Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Producers’ is vermaaklik, maar kort sprankel
Leo Bloom (vertolk deur Richard White) en Max Bialystock (Alan Committie) bedink ’n sluwe plan in ‘The Producers’. Foto: Jesse Kramer

The Producers

Theatre on the Bay, Kaapstad

***

Die Amerikaanse komponis Samuel Barber het meer as 30 jaar ná die première van sy stellig bekendste komposisie, Adagio for Strings, ’n verwerking daarvan vir koor in 1967 voltooi.

Hoewel die koorverwerking ook (soms) wondermooi is, het die omvorming van orkes- na koorwerk die musiek van sy praal gestroop: Na dié resensent se mening kan stemme nie heeltemal die magiese krag in dié werk opwek soos wat strykers kan nie.

Hoewel verwerkings soms tog beter as die oorspronklike is – Adagio for Strings was immers self ’n verwerking van ’n beweging uit ’n relatief onbekende Barber-strykkwartet – was die slaggate wat verwerkings soms voortbring in die voorgrond op ’n vertoning van die legendariese Amerikaanse grapjas Mel Brooks se musiekspel The Producers in Theatre on the Bay in Kaapstad.

Die Broadway-treffer is hier op ’n kleiner skaal – bekend as ’n “bonsai”-weergawe – aangebied, wat ongelukkig die oorspronklike van sy Broadway-sprankel ontneem het.

Die aanbieding daarvan op ’n kleiner verhoog het ook die oorspronklike se grootsheid vasgevat en in ’n kleiner boks geprop, wat pal gevoel het asof dit uit sy nate wil bars.

Dít wat egter weens die verwerking ingeboet is, is darem deur heelwat skittervertonings én ’n uithaler-stel verskans.

Die musiekspel fokus op die gierige en grillerige Broadway-vervaardiger Max Bialystock (vertolk deur Alan Committie) wat ná jare se sukses net een ná die ander Broadway-mislukking oplewer.

Sy jammerlike rekenmeester, Leo Bloom (Richard White), wat daarvan droom om ook ’n Broadway-vervaardiger te wees, plant ’n ietwat onlogiese saadjie in Bialystock se kop dat vervaardigers meer geld kan verdien as ’n produksie ’n reuseramp is.

Wanneer Bialystock en Bloom dan saam probeer om die slegste Broadway-werk nog op te lewer – in dié geval ’n musiekspel oor Adolf Hitler – blaas hulle toevallig lewe in ’n wegholtreffer, wat hulle albei oorbluf.

Carmen Ghia (vertolk deur Earl Gregory), Leo Bloom
Carmen Ghia (vertolk deur Earl Gregory), Leo Bloom (Richard White), Franz Liebkind (Schoeman Smit) en Roger De Bris (Terence Bridgett) in aksie. Foto: Jesse Kramer

Committie het ’n groot hand in die eindproduk se vermaaklikheid. Hoewel hy voorheen op Netwerk24 erken het hy is senuagtig oor sang en dans, was dié senuwees nie vir ’n oomblik op die verhoog merkbaar nie. Dit was ook wonderlik om te sien hoe hy ’n element van sy eie komiese persoonlikheid in dié van sy karakter verweef het.

Hoewel sang en dans nie die hele rolverdeling se forte is nie, is Committie goed ondersteun – en sy voordrag selfs plek-plek geëwenaar – deur veral Terence Bridgett, Schoeman Smit en Raquel Munn, wat onderskeidelik die rolle van die powere Broadway-regisseur Roger De Bris, die Nazi-dramaturg Franz Liebkind en die Sweedse aktrise Ulla Inga Hansen Benson Yansen Tallen Hallen Svaden Swanson vertolk.

Daarby verdien Michael Mitchell se stelontwerp, wat soos tamaai Tetris-blokke perfek by mekaar ingepas het, twee duime na bo.

Brooks-fanatici mag dalk voel asof die metrum van sy kenmerkende humor nie deurgaans volgehou is nie, maar dít ontspoor nie ’n produksie wat in die geheel vermaaklik is nie.

Drink net genoeg koffie of ’n energiedrankie voor jy jou plek in die teater inneem: Met ’n tydsduur van twee uur en 40 minute (insluitende ’n pouse van 20 minute) gaan jy ná ’n lang dag by die werk ’n tikkie uithouvermoë vir al die manewales nodig hê.

  • The Producers word tot 28 Maart in Theatre on the Bay in Kaapstad aangebied. Vertonings van Maandae tot Saterdae begin om 20:00, met ’n bykomende middagvertoning op sommige Saterdae om 16:00. Kaartjiepryse wissel van R100 tot R380. Bespreek by Computicket.
  • Dit is ook van 3 April tot 31 Mei in die Pieter Toerien-teater by Montecasino in Johannesburg op die planke. Vertonings van Woensdae tot Saterdae begin om 20:00, met ’n bykomende Saterdag-vertoning om 16:00. Vertoning op Sondae begin om 14:30. Kaartjiepryse wissel tussen R120 en R380. Bespreek by Computicket.
Meer oor:  Teater  |  Broadway
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.