Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Kollig op skrywer se lesbiese verhouding

Die liefdesverhouding tussen die skrywer Gertrude Stein en Alice B. Toklas – “wat eintlik ook ’n tradisioneel heteroseksuele verbintenis was” – word geskets in die toneelstuk Gertrude Stein and a Companion wat tot 16 November in Theatre on the Square in Sandton opgevoer word.

Lynita Crofford en Shirley Johnston as Alice B. Toklas en Gertrude Stein in Gertrude Stein and a Companion.

“Verskillende soorte gehore vind aanklank by hul liefdesverhaal,” sê Lynita Crofford wat die rol vertolk van Toklas, waarvoor sy vroeër vanjaar die prys vir beste vertolking deur ’n vrouespeler op die internasionale Dublin-gay-teaterfees in Ierland ontvang het.

“Hulle was hul tyd vooruit, maar daar was ook ’n tradisionele aard aan hul verhouding,” sê Crofford oor dié twee vroue wat in die 1800’s gebore is.

“Alice het saam met die ander vroue in die kombuis gesit en gekook en gebrei. Gertrude was by die mans, mense soos die skrywer Ernest Hemingway en die kunstenaar Pablo Picasso.”

Shirley Johnston vertolk die rol van Stein en Chris Weare is die regisseur van die stuk wat met kwinkslae die menslikheid van die twee vroue se verhouding uitbeeld.

“Dit beeld die verhouding uit binne ’n bepaalde sosiale en politieke konteks,” sê Weare.

“Ook wat die kunssinnigheid daarvan betref. Amerikaners in Parys in ’n spesifieke tydperk.”

Die stuk begin ná Stein se dood in 1946.

Shirley Johnston
Lynita Crofford
Chris Weare, die regisseur van die toneelstuk Gertrude Stein and a Companion.

“Daar is terugflitse uit Alice se oogpunt,” sê Crofford. “Die jare spring in hierdie storie heen en weer.”

Toklas is meer as 20 jaar ná Stein dood.

Dele van die teks, deur Samuel French, steun baie op The Autobiography of Alice B. Toklas, die pseudo-biografie wat Stein geskryf het, en The Alice B. Toklas Cookbook wat Toklas ’n paar jaar ná Stein se dood uitgereik het.

“Gertrude het die biografie geskryf, hoewel dit as Alice in die eerste persoon vertel word,” sê Johnston.

“Ek het met die lees daarvan reëls uit die teks herken presies soos ek dit sê. Die stuk gaan beslis meer oor hul liefdesverhouding as hul onderskeie persoonlike verledes.”

Toklas se finansiële stryd om oorlewing ná Stein se dood word ook in die stuk aangeroer.

Stein en Toklas is albei in die VSA gebore, maar het mekaar in Frankryk in 1907 ontmoet.

Johnston beaam die stelling dat Stein en Toklas hul tyd vooruit was.

“Ek dink Gertrude se grootste bydrae was om kunstenaars en skrywers te bevorder, eerder as die skryfwerk wat sy self gelewer het. Sy was ’n groot kunsversamelaar. Haar boeke is nie meesterstukke nie, maar Alice het in haar geglo. Dis ’n romantiese storie, dit hou jou in afwagting.”

* Vertonings is Dinsdae tot Saterdae om 20:15, met bykomende vertoning op Saterdae om 18:00. Kaartjies kos R100 tot R150. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.