Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Dié komedie gaan jou oor die natuur laat nadink

Al vertolk hy ’n komiese veldwagter in die solostuk Benny Bushwhacker: Human Nature, beskou die akteur Ben Voss natuurbewaring allermins as ’n grap.

Daarom wil hy met dié stuk uit die pen van John van de Ruit en met regie deur Janice Honeyman bewusmaking daaroor skep sowel as geld insamel.

Ben Voss in die solovertoning ‘Benny Bushwhacker: Human Nature’. Foto: Val Adamson

Dit word tot Sondag in Pieter Toerien se Studio--teater in Montecasino, Johannesburg, opgevoer.

Daarna volg talle optredes elders, wat ’n vertoning in die Atterburyteater in Pretoria op 13 November insluit.

“Dit is vir ’n goeie saak, want dit is ’n ernstige onderwerp,” sê Voss.

“Ons wil hê mense moet lag, maar ons wil die stuk afsluit met iets meer beduidend. Jy wil gehore ook ’n bietjie laat dink. Ek reken dit is wat goeie komedie bewerkstellig: Mense raak bewus van iets.”

Voss wil mense egter gerusstel: Die produksie ís baie komies.

“Maar Janice het gevra wat wil dié man bereik? Hy kan nie net bosstories vertel nie.”

Ná elke vertoning staan houers in die teater waarin mense geld kan skenk ten bate van die Lebombo Leopard Human Conflict Survey.

Tot dusver is R15 000 ingesamel.

Ben Voss wil met die komiese ‘Benny Bushwhacker: Human Nature’ mense van natuurbewaring bewus maak. Foto: Val Adamson

Voss en Van de Ruit het al dikwels die kragte saamgesnoer.

Hulle het onder meer die produksies Black Mamba, Green Mamba en Mamba Republic opgevoer.

Met Benny Bushwhacker het Van de Ruit alleen op die skryf gefokus.

“Ons kommunikeer wel daaroor. John neem die finale besluit oor die teks, Janice oor die regie en ek oor die vertolking.”

Voss geniet die solovertoning baie.

“Die politiek, rassisme en kultuur is by die deur uitgegooi. Die stuk fokus inderwaarheid op mense in die natuur. Almal het ’n reaksie op die natuur. Johnny is baie goed daarmee om daardie karakters te vind.”

Benny vertel onder meer van die man wat almal wil laat glo hy is ’n groot avonturier, terwyl hy nooit die kamp verlaat nie.

Dan is daar die millenniër vol nukke oor die swak selfoonontvangs, en ’n Duitse eienaar van ’n lodge, asook die reaksie van buitelanders op die natuur.

Die gehoor leer ook Benny se geskiedenis ken.

“Ek praat met my gewone stem. Ek was nog nooit ’n skerpskertser nie, waar jy miskien ’n verskerpte weergawe van jouself is. Ek gebruik nie ’n aksent of ’n sekere persona nie. Ek wou so na as moontlik aan myself bly.”

Hul liefde vir die natuur is ’n liefde wat Voss en Benny deel.

Voss en Van de Ruit was al dikwels saam op toer in parke en natuurreservate.

“Dit is ontvlugting. Jy gaan nie na die bos toe nie, dit kom na jou toe. Jy laat dit insink.”

*Vertonings in die Studioteater is Donderdag tot Saterdag om 20:00, Sondag om 15:00 en Saterdag om 16:00.

Verdere speelvakke:

*22 tot 26 November in die Savoyteater in Port Elizabeth;

*4 tot 9 November in die Hexagonteater in Pietermaritzburg;

*13 November in die Atterburyteater in Pretoria;

*15 en 16 November in die Playhouseteater in Somerset-Wes; en

*10 Desember tot 18 Januarie in die Baxterteater in Kaapstad.

Kaartjiespryse wissel. Bespreek by Computicket, iTickets of Webtickets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.