Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Toe die teater roep, was Carlo daar
Carlo Daniels as Mr Carlo Denver Biggs in die musiekspel Satin to Sequins wat einde Junie in die Baxter-teater open. Foto: Lee Henriques

As die teater jou roep, kan jy nie anders as om te antwoord nie.

Carlo Daniels het kleintyd in Mitchells Plain op straathoeke begin optree. Vroeër vanjaar was hy die wenner van die Zabalaza-teaterfees met die stuk Onweer.

Hy het dit geskryf, self daarin opgetree en was sommer ook die regisseur. Dit is die eerste stuk in Afrikaans wat die wenner was in die nege jaar dat die fees gehou word.

Hy is tans in die Magnet-teater (waar hy in sy finale jaar is) te sien in The Visit wat die naweek ten einde loop en hy repeteer aan die nuwe musiekspel Satin to Sequins: More Than a Minstrel wat einde vandeesmaand in die Baxter-teater open.

Carlo Daniels en Abigail Mei in Onweer wat vanjaar se Zabalaza-fees gewen het.

Dis duidelik dat hy nie skrik vir harde werk nie en hy dra soveel teaterhoede as wat hy kan. Hy is gelyktydig student, akteur, sanger, dramaturg en regisseur. Boonop was hy deel van die Baruch Entertainers wat vanjaar die wenner was van die Kaapse Klopse Karnival se afdeling een in die Athlone-stadion.

Hy voel dus baie tuis in die rol van Mr Carlo Denver Biggs van die Woodstock Darlings in Satin to Sequins.

“Dis ’n menslike storie van die lief en leed van die mense wat deel is van die klopse,” sê hy.

“Ons wys die mens in die satynpak, wat sy lewe behels en bo alles die skoonheid van die kultuur.”

Die behoud van kultuur en die vreugde wat dit vir deelnemers en toeskouers inhou, is vir die lede van die Woodstock Darlings belangrik.

Carlo Daniels

Die musiekspel is sowat ses jaar gelede vir die eerste keer opgevoer, maar dis herskryf en verwerk deur Riyaad Peters en Alistair Izobell. ’n Belangrike verandering is die eerste vroulike rol (Carmen Maarman) wat bykom.

In teenstelling met die eg Kaapse verhaal, kom The Visit direk uit Europa en uit die pen van die Switser Friedrich Dürrenmatt met al die uitdagings daaraan verbonde.

Sy eie stuk Onweer gaan oor ’n jong vrou van die Kaapse Vlakte wie se lewe weer vergal word wanneer haar gewelddadige pa uit die tronk vrygelaat word. Hy en Abigail Mei, sy medespeler in dié stuk, het die stuk ontwikkel van 20 minute na ’n volledige stuk vir die Zabalaza-fees.

“Dit was wonderlik om in my eie taal te kon skryf en dit was nog beter om te wen. Dit was soos ’n droom wat waar geword het om ’n speelvak in die Baxter te kon hê.”

Hy hoop dat hulle die stuk verder kan neem en doen tans aansoek by kunstefeeste.

Daniels was in sy matriekjaar deel van Madame Zingara se vermaakspan. Sy eerste groot professionele rol was in die 2011-produksie van David Kramer se Some Like It Vrot. Daarna was hy nog in verskeie van Kramer se produksies soos Kat and the Kings, Blood Brothers, Orpheus in Africa en District Six Kanala te sien.

*Satin to Sequins is van 28 Junie tot 14 Julie in Die Baxter-konsertsaal te sien. Bespreek by 021 680 3989.

Meer oor:  David Kramer  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.