Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Tertius Kapp se drama ‘Liewer’ sny diep
Tertius Kapp.

Die Hertzog-pryswenner Tertius Kapp bewys met sy jongste drama, Liewer, opnuut sy meesterskap. Waar sy Rooiland en Oorsee vandag se Suid-Afrika polsend afteken in die perk van vier tronkmure en op ’n reddingsbootjie na ’n nuwe wêreld, sny Liewer nóg nader aan die been.

Hy takel ons mees intieme liefdesverhoudings met ’n fyn skalpel. Dit is onder sewe besonder sterk Afrikaanse toneeldebute op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Twee paartjies word teenoor mekaar gestel en afgespeel: die huweliksmaats van etlike jare Vincent (Brendon Daniels) en Annie (Anna-Mart van der Merwe) en die jong verliefdes Beatrice (Tarryn Wyngaard) en Zander (Wilhelm van der Walt) wat nog nie wis of hul liefde ’n raklewe het nie.

Dit is nie ’n geval van ’n beleë, te gemaklike liefde gekontrasteer met ’n jong, bruisende klawerliefde nie. Die bordjies word heeltyd en verrassend verhang, tekenend van ’n dramaturg wat intrige ten diepste verstaan. Met ’n ironiese sameloop kruis die paartjies se lewe en so tuimel die kyker in ’n emosionele maalkolk van wellus, misbruik en verraad.

Die Britse dramaturg Patrick Marber se wyd vertaalde drama, Closer – waarvan Mike Nichols ook ’n rolprent gemaak het met Julia Roberts en Jude Law – mag dalk die stemvurk wees wat die noot hier aangee.

Kapp en regisseur Jaco Bouwer sê Liewer is ’n eie werk, ’n skepping van hier en nou wat vibreer van lewe in ’n moderne , plaaslike konteks. Dit is belangrik om op te merk dat die paartjies van gemengde ras is – so word leefruimtes uitgelig wat sorg dat die gegewe verdiep.

Die vier akteurs is elk kragtig en skakeer hul karakters met asof moeitelose vaardigheid.

Die reikwydte loop van Atlantis tot Kaapstad, kliëf deur sosiale sirkels, enige voorbehoude oor stand, klas en generasies en lewer ’n binneblik wat die kyker onthuts en ontredderd laat. Hier word uit die hart en vuis gepraat en ’n offerande geëis – dis amper onafwendbaar.

Bouwer se strak, gestroopte ontwerp dien en verryk die teks. ’n Plat podium is bed, dansvloer, verskeie kamers en rusbank. Karakters praat met mekaar op verskeie skerms en ook direk op kamera asof hulle bieg. Ons loer ook af op hoogs intieme oomblikke. Ons kán hulle en hul emosies nie ontglip nie – dis in your face.

Die vier akteurs is elk kragtig en skakeer hul karakters met asof moeitelose vaardigheid. Die ensemble is perfek ingestem op mekaar, altyd in pas in dié verwikkelde gegewe.

Pierre-Henri Wicomb se klankbaan en Wolf Britz se beligting klee en voltooi ’n wêreldklas-produksie.

Liewer is soos ’n bloedbad sonder bloed, liefde het inderdaad ’n wapen geword. Dit is asof ons toekyk hoe ’n roofdier sy prooi bekruip en verslind.

Die teatergangers word getuie van die onsigbare emosionele wonde wat ons mekaar aandoen, ons is almal spoiled goods en is hier om die stukkies op te tel.

Die KKNK duur tot 15 April.

Meer oor:  Oudtshoorn; Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.