Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
SA akteur wen BroadwayWorld UK-prys
Sifiso Mazibuko Foto: www.sifisomazibuko.weebly.com

Die Suid-Afrikaanse akteur Sifiso Mazibuko het die BroadwayWorld UK-prys vir beste akteur in ’n jare lange West End-vertoning gewen.

Mazibuko het die prys vir sy rol as Aaron Burr in die musiekspel Hamilton gewen, wat sedert Desember 2017 in die Victoria Palace-teater in Londen se gesogte West End op die planke was en onlangs ten einde geloop het.

Hy het die prys voor die akteurs Alistair Brammer (Wicked), Hayden Tee (Matilda), Layton Williams (Everybody’s Talking About Jamie), Tim Howar (Phantom of the Opera) en Tom Xander (The Book of Mormon) weggeraap.

Mazibuko kon nie sy opgewondenheid oor die prys op Twitter beteuel nie.

“Dankie aan almal wat vir my gestem het,” het hy getwiet. “Dis ooglopend dat die einde van my reis met die vertoning mooi is, so dankie aan almal!”

Mazibuko, ’n boorling van Kimberley in die Noord-Kaap, het in 2009 sy B-graad in musiekteater aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie behaal, voor hy in 2015 met behulp van ’n beurs sy magistergraad in toneelspel aan die Ohio State-universiteit in Amerika verwerf het.

Hy het in dieselfde jaar na Londen verhuis toe hy die rol van Marvin Gaye in die musiekspel Motown: The Musical, wat ook op die West End aangebied is, losgeslaan het. Hy het dié rol prysgegee toe hy die rol in Hamilton gekry het.

Sifiso Mazibuko in die musiekspel Hamilton. Hy het die rol van Aaron Burr vertolk. Foto: Twitter

In ’n onderhoud met TimesLive in 2016, het Mazibuko, wat ook die junior burgemeester van Kimberley was, gesê hy het ’n loopbaan as politikus of prokureur oorweeg, maar “die toneelspel-gogga het gebyt”.

Hy het voor sy vertrek na Amerika in heelwat musiekspele in Suid-Afrika opgetree, onder meer Sweet Charity, Ragtime, Shaka Zulu The Musical en Dream Girls The Musical.

Benewens advertensies vir OUTsurance, Cotlands en Pick n Pay, het hy ook in 2012 ’n rolletjie in die Afrikaanse rolprent Pretville gehad. – Saamgestel deur Christiaan Boonzaier met bykomende bronne: www.sifisomazibuko.weebly.com, www.theatre.osu.edu, www.broadwayworld.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.