Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Rol van teater gaan wees om mense te genees

Plaaslike teaters gaan waarskynlik nog lank gesluit bly weens die Covid-19-pandemie en sosiale distansiëring. Laetitia Pople het met twee onafhanklike teatereienaars gepraat oor die verreikende impak, juis op klein teaters sonder befondsing.

Daphne Kuhn, eienaar en bestuurder van die Theatre on the Square in Sandton. Foto’s: Verskaf

Toe die staat van inperking einde Maart weens die koronavirus aangekondig is, het Suid-Afrikaanse teaters se deure gesluit en oornag was hul inkomste uit kaartjieverkope tot niet. Groot teaters soos die Baxter en die Fugard in Kaapstad en die Staatsteater in Pretoria het intussen aanlyn programme bekend gemaak om steeds in kontak met hul gehore te probeer bly. Van die groter teaters vra skenkings van die publiek om hul bedryfskoste te help dek. Dit blyk kleiner teaters, wat dalk nie die infrastruktuur of netwerke het nie, is in ’n groot penarie.

Daphne Kuhn van die Theatre on the Square in Sandton, Johannesburg

Daphne Kuhn moes haar teater se program tot die einde van die jaar kanselleer. Opvoerings van nuwe, innoverende toneelstukke van die plaaslike dramaturge Paul Slabolepszy, Mike van Graan en Daniel Mpilo Richards, asook ’n komedievertoning van Loyiso Madinga, optredes van internasionale kunstenaars en ’n plaaslike produksie van die West End-stuk A German Life, met Antoinette Kellermann in samewerking met die Kaapstadse Fugard-teater, is alles onbepaald afgestel.

Sy glo dat die bywoning van teaters vir minstens ’n jaar ontwrig gaan wees. “Wanneer ons ons deure wél oopmaak gaan die teaterervaring baie anders wees. Dit gaan moeilik wees vir die bedryf en die publiek, maar ons gaan dit maak werk omdat ons glo dat teater ’n noodsaaklike rol vervul in ons samelewing,” sê Kuhn.

Die veiligheid van die teatergangers en haar personeel is haar eerste prioriteit. Sy is wel bekommerd oor die koste van ontsmetting. “Dit gaan baie duur wees om die teater streng en gereeld te ontsmet. Dit gaan ook tyd verg om die koors van die personeel, kunstenaars, vryskutte en die publiek elke dag te meet.

“Daarby moet ons daarop aandring dat almal maskers dra en ons moet die sitplekke op ’n ander manier indeel sodat getalle beperk kan word.”

Dit gaan baie duur wees om die teater streng en gereeld te ontsmet. Dit gaan ook tyd verg om die koors van die personeel, kunstenaars, vryskutte en die publiek elke dag te meet.
Daphne Kuhn

Produksies gaan dus veel kleiner moet wees vir ekonomiese redes, sê sy.

“Dan dink ek ook ons vermaakkeuses gaan ligter in aanslag moet wees, om die gehore se gemoed te lig ná die donker tyd. Ons kreatiewe kunstenaars is reeds besig met stukke oor hul ervaring van die tyd van inperking.”

Sy hoop om binnekort opdragwerke vir komedies vir plaaslike kunstenaars te gee.

“Dit is belangrik dat ons ons menslikheid vier, ons diversiteit eer, mekaar ondersteun en onderskraag, daarvoor is die teater ideaal. Teater maak die gees gesond.”

Die teater se weeklikse klassieke musiekkonserte oor die middagete, gemik op die kantoorwerkers in die omgewing, sal dan voortgaan en sy verwag ook kleiner konserte vir die aand.

Teater maak die gees gesond.
Daphne Kuhn

Die woorde “die nuwe normaal” ontstem haar. Die teater as kunsvorm steun al eeue op “lewende” gehore, waar mense saamkom om te deel in ’n ervaring.

