Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Só hou Noah’s Art kunstenaars se kop bo water

’n Groep uitvoerende kunstenaars wat eerstehands die uitwerking van die Covid-19-pandemie op die kunstebedryf in Suid-Afrika beleef, het ’n organisasie gestig wat binne drie maande reeds byna 1 000 van hul kollegas met kospakkies en -koopbewyse bygestaan het.

Noah’s Art is in Februarie deur die choreograaf David Matamela en die aktrises Vicky Friedman, Talia Kodesh, Caryn Katz, Shelley Meskin, Lorri Strauss, Sharon Spiegel Wagner en Hannah Rudnicki begin om die rampspoedige impak van die pandemie op uitvoerende kunstenaars teen te werk.

Hul doelwit is om soos Noag se ark uitvoerende kunstenaars se kop bo water te hou – ’n doelwit wat hulle die afgelope drie maande met ’n spoed nagejaag het: Benewens R400 000 wat hulle reeds met behulp van die Angel Network ingesamel het, het 930 kunstenaars van oor die land kos gekry.

Friedman, wat in die verlede op die verhoog in onder meer Hairspray, Chicago, Thoroughly Modern Millie, Stepping Out en Boogie Nights te sien was, sê hul mikpunt is om binne die volgende maand nog 1 000 kunstenaars te steun.

“Ons hoop om ons deel te kan doen om die nood te verlig van mense om kos op die tafel te kan sit weens ’n gebrek aan werkgeleenthede.

“Die pandemie het ons regstreekse vertonings en sosiale byeenkomste meegesleur. Teaters is toe – sommige tydelik, ander heeltyds – so die oorgrote meerderheid van uitvoerende kunstenaars kon in meer as ’n jaar nie ’n inkomste verdien nie.

“Van hulle het net ’n reddingstou nodig, ’n bietjie steun tot hulle weer daartoe in staat is om (geld) te verdien.”

Friedman sê die vermaakbedryf in Suid-Afrika was vóór die pandemie “onvoorspelbaar, moeilik en ondergewaardeer”. Kunstenaars verdien in normale omstandighede nie baie geld nie en werk in die bedryf omdat hulle lief is daarvoor. Sy sê selfs die bekendste akteurs in die land het in die verlede nie in die geld gerol nie.

“Die situasie is nou nog meer beroerd,” sê sy.

“Vryskutte (uitvoerende kunstenaars) het nie heeltydse werkgewers op wie hulle in dié tyd kan steun nie; hulle kry ook nie veel steun by die staat nie. Hulle het geen ander uitweg nie, want hul vaardighede is om regstreeks voor groot gehore in venues op te tree.”

Noah’s Art probeer daarom ’n bietjie verligting aan dié kunstenaars verleen – en hulle kan selfs nog meer steun bied as die publiek ’n hand bysit en blikkies- of droë kos, asook goedere soos komberse en klere aan Noah’s Art skenk.

Die pandemie het ons regstreekse vertonings en sosiale byeenkomste meegesleur. Teaters is toe – sommige tydelik, ander heeltyds – so die oorgrote meerderheid van uitvoerende kunstenaars kon in meer as ’n jaar nie ’n inkomste verdien nie.
Vicky Friedman

Friedman sê dit is vir talle redes belangrik dat die publiek uitvoerende kunstenaars via die organisasie steun – en een daarvan is dat Suid-Afrikaners die uitvoerende kunste nodig het om ’n gesonde samelewing te bewerkstellig.

“Toe die pandemie toeslaan, het gemeenskappe op hul balkonne liedjies gesing en musiek gespeel, hulle het Netflix en TV gekyk om (van die werklikheid) te ontsnap, en hulle het met hul kinders op TikTok gedans.

“Musiek, dans en drama is so ’n groot deel van ons ontvlugting, ons genesing, en ’n manier vir die samelewing om hul uitdagings en drome aan te pak.

“Ons het ’n sterk bedryf vir die uitvoerende kunste nodig as ons ’n gesonde Suid-Afrika wil hê.”

  • Enigiemand wat Noah’s Art met skenkings wil steun, kan e-pos na noahsartcharity@gmail.com stuur.
  • Kunstenaars wat hulp by Noah’s Art soek, kan e-pos na dieselfde adres stuur of ’n boodskap op die organisasie se Facebook-blad vir hulle stuur. Meer inligting is ook op dié Facebook-blad beskikbaar.
Meer oor:  Chicago  |  Netflix  |  Tiktok  |  Tv  |  Facebook  |  Inperking  |  Flieks  |  Koronaviruspandemie  |  Staat Van Inperking  |  Fliek  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Loket  |  Pandemie  |  Covid-19  |  Covid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.