Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teaters: ‘Dis ’n wonderwerk dat ons nog oop is’

Teaters in Kaapstad skud stadig maar seker weer hul vere reg om hul deure oop te swaai. Christiaan Boonzaier het met teatereienaars gepraat oor die pad vorentoe.

Die Boer-restaurantteater gaan voortaan ietwat anders lyk as in dié foto van vroeër. Foto: Neels Kleynhans

Die Boer-restaurantteater in Durbanville en Gate69 in die Kaapstadse middestad is van die eerste teaters wat nou sedert die begin van die staat van inperking in Maart gaan heropen.

Die rooi tapyt word egter onder streng maatreëls en moeilike omstandighede uitgerol, omdat die pandemie volgens teatereienaars byna net reste in die teaterbedryf oorgelaat het.

“Dit is hartseer, maar waar,” sê Margit Meyer-Rödenbeck, saam met Jurgen Human, die eienaars van Die Boer wat volgens hulle in sy 15de bestaansjaar sal ondergaan as dit nie op 24 September kon heropen nie.

“Dat ons hoegenaamd nog staande is, is ’n wonderwerk – en ja, soos almal anders moes ons diep gaan delf in ons (finansiële) reserwes, maar ons kan dit nie onbepaald doen nie.”

Nadat Die Boer op 16 Maart moes sluit, is ’n besige teaterskedule en uitverkoopte vertonings in ’n oogwink uitgewis en met honderde terugbetalings, af- en uitgestelde vertonings en aflegging van werknemers vervang.

“As jy in die vermaak- en gasvryheidsbedryf werk, was die afgelope ses maande lánk en sou jy nooit kon raai dat Covid-19 soveel verwoesting en verwarring kon saai nie,” sê sy.

“Ons beplan ses tot tien maande vooruit by Die Boer, so vertonings is weer en weer en weer herskeduleer. Honderde mense se kaartjiegeld is terugbetaal. Vertonings is afgestel.

“Ons personeel, wat een dag tevore nog in ’n volgepakte teater gewerk het, moes letterlik drie later hoor dat Die Boer weens regerings- en inperkingsregulasies sy deure tot verdere kennisgewing moet sluit. Ons het vir hulle gesê ‘sterkte, vat enige werk wat jy kan kry, ons help waar ons kan, maar ons bedryf gaan een van die laastes wees om weer oop te maak’.

“Helaas is dit só. Stuk-stuk begin die ratte nou weer vir klein teaters draai.”

Ons het vir hulle (Die Boer se personeel) gesê ‘sterkte, vat enige werk wat jy kan kry, ons help waar ons kan, maar ons bedryf gaan een van die laastes wees om weer oop te maak’.
Margit Meyer-Rödenbeck, mede-eienaar van Die Boer

Human het op sy beurt gesê hulle is nou besig om die restaurantteater in te rig sodat dit aan al die regering se Covid-19-maatreëls kan voldoen.

“Bykomende ventilering word in die restaurant en toilette aangebring. ’n Klomp tafels en stoele moet verwyder word, en ons tafelplan word aangepas. Toerusting word ook gekoop om die restaurant daagliks te reinig.”

Hoewel die teater weer lewe kry, sê hy hul aanlyn konsertreeks, bekend as Die Boer by die Huis, gaan steeds voort.

“Sodra ons 100% tevrede is met die tegniese aspekte daarvan, is die plan om vir mense die opsie te gee om dieselfde vertoning óf in lewende lywe in die teater te kyk óf, waar moontlik, dit teen ’n laer kaartjieprys aanlyn te stroom.

“Aanlyn konserte het beslis gehelp om ons staande te hou,” sê hy. “Ek wil vir álmal wat ’n kaartjie gekoop het – en veral dié wat boonop skenkings gemaak het – uit die diepte van ons harte bedank.

“Ek onthou hoe Margit begin huil het toe ons eerste aanlyn vertoning begin en iemand die eerste skenking maak – en baie van hulle het weer en weer met elke vertoning skenkings gemaak.

“Aan almal van hulle: Báie dankie! Julle is, soos ons, teaterliefhebbers en ons belowe ons gaan nié jul skenkings neem én Die Boer laat ondergaan nie, maar om dié belofte na te kom, móét ons nou oopmaak. Daar is geen ander uitweg nie.”

Die Boer open met ’n vertoning deur Pietman Geldenhuys, waarna vertonings deur Matthys Roets, Sandra Prinsloo, Marion Holm, Wicus van der Merwe, Andriëtte, Dowwe Dolla, Tasché, Jan Blohm en Elandré sal volg.

Besoek www.dieboer.com vir meer inligting.

‘Pandemie was soos dief in die nag’

Brendan van Rhyn, mede-eienaar van Gate69, sê ook hy gaan nie doekies omdraai oor die pandemie wat “soos ’n dief in die nag” die mat onder hulle uitgeruk het nie.

Ook Gate69 gaan heel anders daar uitsien as voorheen. Foto: Verskaf

“Die afgelope tyd was malligheid en ons is steeds besig om sin daarvan te maak en ’n uitweg te soek wat sal verseker dat ons staande bly.

“Dit is sieldodend om te sien hoeveel ondernemings rondom ons (in Breestraat) moes sluit. Vir ons was dit so hittete – dis ’n wonderwerk dat ons nog oop is – ons is nog hier.”

