Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Resensie: Netwerk24 se 1ste luisterdrama ’n baken in jou dag
Chris van Niekerk vertolk die rol van Armand.Foto: Nardus Engelbrecht

Kronkels en draaie – deur die hede en in die nabye en verre geskiedenis. Dit bied Sê maar so long, Netwerk24 se eerste luisterdrama, wat van hierdie week af geluister kan word.

Lesers vertrek in ’n bietjie meer as ’n uur op ’n boeiende, emosionele reis saam met die klompie karakters vir wie jy vinnig ’n deernis ontwikkel. Dit is keurig versorg deur die regisseur Ronèl Geldenhuys, en die nuutgeskepte musiek deur Riku Lätti bied verposings tussen tonele en help treffend om stemming te skep.

Anton Treurnich het verlede jaar Netwerk24 se kompetisie met dié drama gewen, en gooi hier sy net wyd. Luisteraars wat hou van intrige en filosofiese bepeinsinge oor die lewe en die dood, oor die selfverwyt en hartseer rondom ’n verlore liefde asook liefde gevind, sal hier groot aanklank vind. Dit is ook sinvol vir mense wat dalk met ’n siekte worstel wat ’n donker skadu oor hul lewe gooi.

Ons ontmoet Armand (Chris van Niekerk) ’n fotojoernalis wat op ’n reis is na Skipskop in die Overberg saam met sy susterskind Bianca (Ilana Cilliers), ’n student in joernalistiek. Sy gaan ’n storie oor ’n verlore skat, van ’n skip wat in die 1800’s daar gestrand het, skryf, en hy gaan die foto’s neem.

Ilana Cilliers vertolk die rol van Bianca.Foto: Nardus Engelbrecht

Onderweg kom die leser agter dat die reis verreikende implikasies gaan hê. Vir albei karakters gaan die lewe handomkeer verander – vir albei gaan daar hopelik berusting en insig kom. Daar is ’n besonderse verhouding tussen die twee reisigers – dié van mentor en student, maar ook ’n hegtheid wat bloed en kindred spirits bring.

Van Niekerk vertolk die rol van Armand met groot menslikheid en diep empatie. Sy karakter worstel, maar is nie sonder hoop nie, daar is ’n beleë mensheid in hoe hy die rol benader. Dan is daardie stem van hom op ’n ander vlak – hy skilder daarmee. Al die emosies van vertwyfeling tot teerheid, woede tot teleurstelling – als vervat en te lees net uit sy stemkuns. Dié resensent het al geskryf dat sy na hom sal luister al lees hy uit die telefoonboek voor.

Cilliers verwesenlik die tipies opvlieënde tiener, ’n jong mens wat aan die vooraand van ’n loopbaan staan, maar ook iemand wat ’n dringende besluit oor haar lewe moet neem. Sy hanteer haar karakter met groot sorg en intelligensie, haar teerheid vir haar oom gryp aan die hart. Elk van die akteurs blink uit in die behendige hantering van hul karakters wat hulle in ’n kort tydjie vestig. Jill Levenberg is ’n stil krag, wat letterlik ’n storm moet stilmaak.

Sê maar so long is soos ’n baken in jou dag, jou dag is nie meer so gewoon nie. Dit was meer as die moeite werd om daarby stil te staan, om jou verbeelding saam te stuur op die inkeerreis.

*Laetitia Pople is ’n werknemer van Netwerk24.

Meer oor:  Netwerk24  |  Radiodrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.