die Theatre on the Square in Sandton word nie vanjaar heropen nie.

“Dit bly steeds ’n gesondheidsrisiko,” sê Daphne Kuhn, stigter van dié teater.

“En ons kan dit nie bekostig om teater met minder gehoorlede aan te bied nie. Ons is boonop op soek na ’n nuwe borg omdat ons kontrak met Auto & General onlangs ná baie jare verstryk het.

“Ons was die afgelope ses maande gesluit sonder enige inkomste, terwyl uitgawes soos huur voortgaan.”

Kuhn het gehoop sy kon sake in die lente hervat.

“Dit was egter nie moontlik nie. Ons het ’n informele opname gedoen waarin dit blyk mense is steeds skrikkerig om in ’n beperkte ruimte bymekaar te kom. Ons het alles op vanjaar se program afgelas. Dit sal egter nie onmiddellik net aangebied kan word nie. ’n Mens moet elke konsert maande vooruit beplan ten opsigte van repetisies en bemarking.”

Sasolburg
Die Etienne Rousseauteater in Sasolburg.

Die Etienne Rousseau-teater in Sasolburg in die Vrystaat is voorlopig toe.

Herman van Niekerk, bestuurder, sê hoewel ’n beperkte gehoor nie finansieel haalbaar is nie, is daar uitsonderings.

“Dit hang af wat jou koste is vir dit wat op die verhoog gebeur. Om ’n teater te bedryf, kos min of meer dieselfde vir 456 mense (ons maksimum) as vir 50 mense. ’n Teater soos die Etienne Rousseau-teater het oorhoofse koste en noodsaaklike aktiwiteite, dienste en instandhouding wat altyd daar moet wees. Die aantal mense wat jy kan bedien, maak nie ’n verskil nie.

“ ’n Teater het baie elemente wat moet funksioneer en wat van byvoorbeeld elektrisiteit afhanklik is – die elektroniese apparaat moet reg werk en in stand gehou word, dieselfde geld klanktoerusting, asook die totale veiligheid in die teater – veral op die verhoog.”

Die duurste deel is gewoonlik die kunstenaars.

“Indien ’n mens minder mense mag toelaat, kan jy spaar op byvoorbeeld voorportaalpersoneel en aktiwiteite en op verhoogpersoneel. Die res kos dieselfde.”

Die teater het reeds aansoeke vir volgende jaar ontvang wat 30 dae van die kalenderjaar vul.

Daar is baie planne vir volgende jaar.

Die toneelstuk ‘Xova’ is in Desember in die Markteater op die planke.

Die Atterburyteater in Pretoria hou ’n eksklusiewe bekendstellingsgeleentheid van Mathys Roets se nuwe album, Reën, op 28 September.

Daarna heropen die teater met vertonings waar die gehoorkapasiteit tot 50% beperk sal word.

Produksies word nog beplan.

Die Markteater in Newtown in Johannesburg heropen op 4 Desember met die toneelstuk Xova.

Dit het Sondag vyf Naledi-teaterpryse ontvang, wat beste toneelstuk insluit.

Sandra Prinsloo in ‘Kamphoer’. Foto: Vrystaat Kunstefees

Kamphoer (met Sandra Prinsloo, gegrond op Francois Smith se gelyknamige roman) is die eerste produksie wat volgende jaar hier aangebied word,” sê Lusanda Zokufa, bemarker van die Markteater.

“Dit vorm deel van die vieringe wat ons vir die teater se 45ste verjaardag beplan.”

Mark Sage, bemarker van die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg, sê dié teater werk aan ’n program vir volgende jaar, maar dit moet bevestig word. Intussen bly dié teaters – die Pieter Toerien-teater, sowel as die Studioteater – vir die res van die jaar gesluit.

Erick Ndlala, bemarkingsbestuurder van die Staatsteater in Pretoria, sê daar is nog nie uitsluitsel oor wanneer dié teater sal heropen nie.

“Maar dit is nie te sê ons is vir die res van die jaar toe nie. Maar daar is nog nie nuwe produksies vir vanjaar nie.”

Intussen stroom die Staatsteater steeds konserte. Dit word vir ’n tydperk gratis aangebied, waarna kykers moet betaal.

Die Barney Simon-teater in die Markteater in Johannesburg. Foto: Suzy Bernstein

Joburg City Theatres, wat bestaan uit die Joburgteater in Braamfontein, die Soweto-teater in die suidwestelike deel van Johannesburg en die Roodepoort-teater aan die Wes-Rand, bied weer kleiner produksies aan terwyl ’n gesonde afstand gehandhaaf word.

Dit sluit in Dead End, ’n toneelstuk deur die dramaturg Zakes Mda, in Braamfontein en volgende week word ’n Seun na my hart, ’n toneelstuk deur die ontslape digter Ingrid Jonker, in die Roodepoortteater opgevoer.

“Baie van ons uitgestelde produksies word volgende jaar opgevoer,” sê Makhaola Ndebele, artistieke direkteur van Joburg City Theatres.

“Daar is wel ook nuwe werk onderweg. Die reiniging verhoog die koste en die gesonde afstande verlaag natuurlik die kapasiteit, wat inkomste verminder. Ons hoop ons sal nie weer die teater hoef te sluit nie.”

Meer oor:  Markteater  |  Staatsteater  |  Staat Van Inperking  |  Teater  |  Heropen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.