Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Stromingsdiens vir teaterstukke duik in die hek

’n Plaaslike stromingsdiens wat minder as ’n jaar gelede op die been gebring is om teaterstukke aanlyn te stroom en teater-akteurs van ’n broodnodige inkomste te voorsien, het weens ’n gebrek aan steun gesluit.

Die South African Theatre On Demand-stromingsdiens (Satod) is gedwing om te sluit. Foto: Argief

Luidens ’n mediaverklaring is die South African Theatre On Demand-stromingsdiens (Satod) Vrydag gedeaktiveer nadat dit in Junie verlede jaar geloods is.

Kunstenaars en gehore wat stadig na teaters terugkeer en ’n gebrek aan finansiering om die platform volhoubaar te bestuur, was glo van die spykers in die platform se doodskis.

“Die platform was ’n hartstaak, dit is uit ons liefde vir die kunste en ten bate van die volhoubaarheid van kunstenaars tydens die pandemie gebore – maar ek is tans in ’n posisie waar ek die bestuur van die platform alleen behartig,” sê Blythe Stuart Linger, medeskepper van Satod, in die verklaring.

“Verkope het oor die afgelope paar maande stelselmatig afgeneem weens kunstenaars wat stadig maar seker na ruimtes (soos teaters) terugkeer en mense wat weer die wêreld betree. Hierdie afname maak die platform onvolhoubaar.”

Linger sê hy het aansoek gedoen om toelae om Satod tegnies te ontwikkel en nuwe inhoud vir die platform te skep, maar dié aansoeke was onsuksesvol.

“Ek wil elke kunstenaar, fees, vervaardiger en borg bedank wat die rit saam met ons onderneem het, wat deel was van iets pret, vars, iets wat deur kunstenaars vir kunstenaars geskep is, en iets wat trots Suid-Afrikaans is.”

Blythe Stuart Linger Foto: Argief

Hy sê hy is wel trots daarop dat hul inkomste dubbeld soveel was as dít wat hulle moes uitgee om die platform op die been te kry.

“Dalk sal ek in die toekoms ’n geleentheid kry om nuwe lewe in die platform te blaas en dit in ’n argief vir Suid-Afrikaanse teaterstukke te omskep.”

Linger het voorheen aan Netwerk24 gesê dat hy, Stefan Erasmus en Dara Beth berge versit het om Satod verlede jaar blitsvinnig te skep nadat teaters landwyd gesluit en gehore weens die staat van inperking in hul huise vasgekeer was.

Die platform het uit die staanspoor 23 nuwe en bestaande opnames van teaterstukke aangebied en ook hande gevat met die Vrystaat Kunstefees, wat hul Snelstroomsluipkyk-reeks geheel en al op Satod gestroom het. Teaterskeppers en -akteurs het die meerderheid van die inkomste wat verdien is, in hul eie sakke gesteek.

Linger het Woensdag aan Netwerk24 gesê hy verwelkom steeds idees of voorstelle vir hoe hy Satod kan laat herleef, soos feeste wat die platform wil gebruik om aanlyn inhoud uit te saai.

“Dit sal wel finansiering kos om die platform in stand te hou en te bestuur,” sê hy.

Belangstellendes kan ’n e-pos na blythe@bslmanagement.com stuur.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.