Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Tobie Cronjé blaai deur sy plakboek

Daar is min akteurs in Suid-Afrika wie se plakboek so boepens staan soos dié van Tobie Cronjé. In sy loopbaan wat in 1972 begin het, het hy tot dusver in sowat 50 toneelstukke gespeel en hy het 18 pantomimes, 4 operettes 26 rolprente en 15 televisiereeks agter sy naam. Hy het ook die regie van 12 produksies behartig.

Tobie Cronjé

Dis moeilik om te glo, maar vir baie mense is hy nog steeds Joachim in Die Avonture van Joachim Verwey, die rol wat hy in 1976 saam met Katinka Heyns in die televisiereeks vertolk het.

“Net Dinsdag vra iemand weer vir my hoe dit met Trixie se spene gaan,” sê hy met ongeloof in sy stem.

Hoogtepunte

* Sy kinderdroom was om in ’n sirkus te werk, vertel hy. Dus was sy rol as die hanswors August in Pavel Kohout se August August, August een van die hoogtepunte in sy loopbaan. “Ek het ’n hoofrol gespeel en het nie een keer by die huis moes woorde leer nie. Ek het ook ’n benoeming vir my vertolking.”

* Terwyl Joachim Verwey op die kassie was, het ’n vreemde seuntjie eenkeer vir hom gevra: “Wanneer kom jy weer eendag by ons kuier?” Hy het geantwoord: “Maar ek weet nie waar julle bly nie.” Toe kom die antwoord: “Is nie! Jy was al baie in ons sitkamer . . . ons het lekker gesels en gelag!” Dit was vir hom ’n groot kompliment.

* Toe hy vir Truk in die stuk Man met vakansie (van Chris Barnard) gespeel het, het ’n blinde persoon ná die tyd vir hom gesê hy het baie van sy werk gehou. Dit was vir hom een van die grootste komplimente in sy loopbaan.

Eddie Eksteen, Joan Brickhill en Tobie Cronjé in I Love My Wife (1978 en 1980).

* Hy is die trotsste op sy rol in I Love My Wife (1978, 1980) saam met Joan Brickhill en Eddie Eksteen.

“Ek moes leer dans en sing en met ’n Amerikaanse aksent praat. Ek het nie geweet ek kan een van die dinge doen nie en toe wen ek nogal ’n prys vir my vertolking.”

Eienaardige ondervindings

Tobie Cronjé is ’n goeie pianis.

* Die eerste rol in sy professionele loopbaan was in The Fantasticks (1972). In hierdie stuk het hy nie ’n woord gesê nie – hy het net klavier gespeel. Dit was vir hom ’n bietjie vreemd, want hy het gedink akteurs val sommer weg met ’n rol in die een of ander drama van Tsjechof.

* Ek en Annelize Weiland het in die Theatre on the Bay in Kaapstad in When the Cat’s Away opgetree. Dit was ’n Joodse liefdadigheidskonsert. Die mense het nie een keer gelag nie. Dit was so ongewoon dat ons skoon die kluts kwyt was. Ons het selfs een keer van die verhoog af gehardloop en ons het self op die verhoog begin lag.

Groot fout

Op universiteit het hy die rol van die doge in ’n Afrikaanse vertaling van Othello vertolk.

“Ek was nie tuis met die manier wat tant Anna (Anna Neethling-Pohl) wou hê ek dit moes vertolk nie. Op die openingsaand het ek dit toe na my smaak verander.”

Hy volstaan daarmee dat dit ’n groot fout was.

In die pantomime Jack and the Beanstalk.

Amperse rampe

“Sjoe, dis te veel om op te noem.”

Dankbaarheid

“Ek word op 3 November vanjaar 70 jaar oud. Ek kon my hele lewe lank doen waarvoor ek lief is. En ek kan dit nou nog doen.”

* Cronjé is eersdaags weer te sien in Binnelanders. Hy vertolk weer die rol van Kallie Koster wat hy agt jaar gelede vertolk het. Kallie is nou vir ’n maand weer terug en sal in November of Desember in die reeks te sien wees.

* Van sy mees onlangse rolle op die verhoog:

Bekendste rolle in die teater: Die Leo’s (2014), Die ballade van ’n banggat (2014), Vettie-vettie (2015), Heidi (2016) en Ooms (2016).

In pantomimes: Peter Pan (2014), Sleeping Beauty (2015) en Pinocchio (2017).

Cronjé het in 1975 die rol van Lafras Verwey in die toneelstuk Die rebellie van Lafras Verwey van Chris Barnard vertolk. Dis verlede jaar as rolprent uitgereik met Cronjé weer in dieselfde rol.

* Hy het verlede week die kanseliersmedalje van sy alma mater, die Universiteit van Pretoria, ontvang.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.