Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Spel verras groot gehoor

Stefan Temmingh (blokfluit), Erik Dippenaar (klavesimbel) en OSM Camerata: Vrydagaand, 18 Maart 2016 Odeion, Bloemfontein.

Die eerste helfte van die program het bestaan uit Barok-blokfluitsonates met klavesimbel en die tweede helfte uit kontemporêre werke. Die Odeion was stampvol.

Stefan en Erik is albei wel meesters op die gebied van die Barok-styl. Hul spel is egter uniek in sekere opsigte. Hulle het ’n vernuwende benadering tot intense opwinding in hul vertolking. Hulle neem bestaande uitvoeringsbeginsels en voer dit tot ’n ongeëwenaarde vlak. Dit manifesteer veral in beweeglike tempo’s en geïmproviseerde versierings. Reeds in die aanvangsbeweging word die gehoor verras met gewaagde chromatiese versierings. Die vinnige bewegings is meestal lewenslustig, met meesleurende spoed en virtuose versierings voorgedra.

Ek het gewonder hoekom die Giga en Gavotta direk vóór pouse omgeruil was, totdat ek met verwondering gehoor het hoe die kort Gavotta gevolg word deur prettige variasies in tipiese Corelli bravura-styl vir sowel die blokfluit as klavesimbel. Dít het gesorg vir ’n opwindende afsluiting voor pouse.

Hul spel is albei tegnies onbesproke. Hulle speel alles met bemeesterde gemak, selfs versierings wat met asemrowende spoed aangebied word. Stefan het op ’n verskeidenheid groottes blokfluite gespeel; nie slegs C- en F-blokfluite nie.

Ná pouse is ’n verbeeldingryke beskrywende solowerk vir klavesimbel voorgedra. Hierna is avant garde-werke vir soloblokfluit aangebied. Die gebruiklike buitengewone hedendaagse speelwyses is met groot sukses aangebied. Stefan het blokfluit-kenners egter verras met totaal nuwe speeltegnieke in die Zahnhausen: om die blokfluit uit die dwarste te speel, flageoletspel, fluit en mikrotone met bepaalde hulpgrepe.

Die slotwerk was ’n dubbelkonsert vir blokfluit en klavesimbel, wat Hendrik Hofmeyr spesiaal vir hulle gekomponeer het. Hierin het Stefan op verskillende blokfluite gespeel, onder meer gelyktydig op twee verskillende blokfluite. Die orkes het uitstekend gespeel en die bedoelde klankskildering met onder meer basklarinet en ’n verskeidenheid slaginstrumente vergestalt. Die gehoor was bevoorreg om die komponis teenwoordig te kon hê.

Stefan en Erik het hul uitvoering met uitermate groot liggaamsbewegings deurleef. Die meeste konsertgangers het blykbaar geglo dit dra positief by tot goeie kommunikasie met die gehoor. Dit was duidelik dat die groot gehoor die konsert terdeë geniet het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.