Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘The Hucksters’ is uitdagend, smerig en skoksnaaks
Emily Child en Nicholas Pauling in Louis viljoen se ‘The Hucksters’. Foto: Baxter-teater

The Hucksters

Baxter-teater, Kaapstad

****

In die middel van die verhoog staan ’n verfrommelde dubbelbed soos die versperringsgebied in ’n veldslag.

As teaterganger weet jy reeds dat daar ’n uitdaging wag en dat die fondament van jou sogenaamde sekerhede ’n krakie of wat gaan kry – die dramaturg en regisseur van The Hucksters is immers Louis Viljoen. Dink maar aan sy The Pervert Laura, The Kingmakers of The Eulogists. The Hucksters is gitdonker, ’n intellektuele kragtoer, ’n sielkundige outopsie en dan so uit die bloute skoksnaaks.

Idees, gewaarwordinge oor seksuele politiek, verkragting, verleiding, die wankelverhoudings van vriende, man en vrou, ouers en kinders tot die siekstroop-leuens van die advertensiewese word rond gebons tussen die twee karakters. Hulle is oorgehaal en ingestem op mekaar, die spanning is snaarstyf en die gehoor vergun hulself eers aan die einde die kans om weer ’n asemteug te neem.

Emily Child is Beth en Nicholas Pauling is Fred – albei akteurs puik geplaas in die rolle. Die twee takel mekaar behoorlik ná een nag van hartstog. Hulle het by ’n werksfunksie aan die kuier geraak. Daar is net vir ’n wyle ’n gemoedelikheid en ’n geneentheid vir mekaar en dan blyk dit hier is appeltjies te skil. Gifappels wat strek tot by Adam en Eva. Iets het in die verlede gebeur, iewers in hul vroeë 20’s en die twee is op ’n manier aan mekaar verbind.

The Hucksters is gitdonker, ’n intellektuele kragtoer, ’n sielkundige outopsie en dan so uit die bloute skoksnaaks.

Fred is in die advertensiewese en dié gegewe speel in op sy menswees en wêreldbeskouing, hy walg in homself – hy is nie meer die selfversekerde groepsdier wat hy in sy 20’s was nie. Beth was by die partytjie in ’n uitrusting wat sy aandag getrek het en sy het ook toenadering gesoek. Roofdier en aas? Wie het uitgelok? Laat jou gedagtes hier liefs nie op snuifgetrapte paadjies hol nie, gee jou oor en luister maar fyn. Die teater is ’n veilige ruimte waar veronderstellings getoets kan word, dan nie?

Daar is baie van Laura (The Pervert Laura) terug te vind in Beth, en Fred is nie wie jy dink hy is nie. Tog, net wanneer jy dink die twee raak mekaar, skud Viljoen jou oortuigings uit soos vere in die wind.

Daar is wel ’n gedeelde menslikheid te vind vir ’n oomblik en dan is dit ook vort.

The Hucksters doen sy naam gestand: Dit is ondermynend, smerig en uitlokkend. Dit bied nie wat jy wil hoor nie en vervul jou selfs met wrewel. Dit sal nie in almal se smaak val nie, maar hier is stof tot nadenke. Dis teater wat jou nie gemaklik in die sofa laat wegsink nie.

  • Let wel die ouderdomsperk is 18. Tot 31 Januarie.
Meer oor:  Teater  |  Teaterresensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.