Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
‘Vaslav’ is gehaltekuns
Godfrey Johnson in ‘Vaslav’.Foto: Claude Bernardo

Vaslav

Fugard-teater, Kaapstad

****

Tot in sy pinkie is die kunstenaar-pianis Godfrey Johnson ekspressief.

Die sielvolle, meelewende uitdrukkingskrag in sy gesig, hande en lyf is gepas, want die onderwerp van sy eenmanstuk is Waslaf Nijinski – ’n toonaangewende kunstenaar wat sy als uitgeleef het in sy kunstenaarskap.

Die eenmanstuk Vaslav karteer die lewe en roem van dié Pools-Russiese balletdanser (1890-1950), wat beskou is as die grootste danser van sy tyd – nie net was hy ’n balletvoorvader nie, maar ’n kunstenaar by wie ander meesters soos Rudolf Nureyev gaan kers opsteek het.

Voor hom was mans net die kragtige stut vir ballerinas op die verhoog; ná hom was mans ’n volwaardige teenwoordigheid en karakter in balletkuns.

Hy het sy plek met magnetisme en atletiese vernuf op die planke ingeneem en gehore aan sy voete gehad.

’n Vinnige internetsoektog lewer onder meer sy bekende vertolking van die bosgod op, asook Strawinski se Rites van Lente in 1913 in Parys waarvoor Nijinski die choreografie gedoen het. Laasgenoemde het vanweë die avant garde-aanslag in musiekkomposisie en choreografie opslae gemaak en word as ’n kunsmerker beskou.

Die teaterganger ontmoet Nijinski­ hier in ’n hospitaal vir mense met geestesversteurings – op die jong ouderdom van 28 is skisofrenie by hom gediagnoseer. Dit terwyl hy “vir die eerste keer so lewend gevoel het”. Dit is ’n gebroke mens wat voor jou sit, wat hortend na woorde soek, maar steeds vlymskerp en helder kommentaar lewer op die lewe en kuns.

Johnson vertolk al die karakters – hy praat direk met die gehoor, punktueer sy herinneringe aan sy kinder- en gloriedae met klavierspel; soms word die klavier disharmonies wanluidend of meevoerend op galop in die uitbeelding van dié wonderdae. Met fyn behendigheid voer Johnson die gehoor mee van die pieke van die danser se loopbaan tot die moerasse van verlatenheid.

Lara Bye se regie is net so fyn ingestel. Die teks en minimalistiese inkleding, asook die klankbaan – ’n kunswerk op sigself – is gehaltekuns.

Vaslav is ’n belewenis. Dit is ’n ondersoek na ware kunstenaarskap, die tragiese wendings van ’n lewe en die uitkoms wat die kunste keer op keer bied aan ons gewone sterflinge.

Johnson se oorgawe raak eers jou siel en dan jou hart. Nijinski se lot soos hier met soveel piëteit belig sal min teatergangers onaangeraak laat.

Laat ons ons kunstenaars eer.

Tot 17 November.

.

Meer oor:  Vaslav  |  Teater  |  Fugard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.