Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teaterreus dood ná komplikasies van virus
Terrence McNally by ’n Out100-toekenningsgeleentheid in New York. Foto: Stephen Lovekin/WireImage

Die Amerikaanse dramaturg Terrence McNally is Dinsdag op 81 dood ná komplikasies van Covid-19 wat hy opgedoen het. Hy het in lewe longkanker oorwin.

McNally is telkens as een van die grootste kontemporêre dramaturge beskryf. Hy is vier keer met die Tony-prys bekroon, die grootste eer in Amerikaanse teater. Verlede jaar is hy ook met ’n vyfde Tony vir sy lewenswerk erken.

Sy werk is wêreldwyd, ook in Suid-Afrika, opgevoer. Hy is bekend vir sy eerlike fokus op die gay-lewe, reeds in die 1980’s en 1990’s toe dit nog ongekend was op die verhoog of as komiese afwisseling ingespan is.

Benewens dramas het die veelsydige woordsmid ook musiekspele en operas geskryf. Op die koop toe het hy draaiboeke geskryf vir flieks soos Frankie and Johnny (1991) met Michelle Pfeiffer en Al Pacino (dit was ook ’n toneelstuk), die vrolike rampokkerprent The Ritz (1976) en Common Ground (2000), wat ook gay vriendskappe as tema het. Hy het die libretto vir die musiekspele Kiss of the Spider Woman asook Ragtime geskryf. Vir albei van hulle het hy ’n Tony ontvang. Die gewilde musiekspel The Full Monty is ook deur hom geskryf.

McNally is egter veral bekend om die veelbekroonde Love! Valour! Compassion!, ’n toneelstuk oor ’n groepie gay vriende wat naweke bymekaarkom in ’n vakansiehuis. Dit is hier waar vriendskappe hervestig word, maar ook ’n knou of wat kry. Die rolprentweergawe (1997) het John Glover in die hoofrol gehad.

McNally se ander groot toneelstuk was die formidabele eenpersoonstuk Master Class, wat plaaslik deur Pieter Toerien opgevoer is met Jana Cilliers. Dit handel oor ’n fiktiewe meesterklas wat die operaster Maria Callas aanbied. Die intrige van sy toneelstuk The Lisbon Traviata het ook rondom ’n groep gay vriende en hul liefde vir Callas gewentel.

Lin-Manuel Miranda, skepper van die musiekspel Hamilton, beskryf McNally as “die reus van ons wêreld, wat toneelstukke en musiekspele met dieselfde vaardigheid kon skryf”.

Nia Vardalos, ster van My Big Fat Greek Wedding, skryf: “Ek het jou toneelstukke gelees terwyl ek grootgeword het en jou woorde was die woorde waarop ek na my drome kon sweef.”

’n Dokumentêre rolprent oor McNally se lewe, Every Act of Life, is in 2018 by die Tribeca-rolprentfees in New York vertoon. Onder die mense wat hom daarin huldig, is Nathan Lane, Joe Mantello, Tyne Daly, Meryl Streep en Richard Thomas.

Hy word oorleef deur sy man, die Broadway-vervaardiger Tom Kirdahy.

– Saamgestel deur Laetitia Pople uit Deadline, The New York Times en BBC.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.