Gate69 het nes Die Boer ook op 16 Maart gesluit. Sedertdien is tien van hul 18 werknemers afgelê. Hulle het Vrydag (11 September) heropen, dié keer met ’n dolleë beursie.

“Ons sal nooit die geld wat ons verloor het, terugkry nie – dit is ’n aansienlike bedrag. Ons kan veral nie nou ons verliese opmaak nie want ons kan net 50 mense in die teater toelaat – dit is die helfte van ons kapasiteit, so ons maak nou staat op 50 mense per dag en niks minder nie, anders gaan ons boeke nie klop nie.”

Ons het sedert Februarie geen salaris ontvang nie. Ons het ons bankrekening leeggemaak om ons werknemers te betaal, om hulle huis toe te stuur.
Brendan van Rhyn, mede-eienaar van Gate69

Hy gee toe daar was wel in dié troebel tyd silwer randjies – onder meer hul verhuurder wat hulle tegemoetgekom het, die geleentheid om ’n blaaskans te neem en tyd om oor die toekoms van die teater te besin – maar hy kan nie die steil bult wat voorlê, ignoreer nie.

“Dit is belangrik vir ons om te heropen, nie net vir die onderneming nie, maar ook vir onsself. Ons het sedert Februarie geen salaris ontvang nie. Ons het ons bankrekening leeggemaak om ons werknemers te betaal, om hulle huis toe te stuur.

“En ja, dit is belangrik om die masjien weer momentum te gee. Ons het hierdie onderneming die afgelope vier jaar opgebou. Dit was ’n goed geoliede masjien – en toe kom dit tot stilstand. Ons moet terugkom na waar ons was.”

Benewens die virusmaatreëls wat hulle voortaan sal moet toepas, sê hy die pandemie het eintlik hul hele sakemodel verander.

“Ons kaartjies kos nou R450. Ons gaan voortaan glad nie meer aandete bedien nie, maar ons kaartjieprys sluit nog ons bekende tequila-roomys in.

“En ons is beslis Covid-ready. Ons gaan in alle waarskynlikheid die veiligste gebou in Breestraat wees. Ons het ons eie fogger, so die teater gaan gereeld gereinig word, en ons gebruik ook ’n wonderlike produk – die Rolls-Royce van ontsmettingsmiddels.”

Die Trolley Dollies is (van links) Holly (Christopher Dudgeon), Cathy Specific (Brendan van Rhyn) en Molly (Rudi Jansen). Foto: Verskaf

Die teater open met die komiese fopdosvertoning Big Sister – A Musical Tweet!, waarin Van Rhyn saam met Christopher Dudgeon en Rudi Jansen op die verhoog is. Die driestuks is bekend as die Trolley Dollies en vertolk onderskeidelik die karakters Cathy Specific, Holly en Molly. Elkeen van dié agt voet lank fopdossers sal hul eie ervaring van die staat van inperking in die vertoning deel.

“Die wonderlike ding van drie mans in rokke is dat hulle baie kan sê waarmee hulle kan wegkom. Dit is ons platform – en ons gaan alles in sang, woord en dans sê wat ander mense net kan dink.”

Teatergangers moet hulle teen 18:30 by Gate69 aanmeld vir die vertoning, wat rondom 19:15 begin. Kaartjies kan by www.gate69.co.za of 021 035 1627 bespreek word.

Hoe staan sake in ander Kaapse teaters?

Netwerk24 het vroeër berig dat die Baxter-teater hoop om teen Oktober weer oop te maak. Die Fugard-teater sal egter tot volgende jaar gesluit bly.

Tiffany Schultz, mede-eienaar van die Courtyard Playhouse, het aan Netwerk24 bevestig dat hulle ook nog nie beplan om te heropen nie.

“Ons het net 40 sitplekke, so as ons sosiale distansiëring toepas, gaan ons kapasiteit tot 25 daal, so dit is nie lewensvatbaar om oop te maak nie. Die aandklokreël bemoeilik ook sake.”

Pieter-Dirk Uys sê Evita se perron het die afgelope paar maande ’n “deep clean, botoks en nuwe lewe gekry”, maar ook daar gaan die verhooggordyn nog nie gelig word nie.

“Ons verhoog staan reg om weer te speel – maar eers ná die toekomstige Covid-19-entstof ’n werklikheid word. Kan nie met ’n gehoor sit wat uit die venster spring elke keer as iemand nies, poep of lag nie, so watch this space.”

Uys gaan wel voort met digitale aanbiedings – sewe vertonings word vir voor die einde van die jaar beplan. Besoek www.evitaseperron.com vir meer inligting.

Kan nie met ’n gehoor sit wat uit die venster spring elke keer as iemand nies, poep of lag nie, so watch this space.
Pieter-Dirk Uys

Ook die Kunstekaap gaan vir eers met sy digitale program voort. Dr. Marlene le Roux, die teater se uitvoerende hoof, sê hul aanlyn aanbiedings lok oë wêreldwyd.

“Dit is verbasend dat ons nou wêreldbekend is. Ons reach is wyer as voorheen. Ons het die pandemie se uitdagings in die oë gekyk en kreatief begin dink. As teater het ons van die beste tegniese spanne, ook ’n verhoog en gebou wat ons vir kunstenaars en vervaardigers kon aanbied om digitale programme te skep en drama- en musiekproduksies vir die radio te vervaardig. Dít was ’n wenresep.”

Vir meer inligting oor dié digitale program, besoek www.artscape.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.