Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Teksmark ontvang ’n rekordgetal inskrywings
’n Toneel met Shaun Oelf en Dean Balie in ‘Karatara’ geskryf deur Oelf en Wilken Calitz is ná 2019 se Teksmark ontwikkel en sou by die KKNK 2020 open, maar sal nou by die KKNK 2021 open.Foto: Nardus Engelbrecht

Ten spyte van die Covid-19-pandemie en inperkings wat die uitvoerende kunste in Suid-Afrika op sy knieë gedwing het, blom kreatiwiteit vandeesmaand op die Teksmark van Kunste Onbeperk.

’n Rekordgetal tekste word van 28 tot 30 Oktober as leesteater by die vyfde Teksmark in die Baxter-sentrum in Rondebosch in Kaapstad aangebied.

“Ons sien daarna uit om in hierdie buitengewone jaar kreatiwiteit in die teaterbedryf te vier en aan skrywers die geleentheid te bied om uittreksels uit hul opwindende nuwe verhoogtekste ten toon te stel,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk in ’n verklaring.

Altesaam 122 inskrywings is ontvang, waarvan 22 voorstelle by die Teksmark aangebied word.

‘Swerfgoed’ deur Bauke Snyman is ná Teksmark ontwikkel tot ’n volwaardige produksie en het verskeie Fleur du Cap-toekennings ontvang. Hier is Anna-Mart van der Merwe en Nicole Holm in ’n toneel daaruit.Foto: KKNK

Die titels van die 22 tekste en die skrywers is: !Nau en ander drama deur Jolyn Phillips; Alleensaam deur Wim Vorster, Askaria deur Dianne du Toit Albertze;

Bientang deur Riana Scheepers; Covid Moons deur Clare Stopford; Die sondige sewe deur Niël Rademan; Droomwerk deur Pieter Odendaal; grot deur Kanya Viljoen; Iingxoxo zelobola deur Anele Kose; Love, Lafras deur Caitlin Wiggill; Pakslae / Hiding deur Jeani Heyns, Chad Baai en Zoë Chetty; Pelegi deur Tshegofatso Mabele; The Spotlight Tonight deur Ian Tucker; The Valley of the Shadow deur Qondiswa James, Tankiso Mamabolo, Tiisetso Mashifane wa Noni, Malika Ndlovu, Wessel Pretorius en Mike van Graan; What We Wish For deur Mike van Graan; Al dra ’n aap ’n goue ring deur Margo Kotzé; But, Baby I Love You deur Andrico Goosen; Die workshop deur Fabian Rainers; It’s My Baby deur Xolisa Ngubelanga; Kokon deur Carlo Daniels; Mannetjie deur Gerhard Visagie en The Infinite Woman deur Misha Krynauw.

Verskeie regisseurs en akteurs is betrokke by die uittreksels wat aangebied word, onder andere Antoinette Kellermann, June van Merch, Denise Newman, Abduragman Adams, André Roothman en Rehane Abrahams.

Verlede jaar se Teksmark is aan die veeltaligheid van die voorstelle gekenmerk, asook aktuele gesprekke tussen die gehoor en geselskappe wat deelgeneem het. Vanjaar word voorstelle in Afrikaans, Engels, isiXhosa en Sesotho ingesluit.

Cornelia Faasen, die uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief, wat die mark moontlik maak, meen dat “as daar een ding is wat ons geleer het uit vanjaar, is dit dat die wêreld sonder teater en spesifiek lewendige teater, ’n baie vaal en vervelige plek is. ’n Bykans sinnelose plek.”

Kunste Onbeperk nooi belangstellendes uit om hul menings oor die tekste te kom deel. Vooraf registrasies vir bywoning moet gedoen word en daar is elke dag slegs ’n beperkte aantal sitplekke per sessie beskikbaar, in ooreenstemming met die huidige Covid-19-regulasies.

Vir meer inligting en om te registreer besoek kknk.co.za/teksmark of skakel 044 203 8600 of stuur ’n e-pos na lizane@kunste.org.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.