Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Pieter-Dirk Uys betower jong dramaturge by Teksmark
06 September 2018

Gister se swartskaap is vandag se Hertzogprys-wenner. En selfs met een van die grootste letterkundige pryse in die sak, het hy nog tekste in ’n boks onder sy bed.

Pieter-Dirk Uys kan nie help om in sy mou te lag vir die ironie nie.

In gesprek met Marthinus Basson by die pas afgelope Teksmark wat Maandag en Dinsdag in die Baxter-teatersentrum in Kaapstad gehou is, het hy aspirerende dramaturge en teksskrywers bemoedig met wat hulle kan bereik met hardkoppige volharding en ’n stewige skeut humor.

Pieter-Dirk Uys en Marthinus Basson aan’t korswel.

“Die teks is totaal onbelangrik,” het hy hulle ingelig.

“Dis die storie wat tel. Jou teks is die privaatste dinge op aarde. Moenie te haastig wees om dit sommer met enige iemand te deel nie. en moenie bang wees vir mislukking nie. Dis die sement vir die muur waarop jy eendag jou pryse gaan pak.”

Op tipiese Uys-manier het hy verskeie mites aangeraak.

“Skrywersblok? Nee wat, dit is eintlik maar net die skrywer se ego wat hier betrokke is. Wees bly as daar oomblikke van stilte kom en moenie sentimenteel wees oor jou skryfwerk nie. Skryf wat jy moet, sny dan die helfte en dan nog 50%.

“Pas op vir selfsensuur. Dis die ergste virus wat daar is en daar is nie ’n teenmiddel nie.

Met groot deernis het hy ’n student se vraag op hoe hulle dit in die bedryf kan maak, geantwoord.

“Die laaste ding wat die wêreld nodig het, is nog ’n aktrise. Elke mens het ’n unieke talent wat benut moet word. Wees jouself en ontwikkel wat jy het. Moenie spesialiseer nie en moenie bang wees om jou hande vuil te maak nie. As dit nodig is om die verhoog te skrop, doen dit.

“En moenie bang wees vir mislukking (nee, dis eintlik nie-sukses). Jy mag ook nie bang wees om alleen te wees nie.”

Uys het die gehoor vermaak op staaltjies uit sy unieke en interessante loopbaan. Hoe onmoontlik van die vertellings ook al vir jong skrywers van vandag geklink het, Basson was daar om alles te beaam.

Hy het vertel van die eerste dae van die Ruimte-teater – die enigste plek in die land waar in die tyd van apartheid gemengde rolverdelings was vir gemengde gehore, van klopjagte deur die veiligheidspolisie en planne wat hulle gemaak het om vervolging te ontduik. Die name van ikone soos Marlene Dietrich en Sofia Loren met wie hy vriende geraak het, het beelde van vervloë glans op die verhoog opgeroep.

Nog eens terug by raad aan jonges het hy vertel hoe hy op ’n keer in Londen vir slegs twee mense opgetree het. Een van hulle was toevallig ’n agent wat hom soveel in sy loopbaan gehelp het.

“Moet nooit ’n opvoering kanselleer nie, respekteer jou gehore, lag oor dinge wat nie snaaks is nie en bly positief. Ek is self ’n terminale optimis. Alles wat ons in die teater doen is totaal mal. As iemand vir jou sê jy is besig met nonsens, moet jy weet jy is op die regte pad.”

*Pieter-Dirk Uys ontvang vanjaar die Hertzogprys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir drama vir Stukke teater, maar met inagneming van sy hele oeuvre. Stukke teater is ’n versameling van vyf van sy dramas – Selle ou storie, Karnaval, die Van Aardes van Grootoor, Panorama en Die vleiroos. Die oorhandiging is op 21 September in Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.