Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teater is die plek waar hy mense kan laat voel
Jefferson J Dirks-Korkee in sy eenmanstuk, Rooilug, wat op 28 April in die Kunstekaap as deel van die Suidoosterfees in Kaapstad opgevoer word.

Hy wil mense laat voel soos Sandra Prinsloo hom laat vóél het.

“Ek het drie keer na haar vertoning Oskar en die pienk tannie in die Wynand Mouton-teater in Bloemfontein gaan kyk en drie keer gehuil. Net daar het ek besluit dat ek vir ewig teater wil doen.”

So sê Jefferson J. Dirks-Korkee, ’n jong akteur van Willowmore in die Oos-Kaap wat tans in Bloemfontein teaterkuns studeer. Sedert verlede jaar se Vryfees oorrompel sy eenmansstuk, Rooilug, gehore en is dit as beste toneelstuk op vanjaar se US Woordfees benoem. Kaapse gehore kan dit nou op 28 April by die Suidoosterfees in die Kunstekaap beleef.

In Rooilug is ’n kinderstem aan die woord wat met groot humor, dog ook hartseer terugkyk na sy grootwordjare in Willowmore, ’n klein Oos-Kaapse dorpie dalk beter bekend om sy ryloper-spook. Geklee in ’n blou oefenbroek en ’n rooi t-hemp gebruik Dirks-Korkee net sy lyf en stem om verskeie karakters en stories uit te beeld. So vertel hy van die Gomma Gomma-banke wat op layby gekoop word, die tannies wat die gordyntjies nuuskierig laat roer en die straat waar áls in die gemeenskap gebeur. Hy praat ook oor die skadukant van sy mense se lewe.

“Dit gaan oor goed wat ek nog altyd vir grootmense wou sê, maar ek was en is steeds te bang om daaroor te praat. Die verhoog is ’n veilige plek om ’n gesprek te begin, mense te laat dink en dalk ’n verandering in iemand se lewe te bring. Ek het gedog Rooilug is ’n Willowmore-storie, maar oral waar ek gaan, glo mense dat dit hul storie is, selfs in Nigerië.”

Hy werk baie in skole en wat hy daar beleef het, het hom genoop om ’n ernstige gesprek met grootmense te hê. En hy het die verhoog gekies om dié gesprek te begin.

“Wat in kinders se huise gebeur wys na buite, in die klaskamers by die skool. Ek blameer grootmense vir die trauma wat ons kinders moet hanteer.”

“Wat in kinders se huise gebeur wys na buite, in die klaskamers by die skool. Ek blameer grootmense vir die trauma wat ons kinders moet hanteer.”

Hy skryf oor dinge waarvan hy weet, gewone stories van sy mense. “Mense inspireer my, veral my mense, bruinmense. Wat mense sê en doen. Ek is geskok, maar ek kan ook nog lag. Rooilug is verskillende stories van verskillende mense, dit is ook my storie en mense wie se name ek nie ken nie. Dit is die aunty se storie wat wegloop met haar kind op die rug, al is dit net vir een aand.

Nie al die gebeure is die waarheid nie. Verskillende stories en ervarings is gebruik om een storie te skep.”

Hy het Rooilug ses jaar gelede geskryf vir twee akteurs, maar besef dat hy dit alleen moet opvoer, omdat hy so ná daaraan was. “Ek was heeltemal te bang om alleen op die verhoog te staan, ek is eintlik nog steeds,” skerts hy.

Hy is tans verdiep in sy meestersgraad in kunsopvoeding aan die Vrystaatse Universiteit ná sy honneurs daar in toneelspeltegniek.

Daar het hy kennis gemaak met die teaterkuns van die Poolse regisseur Jerzy Grotowski en die beginsel van “poor theatre”.

“Die akteur is die belangrikste op die verhoog, die akteur wat sy hele lyf, gees en verstand inspan. Vir ligte, dekor of rekwisiete gee ek nie om nie. Dit gaan oor die reis waarop die karakter die gehoor neem. ’n Gehoorlid moet voel asof hy saakmaak en dat die karakter hom verstaan. Die akteur moet seker maak dat hy elke oomblik as belangrik beskou en dat hy die gehoor se aandag kan hou van begin tot en met die einde.”

Hy was ’n baie intense kind met ’n kop reeds vol stories, vertel hy. “Met al die deurmekaarheid in my kop het ek eenkeer vir Tobie Cronjé op televisie gesien en besef dít is wat ek moet doen. Later het ek vir Christo Davids op televisie gesien gedink ‘daar is iemand wat soos ek lyk, so ek kan dit regtig maak tot daar’.”

* Dirks-Korkee se jongste stuk, I Turned Into My Grandmother, word van 30 April tot 3 Mei in die Albert Wessels-ouditorium in Bloemfontein opgevoer. Hy repeteer tans aan ’n vertoning met die kinders van die Ons Kinderhuis in Bloemfontein wat in Augustus open.

Sy nuwe eenmanstuk, Help Vir Henna Oor die High Way, open in Julie by die Vryfees. Hy doen ook die regie van ’n kabaret in Sotho getiteld Mantswe Merethetho wat in Julie open.

* Rooilug is op 28 April om 17:00 in die Kunstekaap op die planke. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Teater  |  Suidoosterfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.