Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
SA kry reisende jeugfees – ook vir babas
De Stilte, ’n Nederlandse maatskappy, bied die produksie HiHaHutBuilders op die Cradle of Creativity-kunstefees in Kaapstad aan. Foto: Hans Gerritsen

’n Kunstefees wat slegs kinderproduksies en jeugteater gaan aanbied – ook vir babas en kinders met gehoorgestremdhede en outisme – begin eersdaags in Kaapstad.

Maar Kapenaars sal moet spring! Die Cradle of Creativity-kunstefees, wat deur die Suid-Afrikaanse vleuel van die Internasionale Vereniging vir Teater vir Kinders en Jongmense (Assitej SA) op die been gebring is, gaan nie wortelskiet in die Moederstad nie: Die fees, wat elke twee jaar aangebied sal word, maak in 2021 ’n draai in Gauteng en in 2023 in Noordwes.

Volgens Yvette Hardie, direkteur van Assitej SA, is ’n reisende kunstefees uniek in Suid-Afrika en het dit die potensiaal om tot ’n nasionale kindergehoor te spreek.

“Nuwe gehore en kunstenaars sal die handelsmerk ook konstant vernuwe en Assitej SA toelaat om werklik nasionaal uit te reik,” sê sy.

“Ons glo dit is ook ’n aantreklike kenmerk vir finansiers en vennote in al die uithoeke van die land.”

Hardie sê die afskopfees is grootliks geïnspireer deur Assitej se wêreldkongres, wat reeds in 2017 in Kaapstad ’n Cradle of Creativity-kunstefees aangebied het. Nou bied Assitej SA vir die eerste keer hul eie weergawe van dié fees aan en gee dit ’n eg Suid-Afrikaanse kleur en geur met 30 verskillende produksies waarvan byna ’n derde deur buitelandse kunstenaars aangebied word.

Die danser Lulu Mlangeni tree in die produksie Chiffonade op. Foto: Verskaf

Die fees se program is op spesifieke ouderdomsgroepe gemik, veral laerskoolleerlinge en tieners, maar jonger gehore word nie uitgesluit nie.

’n Nuutjie op die program is produksies soos PuppeTrix Theatre se Babah, spesifiek vir babas tussen 4 en 12 maande oud, en Storywood Theatre se Sail Away, vir peuters onder twee jaar oud.

“Ek dink teater vir babas laat hulle toe om ’n verkorte en gefokusde weergawe van die werklikheid te ervaar,” sê Hardie. “Dit prikkel hul nuuskierigheid en gee hulle die geleentheid om die plesier wat hulle daardeur ervaar, met hul ouers of versorgers te deel. Dit is lieflik om te kyk hoe babas ’n teaterstuk ervaar.”

Daarmee saam bied die fees ook ’n weergawe van Sail Away vir kinders met outisme aan. See Think Wonder se The Tree Song is ook vir kinders tussen 1 en 4 jaar oud wat ’n gehoorgestremdheid het.

“Ons glo teater is vir almal en dat elke mens verdien om die kunste te ervaar,” sê Hardie. “Inklusiwiteit lê Assitej baie na aan die hart en ons werk hard om te verseker alle gehore word betrek. Om werk te deel wat spesiaal vir kinders met outisme of ’n gehoorgestremdheid of enige ander struikelblok vervaardig is, is deel van ons taak om regverdigheid te verseker; dit is eintlik ’n kwessie van maatskaplike geregtigheid,” sê sy.

Die fees se volledige program is hier beskikbaar.

  • Assitej SA se eerste Cradle of Creativity-kunstefees vind van 20 tot 25 Augustus in die Baxter-teater, die Theatre Arts Admin Collective, die Magnet-teater en die Guga S’Thebe Kuns- en Kultuur-sentrum in al vier die venues in Kaapstad plaas. Kaartjies tussen R30 en R80 kan by Webtickets bespreek word.
Meer oor:  Teater  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.