Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Riebeek-Kasteel het nou ’n amfiteater met somerprogram
Die Royal Arts Town-amfiteater op Riebeek-Kasteel in die aand met die klipsirkels van die The Arteri-kunstegroep. Foto: Mark Graham-Wilson

Riebeek-Kasteel, aan die voet van die Kasteelberg, word al meer gevestig as ’n dorp waar die kunste heeljaar blom.

Eers was dit die bekendstelling van die gewilde jaarlikse Solo Studios, georganiseer deur Klaus Piprek, waar die vele kunstenaars in die dorp hul ateljeedeure vir besoekers oopmaak sodat daar kuns gesels en bekyk kan word. Piprek brei die projek van 4 Desember vanjaar uit met Revive, ’n kunsroete van beelde wat geskep is deur verskeie kunstenaars. 25 beelde gaan opgerig word. Elke beeld, installasiewerk of konseptuele werk gaan by ’n onderneming, wat sy bestaan maak uit die plaaslike toerismebedryf, aangebring word. Baie van die besighede moes weens die swak ekonomie, waterkrisis en nou weens die ekonomiese ramp veroorsaak deur die Covid-19-pandemie hul deure sluit of gaan dalk binnekort moet sluit.

Die ander groot nuwe trekpleister na dié historiese dorp, omring deur landerye en boorde neffens die einste Kasteelberg, is ’n amfiteater.

Die Royal Arts Town-amfiteater (Rata) het sitplek vir 100 mense en is ingerig op die grasperk in die agterplaas van die Royal-hotel op die dorp. Die koms van die Rata is vandeesweek bekend gemaak. Om die gesonde afstand, genoodsaak deur die pandemie, makliker te maak, is daar kreatiewe klipsirkels deur The Arteri-kunstegroep van die dorp uitgepak op die sitplekke. So kan besoekers ’n ent van mekaar af sit, geskei deur ’n kunswerk.

Hannes van Wyk.

Van November vanjaar gaan daar maandeliks teatervertonings aangebied word. “Ons gaan nie groot produksies in die nabye toekoms hier kan opvoer nie, wel solovertonings, hetsy teater of musiek. Die wonder van teater lê nie in die grootte of getalle nie, maar in die krag van die skryfwerk, uitvoering en regie,” het Mark Graham-Wilson, sameroeper van die teater, gesê. Wilson werk al amper vier dekades in Suid-Afrikaanse teater en die televisiebedryf. Hy en sy gesin het hulle sowat twee jaar gelede op die dorp gevestig.

Hy het verlede jaar The Olive Branch Project begin om deur middel van die uitvoerende kunste inklusiwiteit te bevorder in die gemeenskap van Riebeek-Kasteel. Verskeie kunsteprojekte vorm deel hiervan, waar onder seepkis-konserte, slypskole en klasse, poetry jams en die gistenk – ’n ontwikkelingsprogram vir produksies.

Die somerseisoen by Rata is ook ’n poging om werk te verskaf aan kunstenaars wat swaar getref is deur die pandemie. In die afgelope ses maande is alle opvoerings en byeenkomste opgeskort en is teaters gesluit.

Lynita Crofford tree op in ’n solovertoning oor Emily Hobhouse.

“Die kunste is die hardste deur die pandemie getref. Skrywers, akteurs en regisseurs is lamgelê en van hulle het dikwels nie kos op die tafel nie. Dit was ook ’n tyd van bepeinsing, nuwe gedagtes en ’n hergeboorte. Dit maak sin om die oorvloed van kreatiewe talent in die Riebeekvallei te benut en ten toon te stel, en om besoekers te lok,” het Graham-Wilson gesê.

Die amfiteater by die Royal-hotel word op 13 November met Covid Moons geopen. Dit is ’n nuwe toneelstuk deur die veelbekroonde dramaturg en regisseur Clare Stopford. Dié komiese, meevoerende stuk fokus op die eerste dae van nasionale inperking in Suid-Afrika.

Verdere optredes gedurende die amfiteater se somerseisoen is:

Op 4 Desember open Tony Jackson se An Audience with Miss Hobhouse met Lynita Crofford. Crofford het veel lof ontvang vir haar vertolking van Hobhouse, die Britse vrou wat die wêreld se aandag gevestig het op die lot van die Boere se vroue en kinders in Britse konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902.

Op 11 Desember, om saam te val met die Solo Studios-naweek in Riebeek-Kasteel, maak plaaslike musikante musiek. Donker Jonker en Georick Veltman tree onder meer op.

Op 18 Desember volg ’n aand van klassieke storievertelling met David Muller as die geliefde oom Schalk Lourens, bekend om sy Groot Marico-stories, in die solostuk Oom Schalk from the Heart.

Op 8 Januarie is die musikant, rolprentvervaardiger en aktivis Roger Lucey op die verhoog met sy musikale vertoning How to Build a House in the Mountains aan die beurt. Lucey vertel hoe sy musiek verban is (al vyf sy albums is verbied in die 1980’s), hoe hy geteister is deur die veiligheidspolisie en hoe hy oorleef het deur ’n huis in die berge te bou.

Die Royal Arts Town-amfiteater op Riebeek-Kasteel.Foto: Neil Geldenhuys

Hannes van Wyk, akteur en aanbieder van Kwêla, se solostuk Sê groete vir Ma begin op 5 Februarie. Dit handel oor die grootwordjare van ’n sensitiewe plaasseun en sy verhouding met sy ma. Die stuk sal spreek tot “elkeen wat ’n ma gehad het of self ’n ma is”. Die regie is deur Sandra Prinsloo.

Op 5 Maart kom die musiek van die legendariese Franse kabaretkunstenaar Jacques Brel in die kollig in die produksie The Shadow of Brel. Die sanger, komponis Godfrey Johnson verleen emosionele diepte en intensiteit aan die tydlose liedere van Brel.

Gepas op Gekkedag, 1 April, is die nar Marc Conc Colli op die verhoog met sy tasse vol streke wat hy uitpak tot groot vermaak van sy gehoor. Colli het oorsee as nar gewerk voor hy hom weer in Suid-Afrika gevestig het.

Produksies vir 16 en 30 April word nog bevestig.

David Muller as oom Schalk Lourens.

Elke produksie word net vir die naweek aangebied. Vir besprekings en besonderhede besoek die webblad www.artstown.co.za

• Op 2 Oktober bied Riebeek-Kasteel ’n Lenteviering aan, wat ’n kleurryke straatoptog, ’n program van kuns en vermaak deur The Olive Branch Project sowel as ’n mark ten bate van die Dierebeskerming, insluit. Verskeie eetplekke het spesiale afslag-spyskaarte en winkels bly langer oop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.