Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Lizz Meiring gee 35 jaar later steeds 'hart en siel'

Lizz Meiring vier vanjaar 35 jaar in die bedryf. Dit is ’n bedryf wat nog altyd sy uitdagings meegebring het. Gister én vandag. Tog het sy geen twyfel oor watter loopbaan sy steeds wil volg nie, skryf AJ Opperman.

Lizz Meiring is 35 jaar in die bedryf
Lizz Meiring Foto: Jaco Bothma Empire Photography

’n Mens moet oppas om met rose tinted glasses na die verlede te kyk, sê die aktrise, skrywer en regisseur Lizz Meiring oor haar 35 jaar in die bedryf.

“Natuurlik is daar goeie herinneringe, maar daar was ook in die verlede – soos vandag – uitdagings. Elke tydperk het sy kwessies. Daar was altyd magstryde, administratiewe uitdagings, resensente met hul gunstelinge.”

Tog is dit die bedryf waarin sy wil wees. Sy reken dat wonderlike, opwindende goed in die bedryf gebeur.

Dit is haar tuiste.

Sy gesels op die stoep van haar huis in Melville. Die papegaai loer uit haar hok, sy flankeer glo met mans.

Die drie honde wag vir Richard wat hulle nou vir ’n stappie gaan neem. Die een hond was haar ma s’n.

Die huishouding is besig.

“Hier is jou lewe nie veilig nie,” skerts Meiring.

Sy gaan sit langs die blou tafeltjie en sit haar beker tee daarop neer. Al die stoele en banke se kussings het rose op. Op haar swart hemp pryk Mickey Mouse – die Disney-karakter waarop sy versot is – met blinkertjies.

Haar huis weerspieël tot ’n groot mate haar werkslewe.

Die produksie All This I Know – The Music of Brel and Piaf. Agter is Connie Bentlage en Heidi Edeling. Voor is Harald Richter, Lizz Meiring en Paul Warwick Griffin.

Die agterplaas word op die oomblik gebruik vir die repetisies van Non met vakansie, ’n nuwe toneelstuk saam met Wynand van Vollenstee wat by die KKNK debuteer. Gert van Niekerk is die regisseur.

Dit handel onder meer oor ’n non wat twyfel of sy nog ’n non wil wees.

Anders as die non, is Meiring alte seker oor haar beroep.

Op nege het sy die eerste keer professioneel opgetree in Die vrou van Suid-Afrika, ’n produksie wat die Universiteit van Pretoria aangebied het.

“Moenie lag nie, ek het ’n konsentrasiekampkind gespeel.”

Prof. Anna Neethling-Pohl, aktrise en stigter van die dramadepartement by Tukkies, het gebuk na haar en gesê: “Daar brand ’n vuur in jou. En daai vuur gaan nooit dood nie. My arme, arme kind.”

Meiring het Neethling-Pohl se opmerking begryp.

“Ek het emotief in my wese verstaan wat sy bedoel het. Maar niks kon my keer nie. Ek het geweet wat ek wou doen. Dit beteken glad nie dat elke dag vrolik is nie, maar daar is ’n genetiese DNS wat ’n mens bedraad om dit te doen.”

Jan Ellis en Lizz Meiring in die reeks Die Manakwalanners.

Sy het as student aan UP haar in alles begewe.

“Ek het grimering vir ekstra geld gedoen. Ek het radiowerk begin doen, oorklanking by die SAUK.

Ek het ’n tyd beleef waar elke studio gebuzz het. Jy het van die een na die ander gehardloop. Dan moes jou hare en grimering verander het. Daar was ander kostuums. Jy het soms drie, vier goed gelyk geskiet.”

Ja, daar was goeie tye.

“Daar was baie meer resensies, daar was meer koerante. Daar was ’n vryheid van spraak ten opsigte van resensente. Dit was merendeels kundige mense. Nou het elkeen ’n blog – nou het almal ’n mening. Weens sosiale media het resensente nie werklik meer so ’n groot invloed nie.”

Intussen het Richard opgedaag om die drie honde plus sy eie een te neem om te gaan stap.

Sodra hulle verdaag het, hervat Meiring die onderwerp van die media.

“Ek sê nou vir jou: Die twee goed wat die grootste invloed op kaartjieverkope het, is radio-onderhoude en gedrukte media – sonder twyfel. Daar is baie goeie werk wat in die media verskyn.”

Meiring glo aan aanpasbaarheid in die bedryf.

You’ve got to roll with the punches. Beleide verander. Magstryde gaan verander. Maar oplaas is daar een ding waaroor niemand ’n dispuut mag hê nie, en dit is die gehalte van jou werk.”

Meiring is vandeesmaand in Pretoria op die planke in die komedie 3 Susters saam met Margit Meyer-Rödenbeck en Nicole Holm. Die produksie Lizz 35 is ook onderweg.

