Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Poppeteater met gay karakters uit teater geskop

Twee vertonings van ’n poppeteaterproduksie waarin gay karakters voorkom, hoewel dit nie op die naam genoem word nie, is deur die Pierneefteater in Pretoria gekanselleer.

Dit volg na bewering ná ’n klagte van ’n teaterganger.

Twee vertonings van die poppeteaterproduksie ‘Drizzels’, waarin gay karakters voorkom, is deur die Pierneefteater gekanselleer. Foto: Marco du Plessis

Drizzels, ’n kinderproduksie, sou Donderdag- en Vrydagoggend op die planke wees.

Marco du Plessis, skrywer van Drizzels, het Donderdag ’n oproep gekry van Jopie Koen, eienaar en bestuurder van die Pierneefteater.

“Daar was ’n klagte oor ‘onsedelike materiaal’,” sê Du Plessis.

“Sy het gesê sy sou ons nie toegelaat het as sy geweet het waaruit ons werk bestaan nie. Maar ons bio beskryf duidelik wat ons doen. Dit is ’n terugslag vir die LGBTQ-gemeenskap.”

Sommige van die karakters is gay, maar die verskillende produksies, soos die een wat vandeesweek opgevoer sou word, handel nie daaroor nie.

Zinzi die sebra is gay, en Freddy en Rajesh, twee getroude pa’s, het Toni die tier aangeneem.

Koen wou nie kommentaar lewer nie en win regsadvies in.

Drizzels bestaan uit verskillende produksies met verskillende verhale, maar dieselfde karakters kom voor.

“In Augustus is ’n produksie aanlyn aangebied waarin Zinzi geboelie word omdat sy anders is,” sê Du Plessis.

‘Drizzels’ sou Donderdag en Vrydag in die Pierneefteater op die planke gewees het. Foto: Marco du Plessis

“Sy vertel aan die fee dat Toni die tier haar strepe gesteel het omdat sy gay is. Ons doelwit is om teater vir kinders te skep wat nie by hoofstroomteater aanklank vind nie. Maar die produksie wat vandeesweek opgevoer sou word, gaan nie oor gaywees nie. Dit handel oor die Covid-19-pandemie.

“Dit het niks met homoseksualiteit te doen nie, al kom gay karakters daarin voor.”

Koen het later met ’n nuwe aanbod vorendag gekom.

“Maar nou is die voorafbedrag amper dubbeld soveel en die konsert word nie bemark nie. So waarom kry ons nie dieselfde behandeling as ander produksies nie? Dit maak seer, want dit kom daarop neer dat daar teen die LGBTQ-gemeenskap gediskrimineer word.

“Ons voer steeds ’n kinderproduksie op. Dit sou ons eerste vertoning op die verhoog wees. Vier mense het nou ’n inkomste as gevolg hiervan verloor.”

Du Plessis sê die geselskap fokus op ’n nismark.

“Ons is eerstens ’n teatergeselskap wat op kinders fokus, en net nou en dan gay-elemente gebruik. Dit is moeilik (weens die pandemie) om beskikbare teaters te kry. As iemand ons nooi, kom ons.”

Intussen word nóg ’n produksie van Drizzels, wat oor die besoedeling van die see handel, op die Vrystaat Kunstefees se virtuele Snelstroomfees aangebied.

Michael Garbett, koördineerder van die Vrystaat Kunstefees se Vrynge, sê dié produksie kry goeie terugvoering. “Ek kan nie glo iemand, wat nie die teks gelees het nie, het ’n klagte daaroor (die produksie in die Pierneefteater) nie.

“Waarom is dit verkeerd om kinders te wil leer en laat verstaan dis oukei as jy nie van ’n meisie of ’n seuntjie hou nie? Gaywees gaan nie net oor seks of eksplisiete inhoud nie. Sulke opmerkings dui op arrogansie. Baie mense vertel hulle het die vertoning geniet. Mense sê hulle sou nie eers agtergekom het die karakters is gay as ek hulle nie daarvan vertel het nie,” sê Garbett.

“Dis skokkend dat soveel mense nog hierdie sinlose vrees en arrogansie dra teen mense wat hulle bloot net nie wil verstaan nie (want as hulle wou verstaan, sou hulle hierdie produksie toegelaat het).

*Koen het teen Woensdagmiddag (28 Oktober) op ‘n tweede versoek steeds nie Netwerk24 se vrae beantwoord nie,  Sy het wel gesê in n e-pos op 28 Oktober dat sy regshulp ingewin het en is van voorneme om ‘n verklaring nog vandeesweek uit te reik.

(Hierdie berig is op 28 Oktober bygewerk met die bogenoemde)

Meer oor:  Jopie Koen  |  Marco Du Plessis  |  Pierneefteater  |  Pretoria  |  Teater  |  Gay  |  Drizzels  |  Lgbtq
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.