Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Prinsloo in Paternoster met program oor Olga Kirsch
Sandra Prinsloo bied die naweek ‘Olga, die wandelende’, ’n woordkunsprogram oor die digter Olga Kirsch, op Paternoster en Saldanha aan.

’n Besonderse woordkunsaanbieding met musiek oor die Afrikaanse digter Olga Kirsch is deel van die openingsprogram van ’n nuwe venue aan die Weskus die komende naweek.

Die aktrise Sandra Prinsloo en die musikant en sanger Niël Rademan is in Olga, die wandelende te sien. Dit open in Die Koelkamers op die skilderagtige Paternoster, sowat twee uur se ry van Kaapstad.

Rademan begelei Prinsloo op die klavier en akkordeon en open die program met ’n gewyde Joodse kantorlied. Ook deel van die openingsprogram is ’n uitvoering van Weskuskind deur Stanley Engelbrecht, ’n jazzkitaarspeler en boorling van Paternoster.

Besoekers kan verder tentoonstellings van die kunstenaars Uro Erichsen en Wilko Roon, albei van Paternoster, asook kunswerke van Lidi de Waal besigtig.

Die Suid-Afrikaans gebore Kirsch (1924-1997) was Joods en die dogter van ’n Jiddisj-sprekende pa wat van Litaue na Suid-Afrika geëmigreer het. Sy het egter in haar hartstaal, Afrikaans, gedig en bundels soos Die soeklig (1944), Mure van die hart (1948) en Negentien gedigte (1972), het uit haar pen verskyn.

Dié gebore Vrystater (Koppies) het die grootste deel van haar lewe in Israel gewoon. In die woordkunsprogram oor Kirsch, wat Jan Groenewald van die Foxwood-teater in Johannesburg spesiaal vir Prinsloo saamgestel het, word die spanning tussen Suid-Afrika, Kirsch se geboorteland en haar nuwe aangenome land, Israel, tasbaar. Daar is die werklikheid van oorlog in hierdie nuwe land, waar sy saam met haar man en kinders woon, en die versugting na vrede. Daar is ook haar herinneringe aan haar mense in haar agtergelate geboorteland.

• Die Koelkamers is ’n veeldoelige ruimte vir onder meer musiekkonserte, teaterproduksies, kunsuitstallings, konferensies en troues.

Die aanbieding open op Vrydag 12 Maart om 17:00. Saterdag is daar twee vertonings: om 10:30 en 16:30. Net 50 sitplekke is per vertoning beskikbaar. Kaartjies beloop R400 per persoon. ’n Persentasie van die kaartjieverkope gaan aan die Teater-bystandsfonds. Streng Covid-19-regulasies geld. Navrae: Jan Malan 082 554 0775.

• Op Sondag 14 Maart word Olga, die wandelende as ’n huiskonsert op Saldanha aangebied. Om kaartjies te bespreek, kontak Yvonne by 082 855 0729. – Saamgestel deur Laetitia Pople

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.