Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Poppie’-aktrise (77) dood
Nomhle Nkonyeni Foto: Facebook

Die veteraanaktrise Nomhle Nkonyeni, wat veral vir haar rol as Poppie onthou word in Kruik se produksie van Die swerfjare van Poppie Nongena, is Woensdagoggend in die ouderdom van 77 dood.

’n Neef van Nkonyeni, oorspronklik van New Brighton in Port Elizabeth, het die nuus aan HeraldLIVE bevestig. Die nuuswebwerf berig sy was sedert Vrydag in die hospitaal.

Geen verdere besonderhede oor haar dood is nog bekend nie. Volgens die tydskrif Move! sal haar familie binnekort ’n verklaring uitreik.

Pieter Fourie, wat die regisseur van die Kruik-produksie in 1981 was, sê hy sal Nkonyeni met die grootste deernis onthou.

“Sy was ’n baie goeie aktrise. Eerlik. Daai soort warmte wat (die aktrise) Yvonne Bryceland gehad het. Geen pretensie nie. Nie oordrewe nie. Haar vertolkings was uit die hart uit.”

Fourie onthou hoe Nkonyeni weens apartheidswetgewing tydens die produksie se speelvak net in vyfsterhotelle kon bly.

“Sy is vanuit PE na die Kaap gebring om ons Poppie te wees en ons moes haar natuurlik huisves, maar in hierdie land van absurditeite kon mense van kleur volgens ’n nuwe regulasie net in ’n hotel woon as dit vyfster was.

“En toe het sy in die Kaap en in Port Elizabeth, waar ons later getoer het, in weelderige vyfsterhotelle gewoon terwyl ons arm akteurs in die heel goedkoopste gastehuis moes tuisgaan. Ons het in die aande vir haar gaan kuier net om te sê ons was ook al in ’n vyfsterhotel. Ons het jare later nog grappies oor die hotel gemaak. Sy was ’n wonderlike mens.”

Sy (Nomhle Nkonyeni) was ’n baie goeie aktrise. Eerlik. Daai soort warmte wat (die aktrise) Yvonne Bryceland gehad het. Geen pretensie nie. Nie oordrewe nie. Haar vertolkings was uit die hart uit.
Pieter Fourie, teaterregisseur

Brümilda van Rensburg, wat die rol van Antoinette teenoor Nkonyeni in die produksie gespeel het, het ook net goeie herinneringe van haar.

“Oe, ek was baie lief vir haar. Met elke opvoering van Poppie het sy my laat rol van die lag. Sy was so snaaks en so professioneel. Heerlik om mee saam te werk. Baie ‘mammarig’,” sê sy.

“Sy het my ook Xhosa leer liefkry. Sy het my geleer hoe om in Xhosa te sê: ‘Daai slag wanneer jy op my hakskeen trap, gaan ek omdraai en jou terugkry.’ En sy het Afrikaans in die produksie gegooi!”

Die akteur Dorothy Ann Gould is geskok en hartseer oor die nuus. Gould en Nkonyeni was in die 1980’s in Truk se vertoning van The Little Foxes te sien.

“Dit was ’n ongelooflike moeilike tyd vir swart akteurs,” onthou Gould.

“Dit was in die tyd van die noodtoestand en daar was gesegregeerde teaters, maar ons het baie goeie vriende geword. Ek het haar verlede jaar gesien toe sy aangewys is as een van die Markteater se ‘Living Legends’. Sy het gesukkel om te loop en ek het saam met haar tot by haar sitplek gestap. Die kort tydjie saam met haar was kosbaar.

Sy (Nomhle Nkonyeni) het my ook Xhosa leer liefkry. Sy het my geleer hoe om in Xhosa te sê: ‘Daai slag wanneer jy op my hakskeen trap, gaan ek omdraai en jou terugkry.’
Brümilda van Rensburg

“Sy was ’n ongelooflike akteur. Fenomenaal, energiek, sterk. Sommige akteurs is net akteurs, maar ander is deur hul akteurspel ook barmhartige mense – en Nomhle was dit.”

Benewens haar teaterwerk was Nkonyeni ook bekend om haar TV-rolle in Scandal!, Igazi en Gaz’lam. Sy was ook onlangs te sien in die rolprent Sew the Winter to My Skin, wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir beste buitelandse rolprent by vanjaar se Oscars was.

Pres. Cyril Ramaphosa het in April vanjaar die Orde van Ikhamanga (silwer) aan Nkonyeni toegeken. Sy het ook in 2016 ’n prys vir lewenslange bydrae by die Saftas (Suid-Afrikaanse rolprent- en TV-pryse) ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.