Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teater tydens korona: 5 nuwe stukke vir klein gehore

Ná maande waarin teaters gesluit was, begin ’n seisoen van teater, wat op ’n gesonde afstand beleef kan word, eersdaags in Kaapstad.

Crystal Finck in ‘Modorenai’.

Die seisoen van vyf splinternuwe produksies, “Creating Theatre in the Age of Corona”, wat geskep is in reaksie op Covid-19 en die inperking, open in die Theatre Arts, Observatory.

Caroline Calburn, direkteur van Theatre Arts, sê die groot uitdaging wat die koronavirus vir die teaterbedryf ingehou het, was geslote deure en die gevolglike gebrek aan inkomste vir duisende mense in die kunstebedryf.

“Die aaklige onsekere gevoel oor wanneer en óf dit gaan verbygaan, was uitdagend omdat daar nie ’n tydlyn aan verbonde is nie.

“Die doel van die seisoen is om werk te skep vir kunstenaars, wat nóú opgevoer kan word, waar ’n gesonde afstand van 2 m gehandhaaf kan word en gehoorlede maskers dra om almal om ons gesond te hou.”

Sy glo ook haar versoek aan kunstenaars het eintlik as inspirasie gedien “vir andersoortige denke en was ’n aansporing om binne die nuwe beperkinge te skep. Ek dink ons het almal genesing nodig ná die streng inperkingstyd, en teater bied dit. Deur na teater te kyk as deel van ’n intieme gemeenskap is baie genesend, hierdie gedeelde ervaring maak heel.”

Ek dink ons het almal genesing nodig ná die streng inperkingstyd, en teater bied dit. Deur na teater te kyk as deel van ’n intieme gemeenskap is baie genesend, hierdie gedeelde ervaring maak heel.
Caroline Calburn

Die werke is uiteenlopend wat styl en inhoud betref. “Die teater het ’n baie meer gelade ruimte geword, veel meer as voor die pandemie. Kunstenaars is geleer om veranderinge te omarm en te eksperimenteer.”

Sy beskryf die inisiatief as ’n stap vorentoe na vlak 0, wanneer alle teaters weer oop is en vol sale verwelkom kan word.

“Ek ervaar dit as ’n geskenk om amper alleen in die teater te sit sonder die emosionele en fisieke clutter wat jy van ’n volgepakte teater kry omring met mense.”

  • Die reeks begin op 10 Oktober met Craig Leo en Robin Kirsten se Nothing Is Here. Dit word opgevoer op 10 Oktober om 16:00 en 19:00 en 11 Oktober om 15:00 en 18:00. Dansers van die Unmute-dansgeselskap neem deel aan dié eksperimentele teaterstuk wat binne en om ’n beeldhouwerk, geskep deur Robin Kirsten, aangebied word. Marionette van Ukwanda Puppets is ook te sien.
  • Modorenai word op 14 en 18 Oktober om 19:00 aangebied. Modorenai is ’n Japanse woord wat “ons kan nie terugkeer nie” beteken. Dit is bewegingskuns oor aanraking en die geforseerde afstand tussen mense. Aanraking word hier nie net as ’n fisieke gebaar uitgebeeld nie, maar dui ook op die emosionele, sielkundige en geestelike bande wat tussen mense gesmee word. Die regisseur en choreograaf is Rafé Green en dit word deur Darion Adams en Crystal Finck opgevoer.
  • Cwaka word van 22 tot 24 Oktober om 19:30 en 25 Oktober om 15:00 aangebied. Die toneelstuk handel oor twee susters wat vervreemd van mekaar grootword en saam op ’n reis vertrek om hul ma te red.
  • Die dansstuk Syndesi is van 11 tot 14 November op die planke. Opvoertye sal later bekend gemaak word. Dit ondersoek verhoudinge en die verskillende maniere waarop daar aansluitingspunte tussen mense ontstaan. Die choreograaf is Shirley-Anne Bezuidenhout. Die dansers is Celeste Botha, Sasha Fourie Myburgh en Tamsyn Spannenberg.
  • Murmurations word van 2 tot 5 Desember aangebied. Opvoertye sal later bekend gemaak word. In die stuk word vrae, waarop daar nie blyk antwoorde te wees nie, ondersoek. Dit is die geesteskind van die teaterskepper en storieverteller Megan Furniss en die digter en kunstenaar Louise Westerhout tree daarin op.

Kaartjies vir alle opvoerings kos R100 en kan by https://theatrearts.co.za gekoop word. Besprekings moet aanlyn gedoen word.

Vir enige navrae bel 082 752 1376. Die Theatre Arts is in die kerksaal van die Metodiste kerk op die hoek van Milton- en Wesleystraat in Observatory.

Meer oor:  Dans  |  Observatory  |  Teater  |  Pandemie  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Covid-19-Pandemie  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.