Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Uitvoerende hoof van Pacofs tydelik geskors

Peter Pedlar het met sy aanstelling as uitvoerende hoof van Pacofs in Julie 2019 ywerig aan die werk gespring om “weer lewe te blaas in die Sand du Plessis-teaterkompleks in Bloemfontein”.

Hy wou die ouditoriums behoorlik laat skoonmaak, infrastruktuur opknap, vaardige teaterpersoneel heraanstel en was in die proses om samewerking met onder meer die Markteater in Johannesburg en die Vrystaatse simfonieorkes te vestig en ’n dansskool by Pacofs te stig toe die Covid-19-inperking sy planne verydel.

Hy het wel daarin geslaag om verlede jaar ’n aanlyn program te laat opneem en uitsaai.

Die pandemie is egter glo ’n vulletjie gemeet aan die verlammende binnegevegte in Pacofs en dit is een van die redes waarom feitlik geen openbare vertonings in sy teaters aangebied word nie.

Peter Pedlar

Pedlar sê hy het geen benul wat die situasie tans by Pacofs is nie, aangesien die destydse voorsitter van die Pacofs-raad, Nkosana Sifumba, hom op 2 November verlede jaar beveel het om sy kantoor te ontruim hangende ’n dissiplinêre verhoor op 18 November. Blykbaar het die raad die stap gedoen nadat hulle die mening van die Bloemfonteinse prokureur Duncan Motaung gekry het.

Volgens Pedlar is geen verslag met klagte aan hom oorhandig nie en daarby was 18 November ook die dag waarop die raad se termyn verstryk het. Pedlar het daarteen kapsie gemaak en die verhoor is toe vir 16 Februarie geskeduleer.

Pedlar sê die eerste dat hy die klagte teen hom te sien gekry het, is in ’n verslag wat in twee dele, op 8 en 15 Februarie 2021, aan hom gelewer is. 15 Februarie is ’n dag voor die verhoor. Die verhoor is egter op grond van die laat indiening deur die arbeidshof in Johannesburg uitgestel.

Pedlar sê die klagte teen hom is magsmisbruik, nepotisme en bedrog waaraan hy geensins skuldig is nie en waarvoor hy die bewyse het.

Volgens Pedlar het probleme tussen hom en die raad reeds in die tweede helfte van 2019 kop uitgesteek. “Aantygings is op ’n raadsvergadering in Mei 2020 teen my gemaak en daar is voorgestel dat ek nie geskors word nie, aangesien die raad van mening was dat die klagte nie so erg is nie. Die vakbond Nehawu het ook die skorsing teengestaan.”

Pedlar sê die stof wou nietemin nie gaan lê nie en nadat hy in Oktober 2020 ’n brief aan die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, gestuur het waarin hy vier raadslede van bedrog en seksuele teistering verkla het, het teenkanting teen hom glo opnuut opgevlam.

Dit is drie weke hierna dat Sifumba hom tydelik geskors het.

Volgens Pedlar is daar ’n groep werknemers wat Pacofs glo wil destabiliseer.

Hy bevind hom egter in ’n “knellende probleem”.

“Sodra jy as fluitjieblaser optree, word jy geviktimiseer. Daarom wil ek terwyl ek tuis is, ’n instansie vir die beskerming van fluitjieblasers stig.”

Dié rekenmeester wat al verskeie senior poste beklee het, was die waarnemende sekretaris van die Zondo-kommissie voordat hy in die pos by Pacofs aangestel is.

Sy studieloopbaan het aan die Universiteit van Wes-Kaapland begin waar hy in 1990 ’n BCom-graad verwerf het. Hy het dit opgevolg met honneurs wat hy in 1993 aan die Universiteit Stellenbosch voltooi het. Pedlar het ook ’n senior bestuursprogram by die bestuurskole van Wits en Harvard in die VSA voltooi.

Van die poste wat hy al beklee het, is dié van adjunk-uitvoerende hoof van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing, finansiële hoof van die departement van kuns, kultuur, wetenskap en tegnologie en finansiële hoof by Kunstekaap.

Motaung het Donderdag oor die telefoon gesê hy kan nie gesels nie aangesien hy afsprake het, maar sal net ná 13:00 terugbel. Hy het egter nie teruggebel soos beloof nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.