Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Paul Slab takel raskwessies in ‘Suddenly the Storm’

Terwyl rassisme steeds in Suid-Afrika kop uitsteek, is Paul Slabolepszy se bekroonde toneelstuk Suddenly the Storm weer op die planke in Johannesburg.

Dié drama, wat in 2017 die Naledi-prys vir die beste nuwe Suid-Afrikaanse teks gewen het, word van 12 tot 29 Maart in die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Fourways aangebied.

Paul Slabolepszy, Renate Stuurman en Charmaine Weir-Smith in die toneelstuk ‘Suddenly the Storm’. Foto: Suzy Bernstein

“Sedert dit in 2016 die eerste keer opgevoer is, was daar al ’n paar rassevoorvalle in die nuus,” sê Slabolepszy.

Hy verwys na die veroordeelde rassis Vicky Momberg en Adam Catzavelos, die man wat die k-woord op ’n Griekse strand geuiter het.

Skole behandel Suddenly the Storm as ’n drama, wat nog ’n rede is waarom dit weer op die verhoog is.

Sekere vertonings het ook ’n vraag-en-antwoord-sessie agterna.

“Nou is daar mense wat vra wanneer bring ons dit na die verhoog toe en dan sê ek maar ons het al!” sê Slabolepszy.

“Mense weet blykbaar nie daarvan nie.”

Hoewel dit ’n ernstige toneelstuk is, beklemtoon Slabolepszy die komiese inhoud.

“Jy sal lag. Dis nie ’n lesing nie. Mense het al agterna gesê die stuk was niks soos wat hulle verwag het nie. Hulle het dit baie snaakser gevind.”

Slabolepszy is een van die drie spelers saam met Charmaine Weir-Smith en Renate Stuurman.

Bobby Heaney is die regisseur.

Renate Stuurman en Charmaine Weir-Smith in ‘Suddenly the Storm’. Foto: Suzy Bernstein

“So ons is dieselfde mense wat sedert die begin saam aan die stuk gewerk het,” sê Slabolepszy.

Slabolepszy het aanvanklik sy karakter, Dwayne, ’n voormalige polisieman, met Marius Weyers in gedagte geskryf, maar hy het oplaas self die rol vertolk.

Dwayne, wat deesdae ’n skuldinvorderaar is, woon saam met sy veel jonger vrou, Shanell (Weir-Smith), aan die Oos-Rand.

Dan daag ’n vrou, Namhla (Stuurman), op die 40ste herdenking van die Soweto-opstande by hulle op. Sy is ook op 16 Junie 1976 gebore.

“Al daardie datums en gegewens is belangrik,” sê Slabolepszy.

“Daarom hou ons dit onveranderd. Ek skryf dikwels oor tydperke waar die verlede en die hede inmekaarvloei. Ons moet mekaar vind om Suid-Afrika te laat werk, om versoening teweeg te bring.

“Kyk hoeveel gees het ons as ’n land gehad toe die Bokke in November die Wêreldbeker gewen het. Ons moet na die verlede kyk en dit ondersoek. Dit is ’n toneelstuk van genesing.”

Slabolepszy beskryf teater as ’n heilige omgewing waar jy jou eie wêreld sien.

“Daar is sensitiewe oomblikke in die stuk. Die wit vrou van Boksburg vra vir die swart vrou of haar naam haar stamnaam is. Hierdie gesofistikeerde vrou van Londen wat by die egpaar in die Oos-Rand opdaag. Dis vir my nogal interessant om na die gehoor te luister op die oomblikke wat ek nie op die verhoog is nie. Die teater is ’n plek waar ons menslikheid verstaan.”

* Suddenly the Storm begin op 12 Maart.

Vertonings is Dinsdae tot Vrydae om 20:00, Saterdae om 16:00 en 20:00 en Sondae om 15:00. Kaartjies kos R100 tot R240. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Montecasino  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.