Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Rooivalk’ oorrompel
Richard September in die produksie Rooivalk, wat met drie Fiësta-pryse vereer is.Foto’s: Jaco Marais
Tobie Cronjéas juf. Rottenmeier in Heidi, wat as die beste musiekgedrew produksie aangewys is. Foto: Jaco Marais

Rooivalk, ’n solostuk oor ’n seun se grootwordjare in Limpopo, het  Donderdagaand met drie kykNET-Fiëstas weggestap by ’n luisterryke prysaand in die Kunstekaap in Kaapstad.

Dié pryse huldig prestasie op die land se kunstefeeste.

Rooivalk is as beste algehele aanbieding op verlede jaar se nasionale kunstefeeste aangewys, terwyl die akteur Richard September by ’n rits pryse vir sy toneelspel in Rooivalk nou ook die Fiësta vir beste vertolking in ’n solovertoning voeg.

Die intieme, hoogs visuele produksie wat die teaterganger bykans oombliklik aan die hart gryp, het ook aan die regisseur Nico Scheepers ’n derde Fiësta, dié vir beste nuutgeskepte Afrikaanse produksie, besorg.

Francois Toerien en Kosie Smit se lighartige musiekspel Heidi het twee Fiëstas ontvang: vir musiekgedrewe produksie in ’n teater en vir teaterontwerp.

Ilse Klink is vereer as beste aktrise vir haar vertolking van die smous Priscilla in Kristalvlakte. Dit is ’n verwerking deur Amy Jephta van Bertolt Brecht se Mutter Courage und ihre Kinder waar die konteks van die Tweede Wêreldoorlog verplaas is na die Kaapse ­Vlakte.

Stefan Erasmus is as beste akteur uitgesonder vir sy vertolking in die tweemanstuk As. Die drama van die Kaapse teaterskepper Philip Rademeyer het ontstaan in reaksie op drie gewelddadige aanvalle op gay mans in die Wes-Kaap.

Dawid Minnaar en Anoecha Krüger. Minnaar is as beste byspeler benoem vir sy spel in Die huis van Bernarda Alba.

As beste byspelers is Dawid Minnaar uitgesonder vir sy vertolking van ’n huisbediende in Die huis van Bernarda Alba. en Nicole Holm vir haar vertolking in In ongenade, die Afrikaanse verwerking deur Jaco Bouwer van JM Coetzee se ­Disgrace.

Sy soepel regie van Die gangsters het aan Marthinus Basson die Fiësta vir regie besorg. Die produksie is tot eer van dr. Benoni Dehaeck en sy Breughel-projek in Cloetesville opgevoer by die US Woordfees.

Faith Kinniar is aangewys as die beste opkomende kunstenaar vir haar vertolking in Valencia. In dié tweepersoonstuk, wat deel was van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees se Uitkampteater, is sy Valencia Malgaas, ’n bekkige karakter wat die mense laat lag en huil.

Dié innoverende projek is geskoei op Nederland se Tentjiesteater, en behels optredes elke 30 minute in ’n tentedorpie voor die burgersentrum op Oudtshoorn. Toegang beloop net R20 per vertoning. Dié opwindende inisiatief is gisteraand met die Bloustoel-prys vereer.

Die pianis Charl du Plessis se produksie Big Band Boogie Woogie op die KKNK is as beste musiekgedrewe produksie in ’n arena uitgesonder. Dié Steinway-kunstenaar en sy trio gee hier nuwe lewe aan treffers van die boogie- en swing-era. Op ’n ander noot is Hunkering na die ses as beste musiekproduksie op ’n podium aangewys. Dit was ’n Suidoosterfeesproduksie met die sopraan Lynelle Kenned en bariton Clint Lesch.

Stefan Temmingh en Erik Dippenaar se Corelli & Co het as die beste klassiekemusiek-vertoning op die feeste uitgetroon.

Alex Hamilton is vereer vir prestasie in visuele kuns vir sy werk as kurator van die ­visuelekunsprogram op die Woordfees.

Die Woordfees het met agt Fiëstas die meeste op die aand ingehark en die KKNK het ses. Die gunstelingfees van die jaar was die Innibosfees op Mbombela. Dit word deur die publiek aangewys.

Die Stellenbosse dirigent en eertydse afrigter van die US-koor Acáma Fick, die mediaman Ton Vosloo en die sanger Alvon Collison is vir hul lewenswerk vereer.

Die huis van Bernarda Alba word op die Woordfees van 3 tot 12 Maart opgevoer. Twee nuwe produksies van Scheepers, Nêrens Noordkaap en Die fliek, en een van Rademeyer, Wild, debuteer ook op die fees.

Meer oor:  Produksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.