Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teaterfotograaf Bob Martin (92) ‘dankbaar vir erkenning’

Die teaterfotograaf Bob Martin (92) is verbaas oor sy Fiësta-eerbewys, want hy is “net ’n ou ballie wat foto’s neem”.

Martin, voorheen ’n balletdanser en koerantfotograaf, het die afgelope paar dekades verskeie foto’s van akteurs en teaterproduksies geneem.

Die Fiësta-toekenningsaand is Sondag op kykNET uitgesaai.

Die teaterfotograaf Bob Martin het ’n eerbewys van die kykNET Fiësta-teaterpryse gekry.

Die teaterregisseur Mannie Manim het in ’n video-insetsel Martin se prys aan hom in sy huis in Villiersdorp oorhandig.

Martin het gevoel sy huis lyk nie reg om besoekers te ontvang nie.

“Toe die span daar aankom, het die voorkant van die huis nie juis netjies gelyk nie, want daar word veselkabels in Villiersdorp gelê. Maar ek is uitgeboul deur die eerbewys. Ek hoop maar ek het ’n redelike vertolking met die toekenning gelewer.”

Die akteurs Sandra Prinsloo en Tobie Cronjé het videoboodskappe aan hom gestuur. Martin was kennelik oorstelp.

Bob Martin en Mannie Manim in gesprek.
Die teaterfotograaf Bob Martin met sy beeldjie van die kykNET Fiësta-teaterpryse.

“Ek en Mannie is al jare lank vriende. Hy het my in 1970 by Truk (Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) aangestel. Ek was daar tot 1993. En daar het ek alles gedoen: opera, ballet, teater. En ek het foto’s in die teater in Hillbrow geneem. Ek het maar heen en weer tussen Pretoria en Johannesburg gery, want Truk was in Pretoria gesetel.”

Hy het sy kinderjare in Villiersdorp deurgebring en sy loopbaan as fotograaf in Kenia gedurende die Mau Mau-opstand begin.

“Ek was byna vier jaar lank in Nairobi. Dit was in ’n tyd van nood in Kenia. Dit was nie mooi om te sien nie.”

Nadat hy na Suid-Afrika teruggekeer het, het hy vir Sunday Times gewerk.

Hy sê hy is net ’n paar jaar jonger as koningin Elizabeth II, wat nou 94 jaar oud is.

“Jy weet, ek en my stiefma wou in 1947 – toe die koninklike gesin Suid-Afrika besoek het – gaan perdry op ’n wynplaas buite Somerset-Wes. Maar op dié oggend kon ons dit nie soos gewoonlik doen nie, want die koninklike gesin was daar,” vertel hy.

“Jannie Smuts het hulle genooi. Hy wou hulle wys hoe ’n Suid-Afrikaanse wynplaas lyk en die plek was deur polisie omring.”

Benewens sy verhoogwerk het hy as fotograaf op internasionale rolprentstelle gewerk.

Die eerste fliek waarop hy gewerk het, was Mogambo, met Clark Gable en Ava Gardner. Later het flieks soos Zulu, waarin Michael Caine verskyn het, gevolg.

Sy fotoboek, Highlights and Footlights: A Tribute to South African Stage and Screen, is in 2008 uitgereik.

“En hierdie boek weerspieël eintlik my lewe. Elke onderskrif is iets uit my lewe. Dit kan eintlik ’n memoire wees. Alles in my lewe is visueel.”

Martin woon deesdae oorkant die gebied waar hy as 15-jarige kind rugby gespeel het.

“Nou is ek ’n legende . . . Daar is bitter min dinge aan my wat legendaries is. Maar ek is dankbaar vir die erkenning (hy het die beeldjie gesoen) en dit was so goed om my vriend Mannie weer te sien.”

Meer oor:  Teater  |  Fotograaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.