“Teater is ’n opwindende en onmiddellike ervaring, waarop die gehore reageer en by betrokke raak. As almal ver uit mekaar sit in die ouditorium, verloor ons dit.”

Hoewel die teater nou net tydelik gesluit is, bestaan die moontlikheid gewis dat die deure vir altyd toe kan maak. Haar teater op Nelson Mandela Square in die hartjie van Sandton bestaan al 25 jaar en daar is al meer as 2 500 produksies opgevoer.

“Finansiële uitdagings, gesondheidsbeperkings en die verskeie digitale moontlikhede bedreig ons voortbestaan.”

Sonder die inkomste van kaartjieverkope en die aanbied van geleenthede weet sy nie hoe sy “die bedryfskoste, produksie-onkoste, huur, munisipale dienste asook die vaste personeel se salarisse” gaan kan dra as die teater vir ’n jaar toe bly nie. Die borgskap van Auto & General het verstryk en is nie weer hernu nie, en as ’n private teater ontvang hulle geen steun van die regering nie. Sy rig ’n pleidooi aan die sakesektor om te help om die teater aan die gang te hou.

“Dit is nou moeiliker as wat dit ooit was.”

Tiffany Schultz, eienaar van The Courtyard Playhouse, wat in Januarie sy deure in Kaapstad oopgemaak het. Dit was voorheen die Alexander Bar-restaurantteater.

Die eienaars van The Courtyard Playhouse in Kaapstad, Kemsley Dickinson en Tiffany Schultz.

Skaars drie maande nadat dit geopen het, moes The Courtyard Playhouse op 16 Maart sy deure sluit en sy program tot die einde van die jaar opskort.

“Ons besit ’n teater in Dubai, wat toe reeds twee weke toe was weens die pandemie. Ons het geweet wat kom.”

Hulle (sy en haar man, Kemsley Dickinson) het bykans al hul spaargeld gestort in die herontwerp en opknapping van die teater, wat eens as die Alexander Bar-restaurantteater bekend was.

“Ons verhuurder is ondersteunend en het toegewings gemaak wat huurgeld betref, maar kan ons nie vir ’n onbepaalde tyd bystaan nie. Hulle is besorg oor onkoste en nie soseer oor die bydrae wat die teater tot die kulturele lewe van Kaapstad maak nie. Dit is nie ’n welsynsorganisasie nie.”

Sonder enige ander finansiële bystand en netwerke in Kaapstad is die teaterpaar besorg oor die lewensvatbaarheid van die teater as dit onder die nuwe bepalings van sosiale distansiëring oopmaak.

“Daar is net 40 sitplekke in die teater en as ons net 30% van die sitplekke mag volmaak, sal dit ons meer kos om oop te bly as om gesluit te wees. Ons sal nie ons personeel en kunstenaars kan betaal nie.”

Hulle sal afleggings moet oorweeg net om te kan oopmaak en het reeds aansoek gedoen by die regering vir die noodfonds-uitbetalings om hul personeel se salarisse te help betaal.

Daar is net 40 sitplekke in die teater en as ons net 30% van die sitplekke mag volmaak, sal dit ons meer kos om oop te bly as om gesluit te wees.
Tiffany Schultz

Sy glo ook mense se besteebare inkomste gaan in die volgende maande, dalk jare gekortwiek wees, en teater kan dan as ’n luukse beskou word.

Hulle bied geen aanlyn inhoud aan om gehore te behou of ’n klein inkomste te genereer nie, soos ander teaters wel doen.

“Ons het op ons teater in Dubai gefokus, dit is voor Kaapstad, wat die pandemie betref en daar het ons ’n sterk ondersteuningstelsel. Ons klou vir al wat ons kan aan ons pragtige klein teater in Kaapstad. Ons het ’n wonderlike, talentvolle span wat ons baie graag wil behou. Daar is meer as genoeg kitskosplekke in Strandstraat, ons wil nie hê ons teater moet ook een word nie!”

Meer oor:  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Teater  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.