Sy was al aanbieder van televisieprogramme, “geleentheidsjoernalis” en rubriekskrywer vir Rooi Rose.

Sy beraam gedurig planne en dink aan nog werk.

Lizz Meiring en Stephen Jennings in die toneelstuk Die skandaal.

Dit was van jongs af ook so.

Sy het op 16 begin met televisiewerk in die tienerprogram Gateway.

Delia Sainsbury en David Gresham was die hoofaanbieders.

“Ek is gevra om onderhoude te doen. Een van my onderhoude was met ’n krulkopman met bruin oë wat voorheen ’n balletdanser was. Hy het in vreeslik baie goed gespeel, soos die dramareeks The Story of an African Farm.”

Dié man se naam is Willie Esterhuizen, later die skepper van komediereekse soos Orkney snork nie en Vetkoekpaleis. Meiring het baie werk saam met hom gedoen. Dit sluit in die komediereekse Ouboet en Wors en Molly en Wors.

Meiring het baie meer ernstige werk opgevoer en geskryf as komedie. Sy was onder meer in ’n produksie van Bartho Smit se Die keiser.

“Elke genre behels ’n vaardigheid. Jy moet kyk na die produksiewaarde van iets. Dit lê nie net in die stel en kostuums en beligting ensovoorts nie. Dit lê in die inhoud, die deurdagtheid daarvan, die werk wat effortless moet voorkom. Daar is ’n verskil tussen smaak en kwaliteit.”

Lizz Meiring as aanbieder van Lizzie se lipstick flieks op kykNET.

Volgens Meiring is daar geen manier om komedie te doen sonder om iemand aanstoot te gee nie.

“Ons moet daardie dun nerf van komedie verstaan. Jy kan nie die tande van komedie trek nie.”

Meiring het ook die toneelstuk My naam is Ellen Pakkies/ My Name is Ellen Pakkies geskryf waarin Vinette Ebrahim en Christo Davids gespeel het. Dit is die ware verhaal van Pakkies wat uit nood haar seun vermoor het wat aan tik verslaaf was.

“Ek het gehoop dat niemand tydens vertonings sal uitloop nie. Ek het Christo en Vinette daarop voorberei. Ons het geopen by die KKNK. Hierdie storie het my so geboei. Dit was vir ’n paar jaar op die verhoog. Weet jy wat? Niemand het uitgeloop nie. Toe wonder ek waarom nie?

Ek dink eerstens het mense die waarheid en integriteit aanvaar. Die klein groepie wat gewoonlik sou uitloop oor ’n vloekwoord of so, het dit nie hierdie keer gedoen nie, want dit was nie op hul terrein nie. Dit was ’n wêreld wat hulle nie geken het nie. Ek het dit uiteindelik verstaan. Ek is bly daaroor.”

Meiring is opgewonde oor die bedryf. Waagmoed en skeppendheid is die woorde waaraan sy dink.

“Oplaas is die werklik skeppende mense diegene wat met ’n stuk koerant, ’n glas water en vadoek vir jou kan vermaak. Ek voel ’n vreesloosheid by kunstenaars aan. Jy moet goed wees om te kan meeding in die bedryf. Seker in enige land.”

Meiring vergelyk ’n produksie met die waarneem van ’n skildery.

“Jou interpretasie daarvan is jou reg. Ek moet jou wel genoeg gee om iets daaruit te kry.

“Dis nie ’n formule of resep nie. Jy weet nooit wat gaan werk of nie. Niemand is daarop uit om ’n swak produksie te doen nie. Jy skuld jou gehoor ’n goeie produksie.

Ons sit ons hart en siel – en om (die skrywer) Jeanne Goosen aan te haal – ons sout en ons niere in alles wat ons doen.”

* 3 Susters is van 20 tot 23 Februarie om 20:00 en op 24 Februarie om 16:00 in die Atterburyteater.Kaartjies kos R140 tot R160. Bespreek by iTickets.

* 3 Susters is op 1 en 10 Maart om 15:00, 2 Maart om 17:00, 3 Maart om 19:30, op 4, 6 en 9 Maart om 20:30 by die US Woordfees by Hoërskool Stellenbosch. Kaartjies kos R135 tot R145. Bespreek by Computicket. Dit kos R160 by die deur. 

* Non met vakansie is op 21 en 25 Maart om 10:00, op 22 Maart om 17:00, op 23 Maart om 16:00 en op 26 Maart om 19:00 in die Laerskool van Reedesaal by die KKNK in Oudtshoorn. Kaartjies kos R125 by Computicket en R140 by die deur.

Meer oor:  Kknk  |  Us Woordfees  |  Lizz Meiring  |  Toneel  |  Teater  |  Drama  |  Kknk2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.