Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Pieter-Dirk Uys oefen vir ‘Olimpiese ondervinding’
Pieter-Dirk UysFoto: Stefan Hurter

Die satirikus Pieter-Dirk Uys gaan tien van sy gunsteling-solovertonings in die laaste lekseltjie van die jaar opvoer ter voorbereiding vir ’n “Olimpiese ondervinding” wat in 2020 op hom wag.

Uys gaan dié tien vertonings as ’n proeflopie aanpak vir die marathonproduksie Pieter-Dirk Uys at 75, wat hy volgende jaar van 16 tot 28 November in die Fugard-teater in Kaapstad gaan aanbied. Dié produksie bestaan ook uit tien solovertonings wat hy in 12 dae elk twee keer wil opvoer om sy 75ste verjaardag op 28 September te vier.

“Ja, Pieter-Dirk Uys at 75 gaan nogal ’n Olimpiese ondervinding wees,” sê hy. “Danksy die feit dat ek destyds op dramaskool opgelei is as verhoogbestuurder en nie akteur nie, kan ek verskillende vertonings maklik saamflans.”

Die veteraan sê hy het in sy lang loopbaan ’n “sosatie van vermaak” vervaardig, waaruit hy tien vertonings kon kies en keur. Voor die einde van die jaar gaan hy onder meer die treffers Tannie Evita praat kaktus en Ouma Ossewania praat vuil by Evita se Perron op Darling opvoer. Daarby gaan vertonings soos Bambi Sings the FAK Songs en Weerklink van ’n wanklank ook volgende jaar in die Fugard te sien wees.

“Met soveel verskillende shows in my repertoire was my grootste dissipline om te sorg dat ek nie dinge herhaal nie. Vir daardie een persoon wat elke show kom kyk, wou ek seker maak dat hulle nie dieselfde kwinkslag teëkom nie.”

Pieter Dirk-Uys vertolk onder meer die karakters ouma Ossewania Kakebenia Poggenpoel en een van haar dogters, tannie Evita Bezuidenhout.Foto: Argief

Uys sê hy moes weens onder meer politieke verwikkelinge heelwat van die vertonings skaaf om dit aktueel te hou.

“Ek pas materiaal gedurig aan. Die skande van apartheid is nou amper 30 jaar verby, maar afsonderlike ontwikkelings is steeds ’n alledaagse verskynsel in ons demokrasie: Rassisme en fobies soos homo- en xenofobie is te slim om net met ’n wet te neutraliseer. Om te lag vir jou vrees kan somtyds daardie vrees minder verskriklik maak.”

Hy voel dit is tog belangrik om steeds so nou en dan ’n “politieke hanswors” uit die verlede weer in die kollig te plaas.

“Daar is niks meer dodelik as ou nuus nie, maar geskiedkundige politieke hansworse en worshonde moet elke nou en dan centre stage speel, om mense te herinner waar ons vandaan kom en om seker te maak dat vandag se hansworse en worshonde nie dieselfde ou truuks weer probeer nie.”

Oor sy mylpaalverjaardag is hy heel beskeie – en hy sê daar is nog lank nie planne om sy besige program af te skaal nie. Dissipline, beplanning en ’n bietjie minder chardonnay help om sy energievlakke hoog te hou.

“Dit (75) is ook maar net ’n syfer,” sê hy. “So lank as wat die ou lyf nog jonk kan speel en tannie Evita mense kan flous om te glo dat sy wel in al haar glorie bestaan, is ons hopelik nog in die toekoms open for business.”

  • Die vertonings wat Uys in Evita se Perron in Darling gaan aanbied, sluit in An Audience with Pieter-Dirk EISH (14 Desember), Tannie Evita praat kaktus (15 en 29 Desember), #HeTwo: Evita Exposed! (16, 20, 22 en 30 Desember), Evita’s Xmas Tree (19 en 24 Desember), Adapt or Fly en Never Too Naked (albei op 27 Desember), When in Doubt, Say Darling en Ouma Ossewania praat vuil (albei op 28 Desember) en Evita: Goodbye 2019! (31 Desember). Besoek www.evita.co.za vir inligting oor kaartjiepryse en vertoningstye.
  • Besprekings vir Pieter-Dirk Uys at 75 in die Fugard-teater in Kaapstad open op 1 Junie.
Meer oor:  Evita Bezuidenhout  |  Teater  |  Pieter-Dirk Uys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.