Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
'Spud'-skrywer ‘Mamba’ eers voor nuwe roman

John van de Ruit, skrywer van onder meer die bekende Spud-boekreeks, sit sy gewilde Mamba-reeks saam met Ben Voss in Johannesburg voort. Hy gesels met AJ Opperman oor onder meer sy verjaarsdag wat hy met Adolf Hitler deel, die lewe ná Spud, en ’n nuwe roman waaraan hy skryf.

Ben Voss en John van de Ruit in Mamba Republic.

Hoe het jy en Ben hierdie toneelstuk aangepak?

Met Mamba Republic (die eerste was Green Mamba en Black Mamba het dit opgevolg) het ons vir ’n jaar heel dikwels bymekaargekom en koppe bymekaargesit oor sketsmateriaal. Daarna het ons ons beste idees geneem en dit in ’n teks verwerk. Ons het baie hard aan die skryfproses gewerk voordat ons dit ’n maand voor ons openingspeelvak saam met ons regisseur, Mervyn McMurtry, gedoen het. Ons peuter gereeld aan die stuk namate politieke en sosiale gebeure plaasvind en dit voel of geen vertoning ooit dieselfde is nie.

Is dit moeilik om weer te begin skep ná suksesse soos Spuden die Mamba-trilogie?

Ek probeer om nie te veel te peins oor my vorige werk nie, maar eerder te fokus op die skeppende en lewenslesse wat dit my geleer het. Elke projek begin met ’n leë rekenaarskerm of ’n oop vel papier en dit hou ’n mens nederig.

Hoe is jou lewe ná Spud?

Ek is mal oor die post-Spud-jare, want ek kon myself in ander kreatiewe waagstukke begewe, ’n bietjie ruimte kry en asem skep. Om vier Spud-romans te skryf en die daaropvolgende rolprente (met onder andere die Hollywood-akteur John Cleese in die rolverdeling) het so baie van my kreatiewe tyd in beslag geneem dat dit vir ’n geruime tyd al was waarop ek werklik kon fokus. In die tussentyd het ’n mens ouer geword en die drang groei om ander stories te vertel.

Wat dink jy sou Spud (John Milton) vandag aanvang?

Ek is seker hy sou na Durban gevlieg het om afstand tussen hom en sy lawwe ouers te kry. Ek reken hy sou al ’n vrou en gesin gehad het en moontlik steeds ’n dagboek gehad het waarin hy die waansin van sy huidige lewe verwoord.

Benewens Mamba, waarmee is jy besig? Dalk ’n nuwe roman?

Ek skryf inderdaad ’n nuwe roman. Die storie begin in Clapham, Londen, waar ’n Suid-Afrikaner met die naam Morris sukkel om die mas op te kom. Hy verhuur sy spaarkamer weens sy geldelike probleme aan Turner, met sy donker verlede en twyfelagtige morele waardes. Die storie gebruik baie rafels uit my volwasse lewe. Dit gaan oor berugtheid, vriendskap en geweldige teenspoed en ek hoop dit sal baie snaaks wees.

Waarom bly jy steeds in Suid-Afrika?

Ek is ’n Suid-Afrikaner en ek voel verbind aan hierdie land. Ek is van nature ook ’n optimis.

Met Mamba takel jy en Ben talle onderwerpe soos tegnologie, aanlyn afsprake, rassisme en #FeesMustFall. Wat sou jy doen indien jy die president van Suid-Afrika was?

Ek dink dit is baie makliker om van buite af te praat of eise te stel wanneer die optrede van die regering nie vir ons sin maak nie. Ons maak nogal ’n paar skerp opmerkings oor die rigting wat ons land inslaan, maar ons doen dit met komedie. Indien ek die president was, sou ek mense se behoeftes die middelpunt van alles maak. Daarvandaan sal alles volg.

Is daar goed in Suid-Afrika wat jou laat lag?

Soveel goed. Daarom het ek en Ben Mamba Republic geskryf. Kom ons wees nou eerlik: Ons lewe eintlik in ’n baie vreemde gemeenskap. Kyk maar na al die wrywing oor die jare heen.

In Mamba Republic praat julle van ’n alternatiewe volkslied. Skep julle een in die vertoning?

’n Musiekdirigent probeer om die siening en klanke van Suid-Afrika in ’n pragtige nuwe stuk musiek vas te vang. Ongelukkig lei die pogings om die land se politieke faksies te verenig na ’n musiekramp, chaos en tweedrag.

Is daar ’n Suid-Afrikaner wat jy as akteur graag sou wou uitbeeld?

Ek het Hollandse bloed, om nie eens van my van te praat nie. Ek sou graag ’n kans wou vat en Jan van Riebeeck wou vertolk as ’n ploeterende gek wat per ongeluk by die Kaap aangestruikel kom.

Hoe voel jy daaroor dat jy ’n verjaarsdag (20 April) met Adolf Hitler deel?

Ek het gemengde gevoelens oor die saak. Om ’n verjaarsdag te deel met ’n volksmoordenaar en diktator beteken aan die een kant dat jy ’n morele gesagsposisie op daardie dag het. Ongelukkig kan die konstante herinnering aan so iets nogal ’n demper op ’n verjaarsdagpartytjie plaas, veral as strawwe drinkers sy goose step op die grasperk demonstreer.

* Mamba Republic is tot 20 Augustus in die Theatre on the Square in Sandton op die planke. Vertonings is Dinsdae tot Saterdae om 20:15 met nog ’n Saterdagvertoning om 18:00. Kaartjies kos R100 tot R140. Bespreek by Computicket.

John van de Ruit
Meer oor:  Teater  |  Johannesburg  |  Sandton
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.