Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Surrealistiese reis buite én binne jouself

In Neil Coppen se toneelstuk Buite land wat op die KKNK sy debuut maak, wil ’n mens byna sê tradisies word omgekeer.

Seksualiteit kom ter sprake, terwyl die twee hoofkarakters, Jacques (Jacques Bessenger) en Sizwe (Kopano Maroga) wat uit verskillende agtergronde maar ook konserwatiewe vormingsjare kom, mekaar leer ken.

Elize Cawood, Jacques Bessenger, Marvin-Lee Beukes en Kopano Maroga in Buite land. Foto: Pieter du Toit

Jacques is ’n Afrikaanse narkotiseur en Sizwe is ’n Zoeloe-choreograaf, wat by mekaar uitkom vir seks, maar ’n gesprek oor allerhande onderwerpe volg.

Sizwe is ’n student wat ’n roeping van sy voorvaders ontvang om ’n sangoma te word, terwyl Jacques se ma hom kom besoek en vir hom nuus bring. Sy pa was voorheen ’n predikant in die Gereformeerde Kerk en sy pa het gesê daar is twee beroepe wat God se beroepe is: dominee en dokter. En Jacques word toe een van die twee.

Jacques sukkel ook met sy emosies, juis oor hoe hy grootgemaak is.

Dit is ’n stuk in Afrikaans, Engels en Zoeloe.

Bessenger sê sy karakter wil nie hierdie lewe uitleef nie, maar doen dit nogtans.

“Hy voel baie skuldig daaroor, in ag genome sy grootwordjare. Daar drink hy ’n mediese mengeldrankie waarmee ’n apteker hom help, sodat hy kan vergeet. Dit maak hom egter nog meer deurmekaar en dit bring allerhande goed na hom terug. Dis hoekom die spesifieke beroep so funksioneel tot die storie is.”

Die gesprekke handel oor goed soos geloof, medisyne en tradisies, en spiritualiteit teenoor wetenskap. Kulturele verskille kom ook ter sprake.

Elize Cawood, wat Jacques se ma vertolk, meen die stuk bied nie ’n eensydige vertelling nie.

“Dit het te make met soveel goed. Geloof, seksualiteit, verbintenis, verlies, disconnection. Daar is die kwessie van seksualiteit en ontkenning en dit verken regtig die psige van Jacques, asook dié van die mense wat met Jacques in aanraking kom. Die ding is, daar is nie ’n tydlyn nie. Die gehoor moet besluit: Is dit droom, werklikheid of verlede? Maar ek dink op die ou end is dit nogal duidelik.”

Jacques Bessenger en Kopano Maroga in Buite land. Foto: Robert Hamblin

Die stuk speel af in die hospitaal en in Jacques se kamer, die een in Pietermaritzburg en die ander in Newfoundland.

Volgens Bessenger sal ’n gehoorlid mooi moet luister.

“Jy word nie met ’n lepel gevoer nie, maar dit is baie goed gestruktureer dat alles wel sin maak en mooi in plek val. Jy sien nie jou tipiese uitspeel van ma en seun wat sukkel met mekaar en dan versoening kry nie.”

Cawood voeg by: “Jy sien grepe.”

Coppen, regisseur, teksskrywer en ontwerper, het die teks oorspronklik ontwikkel in samewerking met die Markteaterstigting en die Royal Court in Londen. Die Engelse weergawe, NewFoundLand, is ook nog nie opgevoer nie.

“Ons het ’n lesing van die teks op ’n gehoor in die Markteater uitgetoets en die teks daarvolgens aangepas en verder ontwikkel. Die stuk het meer as 20 weergawes. Dit is gegrond op twee vriende van my wat ek ’n hele ruk gelede afsonderlik ontmoet het. Ek wou kyk na wat gebeur wanneer twee mense ’n gelyksoortige ontdekking binne-in hulself doen, en ook kyk na die verskillende maniere waarop hulle dit doen.”

Volgens Coppen is die stuk in droomstruktuur.

“Dis ’n baie surrealistiese reis. Ek dink daar is baie stukke binne-in die groter toneelstuk. Dit vind beslis plaas in ’n vreemde kopspasie.”

Coppen het al ses jaar gelede die storie begin ontwikkel, lank nadat hy die twee mense ontmoet het.

Mettertyd het hy besef daar is ’n storie om te verken.

Vir hom is ’n teks ’n organisme wat aanhou ontwikkel moet word.

Die ander spelers is Marvin-Lee Beukes, Ntombi Gase en Mpume Mthombeni.

  • Die KKNK duur van 8 tot 15 April op Oudtshoorn. Buite land word in die Johnny Bisschoff-saal opgevoer. Kaartjies kos R130. Bespreek by Computicket.

’n Gratis gesprek met die geselskap vind plaas ná die vertoning op 13 April om 16:15.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.