Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Stuk deur Ingrid Jonker in Roodepoort-teater

’n Seun na my hart, ’n toneelstuk deur die ontslape digter Ingrid Jonker, is vandeesmaand in die Roodepoort-teater aan die Wes-Rand op die planke.

Makhaola Ndebele, regisseur en artistieke direkteur van Joburg City Theatres, het die teks sewe jaar gelede by die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg ontdek.

Ingrid Jonker Foto: Anne Fischer

Dit word van 17 tot 20 September opgevoer.

“Ek was baie verbaas en verras. Ek het van Ingrid Jonker en haar vroeë dood geweet, maar ek was net van haar gedigte bewus. Ek het nie besef sy was ook ’n dramaskrywer nie. Ek het altyd gedink indien die kans hom voordoen om dit wel na die verhoog te bring, sal ek dit aangryp.”

Jonker het in 1965 in die see by Drieankerbaai verdrink.

Sy is bekend om haar digbundels Ontvlugting, Rook en Oker en Kantelson. Laasgenoemde het postuum verskyn.

’n Seun na my hart is ’n eenbedryf met drie spelers.

Volgens Petrovna Metelerkamp se biografie oor Jonker het sy die teks in die laat 1950’s geskryf en dit baie herskryf toe sy in Johannesburg gewoon het.

“Dit handel oor ’n ma, Anna, en haar illusies oor haar gestremde seun, Simon,” sê Ndebele.

“Die seun is dood en sy treur oor hom. Maar die seun wat sy sien, is ’n perfekte seun. Sy idealiseer hom. Sy roep na Maria, ’n oujongnooi, maar Maria het meer realistiese herinneringe aan die seun wat dood is. En Anna word daaroor kwaad.”

Ndebele beskryf die stuk as baie digterlik.

“Dit is baie dig verweef, maar interpretasie is nie juis nodig nie. Dit wat aan die gang is, word al hoe duideliker soos die storie vorder.”

Die speelvak bestaan uit net vier vertonings, maar Ndebele hoop om dit in die toekoms langer en voor groter gehore op te voer.

Tans word net 50 gehoorlede per vertoning toegelaat ingevolge die staat van inperking se regulasies.

Dié getal sluit wel die tegniese span en teaterpersoneel uit.

Die spelers is Esmeralda Bihl, Donovan Pietersen en Tereska Muishond.

• Vertonings is op 17 en 18 September om 19:00 en op 19 en 20 September om 15:00. Kaartjies kos R80.

Bespreek by Webtickets.

Meer oor:  Ingrid Jonker  |  Verhoog  |  Teater  |  Toneelstuk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.