Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Reza se ‘Asem’ belig vroue in verdrukkende bestel
Antoinette Kellermann

Gepas vyf jaar ná die dood van die Hertzogprys-bekroonde dramaturg Reza de Wet word haar drama Breathing In in Afrikaans as Asem op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees opgevoer. Dit is ’n donker, makabere blik op die eise van patriotisme en oorlog – eintlik enige verdrukkende bestel. Kenmerkend van De Wet word die tol wat van vroue geëis word, belig.

Dit is die laaste doodsnikke van die Suid-Afrikaanse oorlog. Die Boere het alles verloor ná Kitchener se verskroeide-aarde-beleid en net ’n paar verbete soldate hou nog die fort. Vroue en kinders krepeer in die konsentrasiekampe. In ’n verlate skuur lê ’n sterwende generaal.

Dit is sprekend dat hy kaal is en deurlopend heldhaftige bevele yl, so asof hy nog ’n leerskare manskappe aanvoer. Sy refrein “moenie oorgee nie” klink hol op. Daar is werklik niemand meer oor nie. Net ’n ou vrou met wilde hare wat oor hom waak.

Soos ’n heks stook sy ’n brousel in ’n pot terwyl sy en haar sieklike dogter planne smee vir die besoek van ’n aantreklike jong adjudant. Die twee vroue is voortvlugtendes. Bedags soek hulle skuiling en snags strompel hulle verder. Hulle aas koperknope, stewels en klere van gestorwe soldate (Boere of Britte) en verkoop of verhandel wat hulle kan.

Dit is die bloedige omwenteling van ’n ou orde na ’n nuwe. Daar kom ’n ander sinister geweld ter sprake in die plek van die generaal se geprewel “ek sal tot my laaste asem veg”.

De Wet skets hier die radikale ophef van blinde alliansie en gedienstige erkentlikheid wat eintlik steeds vir enige bestel geld. Nuwe reëls word gemaak, móét gemaak word om te oorleef. Hier het vroue die hef in die hand. Op slinkse, verleidelike manier word hul lewenswyse van versorg, verlei, stroop en aas ’n metafoor vir die lewe ná die oorlog.

Antoinette Kellermann se vertolking van Anna is pure alchemie en Tinarie Van Wyk Loots se brose Annie is ragfyn ingeklee – tog word die mat onder die kyker uitgetrek.

Edwin van der Walt is altyd in pas as die verlore adjudant, ’n warkop sonder leier en doelwit. Stian Bam se kamee as die sterwende generaal bly spook. Die spelleiding is deur Marthinus Basson, ’n gedugte vertolker van De Wet se werk.

Asem vertoon De Wet as onverskrokke dramaturg wat steeds die samelewing se maskers afruk en verdigsels sonder genade ontbloot.

Die fees duur tot 15 April.

Meer oor:  Kknk  |  Oudtshoorn  |  Drama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.