Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Suidoosterfees ‘Joanie Galant-hulle’: Karakter kyk tot in jou siel

Lauren Hannie as Joanie en Obed Plaatjies as Joseph in Joanie Galant-hulle. Foto: Jaco Marais

Joanie Galant-hulle

Kunstekaap-arena, Kaapstad

***

Joanie Galant se storie is dekades oud. Maar die tragedie en mismoedigheid van die ­gebeure is steeds vir die hier en nou.

Nou is die verskuiwing van mense dalk nie gedwonge nie, maar eerder weens omstandighede buite hul beheer.

Daar is daagliks nog mense wat hul blyplek moet verlaat omdat die finansies druk of bloot omdat die lewe hulle die rug toekeer.

Lauren Hannie is ’n waar­dige Joanie Galant. Sy bedek die vrolike rok van Joanie net voor haar troue met ’n oorjas en uiteindelik met ’n dwangbuis. Maar dit is die manier waarop sy die karakter se verskillende gemoedstemmings vertolk wat van haar waarlik mens maak. Dit is ook nie net lyfspel nie – hierdie Joanie kýk jou tot in jou siel.

Van vrolike en saggeaarde jong vrou sien jy haar ont­wikkel in ’n gebroke wese wat in haglike omstandighede ­weier om die lyk van haar ­baba te laat gaan.

Hannie word goed ondersteun deur haar medeakteurs. Obed Plaatjies, wat haar man, Joseph, vertolk, gaan nog lank onthou word vir die stil figuur aan die einde wanneer daar niks meer te red is nie.

As die opstandige Davey kry Shaun Gabriel Smith die meeste kans om met die gehoor te praat. Hy doen dit met oorgawe. Soms is sy dronk ­geslinger effens te oordrewe, maar ander kere is sy spel subtiel en ontroerend.

Kyle Isaacs is ’n hartelose koerantman wat só ingestel is op die foto van die ma en die dooie baba dat jy hom ’n paar klappe wil gee. ’n Mens wil onwillekeurig sê: “Ons is nie almal so nie”.

Die stuk het ’n ouwêreldse aanslag. Dit laat jou dink aan dramas wat reisende teater­geselskappe jare gelede op klein dorpies op die planke gebring het. Die dramatiese is, wel, werklik dramaties.

Aan die einde sit sy gebroke op ’n bed in ’n inrigting. Dan nog kan sy haar kop trots lig en sê dat sy eens Joanie ­Anthony van die Woodstock was. Dit laat jou so effens dink aan Bart Nel wat aan die einde nog sy trots behou het.

Hannie het die storie wat Adam Small al die jare gelede geskryf het weer laat lewe. Hopelik het dit nog ’n raklewe verder.

Nog vandag om 19:30 in die Kunstekaap-arena. Bespreek by Computicket.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.