Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Stefan’ groet verhoog vir wyle om MBA oorsee te doen
Gideon Lombard

Die bekroonde Suid-Afrikaanse akteur en regisseur Gideon Lombard verlaat ons verhoë en ateljees.

Maar net vir ’n wyle, belowe hy. Sy kop staan Spanje toe waar hy aanvaar is om ’n MBA-program te volg in Madrid vanaf Januarie volgende jaar.

Die 34-jarige akteur is onder meer bekend om die treffer-solovertoning Die reuk van appels en as die geliefde karakter Stefan Gerber in die sepie Suidooster, ’n rol wat hy vyf jaar lank vertolk het. Hy werk ook agter die skerms as regisseur en musikant – hy dra voorwaar vele hoede in die plaaslike kunstebedryf.

Hy gaan die jaar lange MBA-program aan die IE-sakeskool, ook bekend as Instituto de Empresa, in Madrid, een van Europa se topvyfsakeskole, volg.

“Dit bied die wêreld se eerste ‘Tech MBA’ en het ’n fokus op tegnologiese innovering binne entrepreneurskap. Die kursus het ’n hoofsaaklik internasionale studentegemeenskap, meer as 90% van die studente kom van buite Spanje.”

Die aansoekproses was ’n groot uitdaging en het ongeveer twee jaar geduur.

Gideon Lombard in ‘Die reuk van appels’.

“Ek het vir die eerste keer sedert matriek weer wiskunde geswot vir die baie uitdagende toelatingseksamen wat ’n mens vir die meeste MBA’s moet skryf. Daarna moes ek ’n reeks opstelle skryf, nog ’n verdere toets doen en laastens was daar ’n uur lange onderhoud met die lede van die fakulteit self.”

Hy het op die tweede laaste dag van 2019 uitgevind hy is aanvaar. Die aanvanklike plan was om September in Madrid te begin, maar weens Covid-19 het hy dit na Januarie uitgeskuif.

Lombard het die afgelope paar jaar daaraan begin dink om verder te studeer.

“Ek was aanvanklik geïnteresseerd in ’n meestersgraad in teater in Amsterdam, toe ’n rolprentkursus in Los Angeles, maar albei van hulle het slegs my belangstellings en nuuskierigheid binne enkele bedrywe gedien. Ek stel nog altyd belang in hoe verskillende bedrywe of aspekte van die samelewing met mekaar praat en hoe ’n mens nuwe maniere kan vind om uiteenlopende dinge by mekaar uit te bring.”

Gideon Lombard Foto: Sharief Jaffer

Die idee van ’n MBA het al hoe meer na die beste plan begin lyk. Hy glo dit is ’n verruiming van sy kreatiewe wêreld.

“Ek wil steeds aanhou om op ’n kreatiewe manier produksies of produkte te skep met stimulerende en interessante mense. Ek raak net minder geheg aan die spesifieke medium. Tien jaar gelede móés dit musiek wees, maar toe kom teater, toe film, toe TV, toe opera, ensovoorts by. Nou stel ek belang in die proses van ondernemings skep en die gepaardgaande kreatiewe oplossings wat dit verg.”

Hy word tans deur die uitvoerende hoof van die Kaapstadse groente-en-vrugtemark in Epping gementor, wat hy as ’n waardevolle leerskool so kort voor sy studies sien.

Die Spaanse hoofstad het hom al vyf jaar gelede oorrompel. Hy was daar as assistentregisseur van Kaapstad Opera se rondreisende produksie van George Gershwin se Porgy and Bess.

“Die stad het my weggeblaas. Dit is toeganklik en stimulerend. Ek het gevoel ek kan gemaklik my eie lewensritme daar uitkerf. En die kuns! Die stad het van die mooiste galerye in Europa.”

Hy het reeds idees oor hoe hy die twee wêrelde van MBA en die kunste gaan versoen.

“Ek wil die MBA graag sien as ’n uitbreiding van die dinge en projekte waarmee ek reeds besig is, maar op die kort termyn beteken dit waarskynlik dat ek minder op die verhoog of voor ’n skerm gaan wees. Ek bly oopkop vir die nuwe rigtings wat kursus self kan bring.”

Gedurende die inperkingstyd was hy besig met die konsultasiewerk by die groentemark, ’n kortfliekprojek en het hy gedigte en musiek vir die radio opgeneem.

“Dit was wonderlik om ná so ’n lang tyd sonder enige kreatiewe uitlaatklep iets te kon doen! Ek is tans aktief besig met ’n finansieringsveldtog vir die MBA. Enige MBA is geweldig duur, maar veral die meer internasionaal-gerekende programme,” sê hy.

“In dié huidige buitengewoon onsekere tyd, terwyl die meeste mense en ondernemings slegs aan die lewe probeer bly, voel dit absurd om ’n veldtog vir fondse te loods. Maar ek moet my bes doen om hierdie uitsonderlike geleentheid te laat realiseer.”

Hy vertel dat hy vreeslik sukkel om die frase “nuwe normaal” te aanvaar.

“Ek kan dit nie sielkundig of finansieel bekostig om wat ons tans het as normaal te klassifiseer nie. Ek wil onder ‘normale’ omstandighede vir mense drukkies kan gee, teater toe gaan en weer ’n sin van gemeenskap en ’n gedeelde ervaring hê.”

Hy loof die wonderlike innovering wat in vele kunstesektore plaasvind en dit is fassinerend om te dink hoe lank van dié innoverings sou neem om tot stand te kom sonder die pandemie.

“Die druk van ’n krisis dwing ’n mens om aan alternatiewe en kreatiewe maniere te dink om jou lewe aan die gang te hou. Ironies genoeg is die teaterwêreld ’n goeie leerskool vir hoe ons tans moet dink aan nuwe oplossings om vorentoe te gaan.”

Hy glo baie van die nuwe mediums en vorme van vermaak is hier om te bly.

“Ek dink wel nie dat ’n mens die verhoogervaring van teater en musiek met aanlyn weergawes daarvan kan of moet vervang nie. Ek voel ’n mens moet albei as sy eie medium benader en kyk wat doen die werk of gee dan die inhoud die beste weer.”

Besoek:   https://www.backabuddy.co.za/champion/project/gideon-lombard

Meer oor:  Spanje  |  Mba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.