Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Van Wyk in boeiende drama oor tiktak van tyd
Hannes van Wyk in die toneelstuk ‘Sê groete vir ma’, wat van Donderdag af gestroom kan word.

Teaterliefhebbers kan in Julie uitsien na ’n derde drama wat as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se aanlyn fees “Terug op die planke” aangebied word.

Die akteur en Kwêla-aanbieder, Hannes van Wyk, se eenmanvertoning Sê groete vir Ma, moontlik gemaak deur Spar, kan ook nou in die gemak van kykers se eie sitkamers geniet word. Van Wyk vertolk in dié verfilmde drama die rol van Reghardt Roberts van Aswegen, wie se hele lewe en menswees om sy ma draai.

Desiré Gardner het die teks geskryf en Sandra Prinsloo behartig die regie van dié drama, waarin lag en trane baie na aan mekaar lê. Die band tussen ’n ma en haar kind, hul lewensreis saam, die pyn en die onvermydelikheid van oud word en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig – omdat dit uit liefde gedoen is – word hierin verken.

Sê groete vir Ma vertel die storie van Reghardt se vormingsjare (’n sensitiewe kind wat op ’n plaas moet grootword en die dinge van “manwees” en “man word” gou moet snap), sy pa, sy broer, Dewaldt, en sy veerpoothoender, Knoop, wat hom van die dood en die pyn en vernedering van tienerwees geleer het.

Die stuk word beskryf as ’n knop-in-die-keel-tong-in-die-kies-kykie na die dinge waarmee die meeste mense hulle kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die tiktak van die horlosie wat niemand die aardigheid van oud word (en siekte) spaar nie.

Dit is ’n storie vir elke lid van die gesin.

Die teaterresensent Paul Boekkooi beskryf die stuk as ’n menslike drama wat gehore van die eerste tot die laaste toneel vasvang.

Kaartjies vir Sê groete vir Ma kos R150 met 10%-afslag vir ATKV- en Kliek-lede. Dit is van Donderdag tot Sondag 15 Augustus op die KKNK se virtueleteater-platform op kknk.co.za beskikbaar. Koop jou kaartjie by Quicket. Die produksie is geskik vir die hele gesin, maar ouerbegeleiding word aanbeveel.

Die KKNK word ondersteun deur Absa (hoofborg) en Media24 (stigtersborg), met verdere ondersteuning deur die Het Jan Marais Nationale Fonds, die Oudtshoorn-munisipaliteit, Basa, DCAS, RSG, Via en Netwerk24.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.