Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
SA akteurspaar in VSA se voorlesings op internasionale fees

Die akteurspaar Jaci en Gys de Villiers, wat deesdae in die VSA woon, het onregstreeks daarvoor gesorg dat drie Suid-Afrikaanse toneelstukke vanjaar op die Amerikaanse Voices International-fees voorgelees word.

Een van die toneelstukke open boonop die fees, wat vanjaar die tweede keer deur die Jersey City-teater aangebied word.

Gys en Jaci de Villiers
Gys en Jaci de Villiers

Dit spruit uit virtuele teksvoorlesings wat die De Villiers-egpaar, wat sedert 2015 in New York woon, die afgelope ses maande elke Saterdag privaat aanbied.

Olga Levina, feesdirekteur, woon ook hul voorlesings by en het besluit sy wil Suid-Afrikaanse tekste insluit.

Shoes & Coups: A Paradox of the Absurd, Palesa Mazamisa se satiriese debuuttoneelstuk, wat in 2018 in die Markteater in Johannesburg op die planke was, open Vrydag om 16:00 (Suid-Afrikaanse tyd) die fees, wat tot 25 Oktober virtueel aangebied word.

Die ander toneelstukke is Fordsburg’s Finest deur Paul Slabolepszy en Lost Property deur Megan Furniss.

“Daar is ’n kombinasie van teksvoorlesings en toneelstukke wat vir die fees verfilm is,” sê Jaci, wat vir die batebestuursfirma Blackstone werk.

“Die drie Suid-Afrikaanse toneelstukke word egter net voorgelees, maar dis voorbereid en ingeoefen. Verder is daar ook paneelbesprekings.”

Die Suid-Afrikaanse deelnemers is Slabolepszy, Mazamisa, Furniss, Gys en Zane Gillion.

Shoes & Coups
Die toneelstuk 'Shoes & Coups: A Paradox of the Absurd' open Vrydag die Voices International-fees in die VSA. Foto: Iris Dawn Parker

“Ons virtuele teksvoorlesings op Saterdae is nie oop vir die publiek nie, maar ons het al kunstenaars van oor die wêreld gehad wat daaraan deelneem,” sê Jaci.

“Agterna het ons gesprekke oor ras en protes, en dit het ons aan ’n geweldige klomp Suid-Afrikaanse werk bekend gestel.”

Jaci beskryf Fordsburg’ Finest, oor ’n Amerikaanse vrou wat terugkeer na Suid-Afrika, haar geboorteland, as ’n toneelstuk wat dalk sy tyd vooruit was.

“Ek dink toe die toneelstuk (met onder andere Marius Weyers) sy debuut gemaak het, was mense voos vir protes. Mense wou ander goed sien. Maar as jy vandag daardie teks lees, is dit asof dit gister geskryf is.”

Gys tree in dié stuk op.

Lost Property sou vanjaar in April in die VSA opgevoer word, maar weens die koronaviruspandemie was dit nie moontlik nie.

Jaci sê hulle beplan om hierdie toneelstukke volgende jaar op die planke te bring.

“Ondanks die impak van die Covid-19-pandemie het ons die afgelope paar maande baie tyd vir voorproduksie gehad. So wanneer die (spreekwoordelike) hekke heropen, sal ons behoorlik gereed wees om teater aan te bied.”

• Toneelstukke uit ander lande is ook by die program ingesluit.

• Die Suid-Afrikaanse tye van die vertonings:

Shoes & Coups: A Paradox of the Absurd, Vrydag om 16:00, Lost Property Saterdag om 18:00 en Fordsburg’s Finest op 23 Oktober om 16:00.

Toegang tot die Zoom-vertonings kos $10.

Besoek jctcenter.org om te bespreek en na die vertonings te kyk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.