Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Unieke teater-ervaring begin in Pretoria
Jannes Erasmus in Swem.Foto: Henque Heymans
Ben Pienaar in Koud. Foto: Henque Heymans
Stephanie Gericke in Nat.Foto: Henque Heymans
Barend Mynhardt in Bloos.Foto: Henque Heymans

’n Deur na ’n intieme teateromgewing gaan tot 11 November in Capital Park, Pretoria oop.

Met DEURnis, ’n teaterervaring van een speler teenoor een gehoorlid, kry teatergangers die geleentheid om op een aand drie solostukke van ongeveer 20 minute elk direk na mekaar te sien.

Dit is ’n nuwe teaterprojek wat aangebied word deur Theatrerocket Productions, waarvan Johan van der Merwe en Rudi Sadler die eienaars is.

Dit is ook deel van die tweejaarlikse Cool Capital Biennale en sal mettertyd groei.

Van der Merwe, ook een van die solostukke se regisseurs, sê hy het vreeslik baie van dié soort teater op die Edinburgh-fees in Skotland teëgekom.

“Elke jaar word die soort teater ook in Londen opgevoer. Johann Smith, een van die teksskrywers, het ook vertel van ’n stuk in Amsterdam, Nederland, waar die akteurs in beddens is en die teaterganger klim dan ook in die bed. Dit is nou vir ons ook ’n eksperiment.”

Van der Merwe sê hulle het ongeveer 18 maande hieraan gewerk.

Sommige van die teksskrywers en akteurs is genader, terwyl ander van die begin af deel van die projek was. Ander het weer gevra of hulle deel van die projek kan wees.

“Dit is teater wat in een vertrek deur een persoon vir een persoon opgevoer word. Dit gebeur in ’n slaapkamer, badkamer of kombuis. Die groot ding is dat dit ’n storie moet wees wat met deernis vertel word, al is dit ’n sensitiewe kwessie.”

Sadler, wat ook by die projek betrokke is, verduidelik hoe die vertonings werk:

“Elke toneel is 20 minute lank. So daar is drie akteurs wat drie afsonderlike solostukke vir drie teatergangers opvoer. Ná afloop van elke stuk gaan die een gehoorlid na die volgende vertrek. Die drie solostukke wat op mekaar volg, word ses keer per aand opgevoer.”

“Of dit die gehoorlid skok of laat huil, die storie moet met deernis oorgedra word,” sê hy.

Die vier stukke waaruit DEURnis bestaan, is Bloos met Barend Mynhardt en die teks en regie is deur Smith;

Koud met Ben Pienaar en die teks en regie is deur Henque Heymans; Swem met Jannes Erasmus wat ook die teks geskryf het en Van der Merwe is die regisseur, en Nat met Stephanie Gericke, teks deur Heymans en regie deur Aneshree Neshra Paul.

Susan Ribeiro van die Huis van Afrikaanse Poësie in Capital Park, het haar huis beskikbaar gestel.

Volgens Van der Merwe is die groot uitdaging om geskikte lokale vir die projek te kry.

Daar word ook met hotelle hieroor onderhandel.

Sewe ander tekste is reeds geskryf en daar word ook aan ander gewerk.

Dit is ’n groepprojek, sê Sadler en Van der Merwe, almal werk saam hieraan.

Teksskrywers of akteurs wat betrokke wil raak, kan Van der Merwe by 082 829 6035 bel. Die projek het ook ’n Facebook-blad, DEURnis. Skakel ook dié nommer om te bespreek.

Die adres: Malherbestraat 90, Capital Park, Pretoria.

Vertonings is om 18:30 en 20:00 vyf dae per week. Alle dae behalwe Woensdae en Vrydae.

Kaartjies kos R150.

Meer oor:  Pretoria  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.