Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Sondheim-reus met knap spel en inkleding oorwin

Into the Woods

Theatre on the Bay

****

Into the Woods
Kate Normington in Into the Woods. Foto: Jesse Kramer

Om ’n musiekblyspel van die legendariese Stephen Sondheim aan te pak, moet jy baie dapper of ’n bietjie gek wees. Dié geniale komponis en liriekskrywer het immers destyds al dié genre op sy kop gedraai en word deur baie beskou as die voorste eksponent van die kunsvorm.

Met hul aanbieding van Sondheim se gewilde Into the Woods plaas Pieter Toerien en regisseur Steven Stead van KickstArt al die tweede keer hul geestesgesondheid (en beursies) op die spel. Hul Sweeney Todd: The Demon Barber of Fleet Street is ’n ruk gelede entoesiasties ondersteun en vleispasteiverkope het waarskynlik ’n bloeitydperk ervaar.

Into the Woods word wyd as ’n vermaning beskryf, maar is nooit prekerig of pedanties nie. Bekende sprokies word op hul kop gedraai. Sondheim vra wat sal gebeur as wense waar word en kan ’n mens regtig vir ewig gelukkig wees. Die slotsom is dat jy maar versigtig moet wees waarvoor jy wens.

’n Mens kan jou kwalik ’n beter verteller indink as Michael Richard. Met sy sonore stem kan jy ’n oorlog wen. “Eendag lank, lank gelede,” begin hy onder luide applous. In die kwartier lange proloog word hy kort-kort onderbreek deur onder meer Aspoestertjie (Haylea Heyns) wat na die koning se bal wil gaan, die stommerik Jan (Graeme Wicks) wat wens sy koei wil melk gee, ’n bakker (Earl Gregory) en sy vrou (Jessica Sole) wat ’n kind begeer en Rooikappie (Megan Rigby) wat brood na haar ouma wil neem.

Soos in enige sprokie moet daar ’n heks wees om dinge deurmekaar te krap. Met haar intuïtiewe tydsberekening, kragtige verhoogteenwoordigheid en presiese spel, hou Kate Normington die drade bymekaar. Jy besef later die heks is die mees moreel teenstrydige karakter op die verhoog. Soos sy immers self sing: “I’m not good; I’m not nice; I’m just right.” Normington se “Stay with Me” en “Children Will Listen” was treffend, maar ’n persoonlike gunsteling was die duet “No More” van Richard en Gregory. Dit het behoorlik die traankliere raakgeboor.

Gregory en Sole as die bakker en sy vrou is die gom wat die storie aanmekaar hou en albei was uitmuntend. Gregory se stem is soet en donker soos bergwater en sy karakter het diepgang wat sy ervaring en groei sedert sy eerste hoofrol in Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat weerspieël. Sole, wat ’n mens in David Kramer se Orpheus in Africa opgemerk het weens haar knap karakterisering en puik sang, was eweneens ’n gehoorgunsteling. Die lys van goeie vertolkings is te lank om hier te noem. Gaan luister gerus.

Ontwerper Greg King gebruik groot boeke om die karakters se leefwêreld te skep in ’n beperkte ruimte; elke boek word ’n huis of paleis as jy dit omdraai. Die woud is waar sinistere gebeure plaasvind en ook daar lê die reuse-boeke, oortrek van mos en boomwortels, soos altyd goed belig deur Tina le Roux.

Musiekregisseur Drew Bakker verdien ’n medalje dat hy die voorafopgeneemde begeleiding soos ’n lewende orkes laat klink en met allerhande truuks die sangers se lewe vergemaklik, want Sondheim kan ’n nagmerrie wees om te sing, om nie eens te praat van om soveel woorde onthou nie.

Into the Woods is soos die bonsai-musiekblyspele van Theatre on the Bay, maar daar is niks klein daaraan nie. Die regisseur, spelers en tegniese span kan hulself op die skouer klop dat hulle nog ’n Sondheim-reus oorwin het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.