Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
US se H.B. Thom word nou Adam Small-teater
Adam Small Foto: Gallo Images

Die Universiteit Stellenbosch (US) se opgeknapte teaterkompleks gaan vernoem word na Adam Small, bekroonde digter en dramaturg.

Ná ’n weldeurdagte en inklusiewe proses van die dramadepartement is die voorstel vir die naamverandering deur die uitvoerende komitee van die US-raad goedgekeur. Dit was in oorleg met die universiteit se komitee vir die naamgewing en vernoeming van geboue, lokale en ander geriewe.

Dr. Rosalie Small, Small se weduwee, het ook haar goedkeuring gegee.

Die H.B. Thom-teater wat vernoem sal word na die Adam Small-teaterkompleks. Foto: Michelle van der Spuy

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, sê luidens ’n mediaverklaring dat die US trots is om met die ryke erflating van Adam Small geassosieer te word. Daarby wil die US graag help om menswaardigheid en geregtigheid, waaraan Small hom as akademikus en skrywer toegewy het, te bevorder.

Small is in Desember 2015 deur die US met ’n eredoktorsgraad in die lettere vereer. Hy het in 2012 die Hertzogprys vir sy drama-oeuvre ontvang.

Dr. Mareli Pretorius, aangewese voorsitter van die dramadepartement, sê Small se verbintenis tot Afrikaans en sy bydrae spesifiek tot Kaapse Afrikaans as digter en dramaturg was die motivering vir die voorstel.

Dr. Mareli Pretorius

Die eertydse H.B. Thom-teater, wat voor die opknappings ’n enkele ouditorium gehad het, is uitgebrei om ’n seminaarkamer en ’n kleiner laboratoriumteater in te sluit.

Die groot ouditorium (met 324 sitplekke) het nou ’n gemeganiseerde stelsel met moderne beligtings- en klanktoerusting wat alles aan internasionale standaarde voldoen.

Die kompleks kan nou benewens vir doeleindes van die uitvoerende kunste ook kommersieel vir ander funksies aangewend word.

Die dramadepartement se gebou sluit nou vir die eerste keer funksioneel by die teaterkompleks aan. Twee nuwe klankateljees, ’n televisieopnameateljee, ’n redigeerateljee, ’n rekenaarlokaal en uitgebreide repetisielokale is nuwe toevoegings. Die tegniese departement het ook ’n herontwerpte teaterwerkswinkel, twee rekwisietekamers en ’n splinternuwe kostuumateljee en -pakkamer.

Meer oor:  Adam Small  |  Universiteit Stellenbosch  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.