Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Rhys se ‘Kinnes’ in Kunstekaap én word ’n roman

Chase Rhys (28) het reeds op die Woordfees en KKNK indruk gemaak met die stuk Kinnes. Dis nou in die Kunstekaap-arena te sien. In Oktober gaan die roman met dieselfde titel op die rak wees.

Rhys vertel dat hy die teks vir die drama op die laaste minuut geskryf het. Hy het omtrent ’n dag voor die tyd gehoor van ’n nuwe tekskompetisie – die eerste Adam en Rosalie Small-kompetisie vir ’n debuutteks.

“Adam Small is vir my ’n rolmodel vandat ek die eerste keer met sy werk kennis gemaak het. Ek het besluit dis net die regte plek vir my verhaal en ek het ingeskryf. Toe wen ek. Dit het my hele lewe verander.”

Chase RhysFoto: Trudy van Rooi

Hy wou altyd op die verhoog wees, sê hy. Hy het ná skool drama aan die Universiteit Kaapstad studeer en in 2010 sy diploma behaal.

“Ek wou ’n akteur wees en ek wou raakgesien word en beroemd word. Ek het gou gesien op die verhoog gaan nie werk nie. Ek dink ek is as dramaturg nou op die plek waar ek moet wees. Dis asof ek al klaar my drome bewaarheid het.”

Rhys het in Ocean View grootgeword en woon steeds daar. Sy karakters is nie op spesifieke mense gegrond nie, maar hy sê dis mense wat hy elke dag sien. En daar is ook in elke karakter iets van homself.

“As jy my nie ken nie, sal jy nie weet nie, maar my familie weet.”

Daar is vyf karakters in Kinnes. Vier van hulle (vertolk deur Dustin Beck, Lindsey Abrahams, Shannon Williams en Dean John Smith van Suidooster) is jonges en dan is daar die ouer karakter van die ma wat deur Lee-Ann van Rooi vertolk word. Die stuk vertel van mense van die Kaapse Vlakte in ’n wêreld waar almal soek na bekendheid en rykdom, maar omring word deur armoede en bendebedrywighede.

Wat hom veral inspireer het om meer te skryf is dat Hennie van Greunen (van Wordsmith’s Theatre Factory, een van die beoordelaars van die kompetisie) gesê het Kinnes is die beste debuutteks wat hy teengekom het sedert Rachelle Greeff se solostuk Die naaimasjien.

“Aanmoediging is wonderlik. Dit was ook vir my wonderlik dat mense by die KKNK opgestaan en hande geklap het ná afloop van ’n opvoering.”

Hy het sommer dadelik weggeval met die roman. Dit gaan ook nie hier ophou nie, sê hy. Hy wil sommer nog baie vir die verhoog skryf, dalk nog ’n draaiboek of wat en ’n minireeks vir televisie.

“Maar ek wil stories skryf vir die toekoms Ek dink ons is nou al lank genoeg vasgevang in die verlede.”

Sy droom is om werk te skep wat sy gemeenskap kan help. Hy is ook ’n stigter, organiseerder en kunstenaar van die Borderlands Public Art Festival, deel van die Africa Centre, wat geografiese en interne grense wil afbreek wat Suid-Afrikaners skei.

Hy beplan ’n skoletoer met Kinnes sodat mense wat nie na teaters kan gaan nie dit in hul eie omgewing kan sien.

*Kinnes is van 10 tot 19 April in die Kunstekaap-arena te sien. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.