Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Toneelkompetisie vir tjokkertjies
Foto ter illustrasie

Is jou klein rakker die volgende Charlize Theron, Trevor Noah, Arnold Vosloo, Tinarie van Wyk Loots of Christo Davids?

Toon jou laerskoolkind potensiaal as ’n opkomende akteur of aktrise? Dan is ATKV-Tjokkertoneel nét die plek om sy of haar talente as deel van ’n toneelgeselskap te ontgin.

Tot onlangs was ATKV-Tienertoneel eksklusief vir hoërskoolleerlinge, maar met die splinternuwe ATKV-Tjokkertoneel gaan laerskoolleerlinge ook nou die planke warm speel.

“Die behoefte vir ’n toneelprojek vir laerskole is al ’n paar jaar duidelik uit navrae,” sê Lizané Basson, projekorganiseerder by die ATKV.

“Daar is heelwat kunstefeeste en ’n paar toneelfeeste wat laerskooltoneel op ’n manier akkommodeer, maar ATKV-Tjokkertoneel sal ’n nasionale platform vir talentontwikkeling wees, gefokus op beginsels soos toneelontwikkeling, gehoorontwikkeling en blootstelling aan literatuur.”

Volgens haar bestaan daar ’n behoefte vir ’n gestandaardiseerde, geakkrediteerde, betroubare kompetisie en die ATKV kan met sy jare lange ondervinding as rolspeler in die gemeenskap hierdie rol vertolk.

“Ons wil ouers help om hul kinders te help. Ons wil kinders laat spesiaal voel en hul talente ontgin. Die ATKV wil kinders blootstel aan uiteenlopende genres, goeie speltegnieke, goeie afrigting en nuttige wenke.”

Lizané sê ook dat daar natuurlik ’n verskil tussen ATKV-Tienertoneel en die Tjokkertoneel sal wees.

“Die groot verskil is dat Tjokkertoneel nie noodwendig sulke uitdagende en sensitiewe inhoud sal bevat nie. Eerder (byvoorbeeld) kinderboeke wat verwerk is vir die verhoog en gedigte vir spreekkore, sodat die basis van storievertel en speltegniek deur die kinders aangeleer kan word.

Laerskole kan hul junior spreekkoor (graad 1 tot 3), senior spreekkoor (graad 4 tot 7) en ’n minitoneel inskryf vir die eerste jaar wat hierdie nuwe ATKV-projek van stapel gestuur word.

“Ons beoog om Tjokkertoneel kindervriendelik aan te bied met ’n fokus op die viering van kinders en die uitleef van hul talente en belangstellings.”

En waarna kan die leerlinge uitsien met hul deelname aan Tjokkertoneel?

“Vet pret,” sê sy.

“Dit gee vir die kinders die geleentheid om voor ’n gehoor op te tree wat hulle waardeer en gaan hulle ook die blootstelling gee aan teaters se fasiliteite.”

Die streeksfeeste vind by die volgende geleenthede plaas:

Gauteng-streeksfees op 20 en 21 September by die Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp.

Wes-Kaap-streeksfees op 27 en 28 September by die Kunstekaap-teater in Kaapstad.

Bloemfontein-streeksfees op 4 en 5 Oktober by die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein.

Oos-Kaap-streeksfees op 4 en 5 Oktober (die venue sal binnekort bevestig word).

Skole kan vir Lizané Basson by 011 919 9078 bel of vir haar ’n e-pos na lizaneb@atkv.org.za stuur.

Meer oor:  Atkv  |  Tjokkers  |  Toneelspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.