Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Só stort teaterplafon neer, vertel SA man

Vier teatergangers is Woensdagaand in die Piccadilly-teater in Londen beseer toe ’n gedeelte van die teater se plafon tydens ’n vertoning van Death of a Salesman ineengestort het.

’n Gedeelte van die plafon in die Piccadilly-teater in Londen het ineengestort. Foto: Twitter/@KBGDunn

Daniel Galloway en Greg Karvellas, onderskeidelik besturende direkteur en artistieke regisseur by die Fugard-teater in Kaapstad, was toevallig tydens die voorval in dié teater in die wêreldbekende West End. Hulle is nie beseer nie.

Galloway het vanuit Londen aan Netwerk24 vertel dat die vertoning van Arthur Miller se teaterstuk sowat tien minute laat begin het. Die vertoning was net sowat tien tot 15 minute aan die gang, toe hy en Karvellas, wat in die voorste ry op ’n balkon gesit het, “vreemde klanke” vanuit die sitplekke onder hulle en die balkonne bo hulle gehoor het.

“Dit het ons ’n tydjie gevat om uit te pluis wat gebeur het,” sê Galloway. “Toe die ligte in die teater aangaan, kon ons vir die eerste keer sien dat die meeste van die mense onder ons hul sitplekke verlaat het en na bo kyk.

“Daar was op een tydstip ’n gegil van bo. Dit was in daai oomblik wat ’n mens se verstand na allerhande plekke begin dwaal.” Galloway het op sy Facebookblad geskryf hy het aanvanklik ’n aanval op die teater vermoed.

“Dit (die voorval) is werklik die laaste ding wat ’n gehoor verwag wanneer hulle in ’n donker teater na ’n regstreekse opvoering kyk,” sê hy.

Volgens Galloway was die nooddienste en teaterpersoneel “ongelooflik”, veral omdat hulle sowat 1 000 mense binne minute uit die teater na veiligheid geneem het.

Daar was op een tydstip ’n gegil van bo.
Daniel Galloway

“Soos ons uitgestap het, het ons die geleentheid gehad om met van die akteurs te praat, insluitende (die Amerikaner) Wendell Pierce,” sê Galloway.

“Hulle was platgeslaan dat so baie mense weggewys en teleurgesteld is. Ek het vir hom (Pierce, wat die hoofrol in die toneelstuk speel) gesê wie ek is en waar ek vandaan kom, en hy was baie innemend en aangenaam.

“Die akteurs was ook onseker oor wat volgende gaan gebeur. Die stuk se speelvak is kort, en ek onthou toe iets soortgelyk ses jaar gelede in die Apollo-teater in Londen gebeur het; die teater was baie lank toe.”

The Guardian berig dat paramedici drie mans en twee vroue op die toneel behandel het; vier is na ’n hospitaal geneem.

Dit is nog nie bekend wat die voorval veroorsaak het of wanneer die teater weer sy deure sal oopmaak nie. Galloway sê wel dat die teater ’n terugbetaling vir hul kaartjies aan al die teatergangers belowe het.

Meer oor:  Piccadilly-Teater  |  Greg Karvellas  |  Teater  |  Daniel Galloway  |  Londen  |  Fugard-Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.