Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Poppe sonder perke
Marelize Viljoen met Miko (links) en Anoecha Krüger met Mevrou Molle. Foto: Simon Sonnekus

Die min perke van poppeteater is die rede waarom die Loft Puppet Co. van Stellenbosch sal aanhou om die grense van teater te toets.

Die maatskappy, wat poppe bou in ’n studio in Khayamandi, Stellenbosch, is by vanjaar se KKNK met sy kinderproduksie Die onwaarskynlike verhaal van Miko.

Die verhaal vertel van Miko, ’n spesiale kind wat kort ná sy geboorte spoorloos uit Moegoeberg se hospitaal verdwyn, en volg sy lewe nadat hy in die arm Mevrou Molle se potplant gevind word.

Hy ontmoet later vir Zimon Brandt, die oorgewig seun van Zef en Zinovia, belangrike mense op die dorp. Eendag sluit Zef en Zinovia vir Zimon toe, maar hy ontsnap en gaan vind vir Miko. Almal soek na hulle en toe die dokter hulle uiteindelik in ’n boom vind, maak hy ’n onwaarskynlike ontdekking.

Die Brandt-gesin, Zef (Andrico Goosen), Zinovia (Marelize Viljoen) en Zimon (Anoecha Krüger).Foto: Simon Sonnekus

Volgens Andrico Goosen, wat die rol van onder andere Zef Brandt vertolk, is dit spesiaal om te sien hoe die kinders wat na die produksie kyk ’n band vorm met die poppe.

“Dit is altyd fassinerend om te sien hoe die kinders teenoor die poppe reageer. Dit is anders as om met slegs akteurs te werk. Hulle verstaan en bou hul eie verhouding met die pop. Hulle vertrou die poppe amper meer,” sê Goosen.

Elisha Zeeman,wat die Die onwaarskynlike verhaal van Miko geskryf het, sê die Loft Puppet Co. wil nie net op kinderproduksies fokus nie. Die groep het in Maart by die US Woordfees die produksie HAM uitgevoer, wat op ’n ouer gehoor gemik is, en het ’n klassieke produksie in hul visier.

“Ons is vyf vriende met ’n liefde vir teater wat hierdie deeltyds doen. Ons wil nie net kinderteater maak nie. Ons is nou besig met ’n rowwe storielyn wat ons wil gebruik vir ’n klassieke teaterstuk. Daar is nie perke nie,” sê Zeeman.

Sy sê baie mense het ’n wanindruk van poppeteater en dink dikwels dat dit slegs opvoedkundig moet wees.

Zinovia Brandt (Marelize Viljoen).Foto: Simon Sonnekus

“Opvoedkundige teater en opvoedkundige teater met poppe is op sy eie manier baie nodig, maar ons wil fokus om kuns deur middel van poppeteater te bevorder,” sê sy.

Sy hoop die maatskappy kry die kans om eendag ’n buiging op televisie te maak en hopelik in die buiteland te toer met hul poppeproduksies.

“Dit is lekker, want ons almal het óf dramastudies as agtergrond óf ’n onblusbare liefde vir teater en drama. Met ons ensemble kan ons ons kreatiwiteit uitleef. Ons almal werk lekker saam om unieke teater te maak.”

Meer oor:  Kknk  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.