Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
SA regisseur wil ‘grootste verhoog ter wêreld’ skep

Die nekslag wat die vermaakbedryf weens die Covid-19-pandemie toegedien is, het ’n Suid-Afrikaner in Brasilië aangespoor om “die grootste verhoog ter wêreld” aanlyn te skep.

Clive Alves Moore, regisseur, sanger, danser en akteur, het die webwerf Fan4Me geskep waarop kunstenaars hul werk teen betaling in Amerikaanse dollar of euro kan aanbied.

Alves Moore sê per e-pos vanuit Sao Paolo aan Netwerk24 dat Fan4Me geskep is “om die manier te verander waarop kunstenaars, skeppers en ondernemings se kuns na waarde geskat word”.

“Die wêreldkrisis se uitwerking was die felste op die vermaakbedryf,” sê hy.

“Miljoene ongelooflike kunstenaars die wêreld oor was oornag werkloos. Toere, geleenthede en TV-programme is afgestel, en al daardie mense wat daardeur ’n inkomste verdien het, het skielik niks gehad nie.

“Fan4Me is ’n oplossing vir dié probleem en word hopelik ’n grondslag vir finansiële steun vir skeppers wêreldwyd.”

Alves Moore sê die platform laat kunstenaars toe om profiele te skep waardeur hulle 24 uur per dag aanhangers in 200 lande kan werf. Kunstenaars deel hul inhoud – enigiets van foto’s, skryfwerk, musiek, podsendings of video-inhoud – op hul profiel, en hul aanhangers betaal dan vir toegang tot dié inhoud.

Clive Alves Moore, die skepper van Fan4Me. Foto: f
Clive Alves Moore, die skepper van Fan4Me. Foto: fan4me-webtuiste

Alves Moore sê kunstenaars sal self kan besluit wat hul kaartjiepryse is en wat hulle as promosies wil aanbied. Hulle sal ook kaartjies vir ’n spesifieke vertoning kan aanbied of intekengeld kan vra wat aanhangers toegang tot al hul vertonings sal gee.

“Die sakemodel is dat skeppers subskripsies van een, drie, ses of 12 maande kan aanbied en voorskoue of lokprente van 15 sekondes kan vertoon om hul inhoud of hul Fan4Me-profiele op Facebook of Twitter te bemark.”

Kunstenaars wat bestaande inhoud op Fan4Me laai of self nuwe inhoud vir die platform skep, sal volgens Alves Moore dadelik 80% van die inkomste wat uit kaartjieverkope verdien word, in ’n PayPal-rekening ontvang.

“Hulle hoef nie te wag vir die geld wat hulle wettiglik verdien het nie. Die ander 20% word deur Fan4Me gebruik vir die wolkberging van die inhoud en produkontwikkeling.”

Kunstenaars het ook die opsie om professionele hulp met die vervaardiging van nuwe inhoud vir die platform te kry. Die vervaardiger, regisseur en choreograaf Owen Lonzar is aangestel om kunstenaars in Suid-Afrika as Fan4Me se kreatiewe regisseur by te staan.

Lonzar sê aan Netwerk24 dat talle plaaslike kunstenaars groter gehore aanlyn wil bereik én uit aanlyn vertonings wil geld maak, maar dat hulle nie die geld of hulpbronne het om dit te vermag nie.

“Ek bied my kreatiwiteit en ondervinding met die vervaardiging en regie van aanlyn vertonings tydens die eerste jaar van die staat van inperking, asook ’n kameraman, redigeerder en klank-ateljee aan dié kunstenaars aan,” sê hy.

“Dit sal die kunstenaar niks kos nie, maar ons sal die kaartjieverkope deel, wat afhangende van die projek onderhandel sal word.

“My werk sal wees om te help met die konseptualisering, vervaardiging en regie van die projek. Ek het my eie idees vir projekte en het reeds ’n paar mense daaroor genader, maar as enigiemand anders ook idees het, kan hulle gerus uitreik.”

Owen Lonzar gaan in sy rol as kreatiewe regisseur van Fan4Me in Suid-Afrika kunstenaars help om hul inhoud vir die platform te skep en af te rond. Foto: Gerry Pelser

Lonzar is reeds besig om sy eerste Fan4Me-projek met die Abafazi-tromgroep te vervaardig.

“Die platform is eintlik perfek vir kunstenaars wat die internasionale mark wil betree, of vir dié wat in die buiteland getoer het, maar hul bedrywighede weens die pandemie moes staak. Hulle kan nou deur Fan4Me steeds hul gehore bereik.”

Alves Moore sê die webwerf, wat onlangs bekend gestel is, word stadig maar seker met nuwe inhoud aangevul. Hy nooi kunstenaars uit om ’n gratis profiel op die webwerf te skep en dit met hul inhoud uit te bou.

“Ons hoofdoel is om Fan4Me in die grootste verhoog ter wêreld te omskep,” sê hy.

Lonzar stem saam.

“Ek hoop dit maak deure vir Suid-Afrikaanse kunstenaars aanlyn oop. Ek dink baie Suid-Afrikaners is bang om die aanlyn verhoog te betree – en hulle is ook hoopvol dat regstreekse vertonings (in teaters) binnekort sal ‘terugkeer’. Ek wil nie soos ’n onheilsprofeet klink nie, maar ek dink dit gaan baie langer vat as wat ons dink en ons moet aanlyn daarom baie meer verken.

“Die res van die wêreld doen dit reeds – dit is tyd dat ons dit ook omarm.”

  • Kunstenaars of ander belangstellendes wat met Lonzar in verbinding wil kom, kan ’n e-pos na fan4me.sa@fan4me.com stuur.
Meer oor:  Paypal  |  Twitter  |  Facebook  |  Tv  |  Dans  |  Musiek  |  Teater  |  Pandemie  |  Fliek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Loket  |  Staat Van Inperking  |  Inperking  |  Flieks  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.